Carina aan die woord by Aliwal-Noord.
Gegroet uit die Suid-Kaap. Ons is almal gesond en goed aan die gang. Wat ‘n genade!
Ons is regtig dankbaar om op besoek te kan wees in Suid-Afrika, om te kan terugvoer gee en dankie sê, te rus én om ons ondersteuning vir die volgende termyn uit te bou. Dis ‘n voorreg om bemoedig te word deur baie ondersteuners wat as medewerkers hierdie visie deel, al is dit hierdie keer midde-in die pandemie met unieke uitdagings. Hieronder is ‘n paar foto’s wat die storie vertel van sommige ontmoetings (in Stellenbosch, Bloemfontein, Humansdorp, Drie Riviere en Stilbaai).
Ons is reeds verby die halfpad merk wat besoeke aanbetref en het net minder as twee maande oor in die land. Ek het ‘n paar dae gelede tuisgekom ná ‘n twee weke lange besoek aan Gauteng, Noordwes en die Vrystaat. Aan die einde van ons besoek hier in SA sal ons meer in detail terugvoer gee oor alles. Hier is enkele datums van gemeente besoeke wat nou voorlê:
- 12 SEPT: NGK SWELLENDAM
- 19 SEPT: NGK WELGEMOED
- 26 SEPT: NGK TABLEVIEW
- 3 OKT: NGK BUFFELJAGS
- 10 OKT: NGK GROOT-BRAK
- 17 OKT: NGK BREDASDORP
Die meeste van die bg. besoeke is op Sondae by gemeente eredienste. Maar, daar is ook baie besoeke aan ander gemeentes, individue en kleingroepe wat tussen-in die bg. datums beplan word. Missie Japan se belangrike jaarvergadering vind ook plaas tussen 11-14 Oktober in Stilbaai. Bid asseblief saam met ons vir al die ontmoetings.
Ons is opnuut bewus: daar is net een liggaam van Christus en net een Gees, soos daar net een hoop is waartoe God ons geroep het (Efes. 4). Ons deel wêreldwyd een geloofstaal, te midde van radikale verskille. Ons nooi jou opnuut uit om saam met ons uitvoering te gee aan die opdrag om in Japan te getuig. Bou saam voort op die lang vennootskap met die NG Kerk-familie (én ander kerke in Suid-Afrika), vanuit Japan en spesifiek met die RCJ (Reformed Church in Japan).
Word verryk en verruim deur meer te leer oor jou broers en susters in Japan, aan die uithoek van Asië. Die Here self, deur Sy Gees alleen, maak hierdie werk moontlik en Sy sorg en genade vir Missie Japan, maak ons diep dankbaar. Dit vul ons ook met verwagting en hoop vir die toekoms. Dankie vir jou aandeel hierin!
Vrede en vreugde, in Christus.
Stéphan, Carina en gesin




