Bemoedigende besoek – Belowende vooruitsigte

Wat ’n bemoedigende week van betekenisvolle interaksies, diep gesprekke en stimulerende samesyn! Ons is opreg dankbaar vir die pasafgelope, amptelike besoek van ons Missie Japan leiers, Dr Nico Mostert, Ds Gawie Gouws en Dr Daniël de Wet (7-17 Maart). Ons langdurige vennootskap met die plaaslike Reformed Church in Japan (RCJ) is inderdaad versterk! 

Lees meer oor hierdie venootskap met die RCJ

Hierdie nuusflits se doel is tweeledig:
  • Om ‘n kort video te deel wat terugvoer gee oor die onlangse besoek van ons drie Missie Japan leiers. Gebruik dit gerus in jou kleingroep of gemeente / erediens, as terugvoer oor Missie Japan se werk.
  • Missie Japan se bestuur het ‘n belangrike brief gerig aan ondersteuners soos jy. Lees dit hieronder en deel in die terugvoer oor hulle pas afgelope besoek aan Japan.
Verder wil ons vra, bid asseblief saam dat die Here ons met wysheid en krag sal toerus en self die geleenthede sal bly voorsien vir die uitbreiding van Sy koninkryk in Japan. Die werwingsproses vir moontlike nuwe sendeling kandidate vir Missie Japan begin binnekort.

Ons waardeer jou omgee en ondersteuning as medewerker!

Vrede en vreugde,
Stéphan, Carina en gesin

18 Maart 2025

Liewe Ondersteuner/Voorbidder/Vriend(in) van Missie Japan (MJ)

Terugvoer van pas afgelope besoek aan Japan

Dit is ‘n voorreg om julle te groet na afloop van ‘n baie geslaagde besoek aan ons sendelinge in Japan. Tydens die 2024 Algemene Jaarvergadering is daar besluit dat ‘n besoek aan Japan nodig is. Hierdie besoek het die volgende ten doel gehad: 

  1. Die samewerkings ooreenkoms tussen MJ en die Samewerkende Sending Kommissie van die Ring van Shikoku van die RCJ, is in die proses om heronderhandel te word. Die Bestuur van MJ en die Kommissie het oor die afgelope 2 jaar gereelde vergaderings op Zoom gehad om ‘n konsep dokument voor te berei. Hierdie konsep dokument moes gefinaliseer word sodat die Ring van Shikoku dit kan goedkeur einde April 2025. Dan het die Kommissie ook versoek dat nog ‘n sendeling egpaar na Japan gestuur word om in die Shikoku Ring te werk.
  2. Die 3 jaar tydperk van Tobie en Annelie de Wet loop ten einde Februarie 2026. Daar was ‘n versoek tot gesprek van die Kommissie af om die werk te Niihama te evalueer en te praat oor hulle terugkoms van Suid Afrika.
  3. ‘n Evaluerings gesprek met die Westelike Ring van die RCJ en die personeel van Kobe Reformed Theological Seminary (KRTS) oor Stephan en Carina se werk was nodig.
  4. Dan bly die bemoediging en geestelike versorging van ons sendelinge op die veld prioriteit vir MJ.

Tydens die Algemene Jaarvergadering in 2024 is daar ‘n werwings-taakspan aangewys onder leiding van Ds Gawie Gouws van Swellendam. Die versoek vir nog ‘n sendeling egpaar vir Japan is in beginsel verlede jaar deur MJ bestuur aanvaar. Die nuwe samewerkingsooreenkoms beskryf ‘n proses van werwing en keuring wat ‘n gesamentlike proses tussen MJ en die Kommissie van Shikoku is. Die afgelope 10 dae was Dr Nico Mostert, Dr Daniel de Wet en Ds Gawie Gouws op besoek aan Japan met die doel om hierdie werwings proses af te skop met ‘n ontmoeting om die tydlyn uit te klaar en finaliteit te kry oor wie van die Shikoku kommissie deel van die werwings taakspan sal wees. Ons vra u voorbidding vir hierdie belangrike proses en ons sal u op hoogte hou hoe die proses verloop.

