Veilig in Johannesburg aangeland

Groete uit die Suide van Suid-Afrika …

Ons het op 4 Junie veilig in Johannesburg aangeland. Danksy die oop hande en harte van goeie vriende, was die landing sag en kon ons gemaklik die lieflike lang pad deur die Karoo vat, met kinders se oë wat rek vir Koedoes en nog wat. Ons het die eerste 10 dae in Stilbaai afgesaal en tot verhaal gekom met ‘n goeie skeut vars waardering vir ons tuisland!

Om albei van ons (my en Carina) se ouers en ander familielede gesond en in lewende lywe te sien, is ‘n groot genade. Ons kuier in die dae by my ouers in Humansdorp, waar die kinders verál die tydjies op die (familie) plaas geniet. Alhoewel ons gesin op ‘n streep deur ons eerste rondte verkoue moes deurwerk, is almal nou in een stuk en gesond. My (tweede) Covid-toets was genadiglik negatief. Carina is gesond en gaan tussendeur ook met ons kinders te tuisonderrig voort, al is dit nou met ‘n aangepasde ritme en  inhoud.

Verlede Sondag (20 Junie) het ons besoek program afgeskop by die erediens van Impetus gemeente (in Gqeberha). Ek het ook die afgelope dae kontak gemaak met heelwat gemeentes oor ons besoeke in die volgende maande. Dit sal meestal in persoon gebeur, waar nodig aanlyn, en/of in kombinasie. Intussen het ek ook besig gebly – in samewerking met Missie Japan kantoor in Bloemfontein – met die saamstel van ons bemarkingsmateriaal wat ons tydens besoeke wil versprei. Die opkomende naweek (25-26 Junie) neem ek deel aan ‘n internasionale (aanlyn) konferensie, georganiseer vanuit die Fillipyne en Korea.

Vanaf 28 Junie neem ons verlof en sien ons uit om dieper tot rus te kom. Middel Augustus tot middel September neem ek ook studieverlof, maar dis ‘n tyd wat ook ander vergaderings (o.a. oor diakonale projekte) en geleenthede om lesings aan te bied by Teologiese Fakulteite, sal insluit (wat nog geskeduleer moet word). 

Die voorlopige skedule van besoeke wat voorlê – met in ag neming van COVID onvoorspelbaarhede wat dinge kan omvergooi – is soos volg:

  • 27 JUNIE:  NGK HUMANSDORP
  • 18 JULIE:  NGK LA ROCHELLE
  • 25 JULIE:  NGK STILBAAI
  • 1 AUG:     NGK STELLENBOSCH-WES
  • 8 AUG:     NGK ALIWAL-NOORD
  • 15 AUG:   NGK HEROLDSBAAI en GEORGE-SUID
  • 22 AUG:   NGK STELLENBOSCH-MOEDER en KRUISKERK
  • 26 AUG:   GEREFORMEERDE KERK GEMEENTES DRIE RIVIERE
  • 29 AUG:   NGK HOOPSTAD
  • 5 SEPT:    NGK BERG-en-DAL (BLOEMFONTEIN)
  • 12 SEPT:  NGK SWELLENDAM
  • 19 SEPT:  NGK WELGEMOED
  • 26 SEPT:  NGK TABLEVIEW
  • 3 OKT:     NGK BUFFELJAGS
  • 10 OKT:   NGK GROOT-BRAK
  • 17 OKT:   NGK BREDASDORP

Die meeste van die bg. besoeke is op Sondae by gemeente eredienste. Natuurlik is daar ook besoeke aan ander gemeentes, individue en kleingroepe tydens weeksdae wat nog beplan word.

Missie Japan se belangrike jaarvergadering vind ook plaas tussen 11-15 Oktober in Stilbaai. Ons sien uit om soveel moontlik familie, vriende en ondersteuners te sien in die tyd wat kom. Baie dankie dat ons op jou gebede en ondersteuning kan staat maak. 

Vrede en sterkte in die derde vlaag se kruin! Ons leef in verbondenheid mee.
Stéphan