Ek gebruik nie gewoonlik onnodig baie uitroeptekens in sinne nie, maar wees gewaarsku, hierdie nuusflits is ‘n uitsondering!
Die wêreld kom Osaka toe, op ons voorstoep, binne 5 dae. Daar is vars energie oral in die lug! Dit voel kompleet soos ‘n sprokieswêreld van pienkwit (kersie)bloeisels net waar kyk. Vir party Japanners bring dit ‘n tikkie verligting te midde van hemelhoë rys pryse (tans gemiddeld R113 per kilogram!) en die nagmerrie van Trump tariewe. Onder dié uitdagings het alles en almal ontwaak uit ‘n lang winterslaap en is nuwe lewe in oorvloed oral om ons.

Onder dié uitdagings het alles en almal ontwaak uit ‘n lang winterslaap en is nuwe lewe in oorvloed oral om ons. In die nuusflits vier ons hierdie seisoen van groei en nuwe begin. Buiten die (akademiese) jaar wat in April afgeskop het vir ons nuwe studente by ons kweekskool in Kobe, was daar ook ‘n rits gaste by ons aan huis met die draai van die Sakura seisoen. Hieronder is foto’s van ons voorbereidings vir en viering van die nuwe begin.







Terloops, as jy meer wil weet oor die manjifieke magdom soorte kersiebloeisels, lees meer onder die Japannese kultuur onderdeel op ons nuwe webtuiste.
… en daarmee dan, die eenvoudige doel van die nuusflits: om jou te verwelkom by ons splinternuwe webtuiste! Dis propvol terugvoer, video’s, podcasts, getuienisse en veel meer. Bly op hoogte deur in te skryf vir vars nuus. Deel ook die inhoud onder jou vriende, kleingroep of gemeente.
Of stuur sommer die PDF poster aan na iemand wat dalk belangstel om meer van Missie Japan se werk uit te vind.
Ons is dankbaar om vandag presies 16 jaar in Japan te dien. Die webtuiste getuig in kleur en geur, in meer as 250 plasings, van die hoogte- en laagtepunte, dieptes en dimensies wat ons hier beleef (het). En alle nuutste nuus is in beide Afrikaans en Engels beskikbaar. Carlie Niehaus van die NG Kerk Vrystaat Sinode se media-span verdien ‘n medalje vir haar groot werk om die formaat en styl van die webtuiste inhoud uitstekend te versorg.
Laastens, baie dankie vir die lang pad wat soveel medewerkers soos jy met ons saamstap, deur dik en dun. Dit is en bly ‘n spanpoging! Ons is deel van één liggaam, met één hoop, één doop en één Here, Jesus Christus. Alle eer van God!
Vrede en vreugde, met die oog gerig op Paasfees wat kom.
Stéphan, Carina en gesin
(ook namens Tobie en Annalie de Wet)
