Daar is ‘n ellelange lys van goed waaroor ek kan terugvoer gee. Die afgelope tyd was propvol aktiwiteite vandat ons jaar (amptelik) in April afgeskop het in Japan. Nie dat daar ‘n kat se kans was vir leeglê tussen Januarie en Maart nie! Maar, eerder as om in detail oor alles te probeer uitbrei, vertel die foto’s hieronder self die storie.
Ek fokus daarom net op een bediening: ’n onlangse retreat vir jong werkendes, waar ek (Stéphan) die hoofspreker was. Meer as 90 jongmense het saamgetrek in Gifu area, nie te ver van waar ek nou is, vir die Reformed Church in Japan se jaarlikse sinode nie. My aanbiedings by die retreat het gefokus op wat dit beteken om voluit ‘Ja’ te sê vir die lewe—in Christus—in alle omstandighede.
Pinkstertyd het ons pas herinner dat die werk van die Heilige Gees in menselewens verstommend bly. Ek het dit weer opnuut besef toe ek die volgende boodskap van een deelnemer ontvang het, ná die retreat: “My naam is Toshiko, ons het mekaar by die jeug retreat ontmoet ‘n paar dae gelede. Jou aanbieding het ’n blywende indruk op my gemaak, veral toe jy gesê het: ‘Dis goed om net jouself te wees, maar as jy net so bly, groei jy nie.’ Daardie woorde het my regtig diep geraak want dit het my moed gegee, ek waardeer dit opreg … Met hierdie e-pos wil ek graag ‘n paar goed deel en vra. Eerstens wil ek graag meer leer oor geloof, teologie en waarheid … verder wil ek meer oor die kerk leer. Ek het voorheen eredienste bygewoon, maar weens verskeie probleme met die leraar kan ek tans nie die kerk bywoon nie. Hierdie situasie het my laat wonder: ‘Wat is die kerk regtig?’ … Is daar iets wat jy kan aanbeveel om my hiermee te help?”
Die Here gebruik een (onbeplande!) sinnetjie uit 3 ure van aanbiedings, om ‘n saad te plant in iemand se gedagtes. Soos Paulus tereg sê in 1 Korintiërs 3:6: “Een plant, een maak nat en God sorg vir die groei.” Terloops, weet jy hoeveel generasies Christene voorheen in jou familie was? In Japan is meeste mense eerste of tweede generasie Christene. Die behoefte om te leer wat Christenwees beteken is diep en wyd.
Bid saam met ons vir groei en vir die kragtige werk van die Heilige Gees in soekers soos Toshiko se lewens. Neem opnuut saam deel—as een liggaam van Christus—aan God se groot getuienis in die wêreld. (*Toshiko is ‘n skuilnaam. Haar epos is hier verkort). Lees meer oor die bedieninge waarin ons deel by https://missionjapan.co.za , asook by https://www.facebook.com/missiejapan
Jou gebede, ondersteuning en belangstelling bemoedig ons diep.
Vrede en vreugde, in Christus.
Stéphan, Carina en gesin; ook namens ds. Tobie en Annalie de Wet (RCJ Niihama)
Braai vir ons studente @KRTS




Kobe kweekskool (KRTS) hou jaarlikse retreat




Iets van Alles

# Tobie by RCJ sinode

# Ete by pastorie

# Kuier met familie uit SA

# Stephan se rugby span
Hoe ploeg jy ‘n rysland voor jy plant?

# Cornelius in sy element

# Rysland rugbytoernooi