Daar is so net minder as ‘n jaar oor van die 3 jaar tydperk wat Tobie en Annelie werksaam is as brug sendelinge in die Ring van Shikoku. Hulle is deur die Ring geplaas in die sendingpos van Niihama gemeente waar daar 4 lidmate is. Hulle werk daar was baie geseënd en ons is begroet met positiewe, diepgaande getuienisse van hartsverandering en 3 nuwe mense wat op gereelde basis die erediens en Bybelstudie geleentheid bywoon. Die Ring het besluit dat met die verstryking van die De Wets se 3 jaar periode, daar gepoog sal word om ‘n afgetrede Japannese leraar van die RCJ in Niihama te plaas om die werk daar voort te sit.

‘n Versoek is gerig dat die De Wets aanbly en binne ‘n nuwe gemeente hulle werk voortsit. Hierdie versoek bring ‘n hele klomp oorwegings op die tafel wat fyn onderskeiding van MJ en die De Wets gaan vra. Ons wil graag vra dat u saam met ons in gebed verkeer rondom hierdie nuwe versoek. Die Ring van Shikoku vergader weer die einde van April waar die saak op hulle agenda gaan dien vir meer konkrete oorweging aan hulle kant. Daar oorwegings soos voortgesette finansiële ondersteuning (MJ sou nog 1 jaar kan help met ondersteuning vir hulle), moontlike verhuising, plasing by ‘n gemeente, die Ring van Shikoku se ondersteuning ens. U voorbidding word hoog op prys gestel! 

Ons het vir 2 dae ‘n retraite aangebied vir ons sendelinge. Dit was ‘n heerlike tyd van saamsing, stil word rondom die Woord, gebed en kuier in die park (al was dit koud). Ons het stilgestaan rondom die temas van ontnugtering met die verhaal van Jona (Jona 4) en onderskeiding uit die brief aan die Filippense (Fil 1:3-11).

Die kinders word groter en het (soos in alle gesinne) elkeen hulle unieke uitdagings. Die Van der Watts beleef ook verskeie nuwe uitdagings met Anlie wat in 2026 haar skool opleiding voltooi en universiteit toe gaan. Stéphan se werk as dosent by die Kobe Gereformeerde Teologiese Skool word baie goed ervaar deur die Westelike Ring en sy kollegas. Carina is ook betrokke by ander bedieningstake in hulle plaaslike gemeente saam met die tuisonderrig van die kinders. Ons het net weer diep bewus geword van die taak in Japan en die werk wat die Van der Watts doen. Ons dank die Here saam met hulle vir hulle roeping daar en ook die bydra wat hulle maak tot die werk KRTS en die RCJ.

Ten slotte

Ons dank u vir u volgehoue ondersteuning van Missie Japan. Dit het net weer tydens ons besoek duidelik geword dat die Here bevestig dat ons steeds ‘n roeping in Japan het. Die bykans 1% Christene in Japan (waarvan die RCJ deel is) kan nie hierdie getuienistaak alleen verrig nie. Hulle het ons (en ander vennote van regoor die wêreld) nodig. Bly bid vir Japan, sendelinge in Japan, die kerk in Japan en vir die sendingorganisasies (soos Missie Japan) dat hulle die nodige hulpmiddele en ondersteuning sal hê om juis hierdie taak voort te sit.

Dit als gesê, is daar by almal van ons ‘n diepe dankbaarheid teenoor God as die Gewer en Onderhouer van die lewe. Ons staan maar net verslae en dalk ook verleë, as ons sien hoe die Here ons ondersteuners én ons sendelinge hierdie afgelope jaar gedra het en ook voorsien het in baie behoeftes! Al wat ons kan sê is: Soli Deo Gloria!

In Christus

Dr Nico Mostert
Sekretaris: Missie Japan