Ramp-flits | “Moenie bang wees nie, Ek verlos jou …

Op soek na iets in die verwoesting

Beste vriend/vriendin,

Baie dankie vir die wonderlike ondersteuning, bemoediging en voortgaande gebede.

Indien jy nog gewonder het: ons as gesin is – op dié stadium – ongeskonde. Só ook die ander sendeling-gesinne van Missie Japan (Gys en Linda Olivier en Tobie en Annalie De Wet) op Shikoku-eiland.

Ons kry stuk-stuk nuus oor Christene/gemeentes wat ons ken in die erg geteisterde Sendai-gebied. Party is veilig, maar daar is nog oor baie ander mense onsekerheid. Groot krag-onderbrekings en ‘n tipe beurtkrag-stelsel word verwag vanaf vandag. Die moontlikheid van radio-aktiewe vrystellings vanuit defektiewe kernkrag-sentrales verhoog angsvlakke. Intussen word liggaam op liggaam verwyder uit motors en huise wat verskeur is en versink het in die tsunami-vloedgolf. Nog minstens 10 000 mense word vermis …

Dis vroeg Maandag-oggend hier…ek is al ‘n tydjie op om te probeer vir ‘n paar oomblikke stil te raak, ‘n massa e-posse te antwoord, en dan my taalstudies voort te sit ens….die normale roetine van ‘n weeksdag … maar hierdie keer is dit met ‘n verskriklike klomp malende beelde in my gedagtes en gevoelens in my binneste, van die verguising wat ontelbare mense se lewens oorweldig het en die skepping hier naby verskeur het … en ‘n verhoogde waaksaamheid vir wat nog mag voorlê.

Ek lees in Jesaja 43:1-3 o.a. “Moenie bang wees nie, Ek verlos jou … As jy deur water moet gaan, Ek is by jou…want Ek is die Here jou God…jou Redder.” En ek bid dat daar uit hierdie ellende en hartverskeurende pyn ontelbare mense sal wees wat die God van hierdie versekering sal aanneem, en wat vir die eerste keer sal weet: “swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.” (Romeine 5:3).

Baie dankie dat jy saam bly bid en waak…

Vrede

Stéphan, Carina, Annlie en Cornelius