Een van 2200 ramp-skuilplekke vir amper 400 000 slagoffers
Beste vriendin/vriend,
Sedert verlede Saterdag-oggend is al wat ek op die radio hoor wanneer ek in die motor ry iets soos volg: “Van Tanaka Amiko* wat nou is by Umi-straat 4, in Takayama-buurt, Miyagi-provinsie. Aan Sanada Maki wat gewoon het in Yama-straat 6, Kawa-buurt, Miyagi-provinsie: ‘Ma, ek is veilig, waar is julle? Bel my!’”… *Alle name en adresse is fiktief.
Oorlewendes wat naarstigtelik op soek is na hul naastes. Sommige word gevind. Ander …
Die pyn van verlies skeur tot in die diepste vesels van ontelbare mense, van ‘n hele nasie. Verliese van geliefdes, lewensraad, leef-ruimtes, en nog veel meer…hierby gaan ons nog jare lank saam sprakeloos moet stilstaan en die seer deurleef en herleef.
Maar intussen, net soos die verwoestende ramp en die beelde daarvan in die massa media mens kan oorweldig, begin ons ook om oorspoel te word deur al die deernis en omgee en die getroue gebede en finansiële bydraes vir die mense in Japan. Geloof gaan in liefde oor tot aksie. Daarvan getuig ook die méér as 500 e-posse wat ek in die eerste 4 dae na die ramp ontvang het…en dit stroom steeds in. Baie dankie daarvoor! Dit dra ons, en dit hou ons sinvol besig – om in hierdie brug-posisie te wees (spesifiek tussen Japan en Suid-Afrika) is ‘n voorreg vir ons as gestuurdes (sendelinge).
Ons deel jou/julle omgee-uitreik met ons broers en susters hier in Japan – met Christene en nie-Christene. En ons is ernstig in gesprek met die leierskap van die Gereformeerde Kerk in Japan (RCJ) – ons jarelange vennote – oor hoe om ook saam met hulle (en andere) hande te vat om fisies na die ramp-slagoffers uit te reik. Ons laat ons hierin lei deur die kerkleiers se besluite en versoeke: hulle is nog besig om die dringendste behoeftes te bepaal en besoek so gou moontlik die ramp-gebied. Dit word bemoeilik deur verskeie faktore. Ons gee weer terugvoer sodra ons meer weet.
Hier volg enkele gebedsversoeke vir die ramp-geteisterde slagoffers en situasie:
1) Duisende mense wat die verlies van geliefdes en materiële dinge (huis, land, besittings, werk, inkomste ens.) moet hanteer. Baie kinders is ouerloos, volledige families is uitgewis, bewerkte en bewoonde land verpletter, sowel as feitlik alle infrastruktuur in erg geteisterde gebiede.
2) Duisende mense is beseer en word versorg in beknopte fasiliteite sonder die basiese benodighede en personeel. Te midde van laat-winter koue leef reuse getalle mense in skuil-fasiliteite met min (indien enige) verhitting, en beperkte toegang tot water, kos ens.
3) Miljoene mense leef met die vrees vir potensieël lewens-bedreigende bestraling van die beskadigde kernkrag-stasies. Baie het reeds die land verlaat (enkele sendelinge waarvan ons weet in die Tokyo-gebied ingesluit).
4) Tienduisende mense (kinders en bejaardes ingesluit) is sielkundig, sosiaal en geestelik-emosioneel baie diep verwond – baie het geen of baie skraal toekoms-vooruitsigte en hoop nadat hulle ALLES verloor het!
5) Honderde regerings-instansies en amptenare, NGO noodlenigings-organisasies en spanne (ook van oorsee) is daagliks (dag en nag) betrokke by uitmergelende reddingswerk
6) Die res van Japan (ook ons wat ver weg is van die geteisterde gebiede) ervaar al die lyding en trauma van ons naastes oor en oor soos wat ons dit volg in die massa media.
7) Die leiers van Japan en in die geteisterde gebiede wat hierdie grootste ramp sedert die tweede wêreld-oorlog moet help hanteer.
8) Al die kerke van Japan (leraars, lidmate, sendelinge) wat die geleentheid het om te reageer met hoopvolle moed en deernis (fisies, sielkundig en geestelik-emosioneel) teenoor ons naastes, die slagoffers en die res van Japan.
9) Die kerk in die res van die wêreld wat alles baie duidelik kan dophou via massa media, en wat vele kanse het om te reageere op die lyding van hulle medemense hier in Japan.
10) Baie Christene (veral kerkleiers en sendelinge) wat leef in die geteisterde gebiede, wat wysheid en bemoediging nodig het om te kan getuig van God se genade, en om hulle (ons) geloof in liefde tot dade te laat oorgaan teenoor hulle (ons) slagoffer-naastes.
Baie dankie dat ons kan staatmaak op jou gebeds-ondersteuning!
Gedring deur God se liefde …
Stéphan, Carina, Annlie en Cornelius
(Ook namens Tobie en Annalie de Wet, wat die gebedsitems deurgegee het)