Beste ondersteuners,
“Waar was jy die vakansie?” Vir meer as 30 jaar sou die antwoord op die vraag vir my meestal iets met die see en somerson te doen hê. Hierdie afgelope feestyd was dit anders! Uitbundig het Annlie (en die res van ons) gereeld uitgeroep: “Ons gaan onsen toe!”
Hier in Tokushima omgewing, soos in die res van Japan, is vele warm waterbronne – oftewel onsen – waar mens lekker kan uitspan in gemeenskaplike baddens. Kliek gou hier vir ‘n foto. Dit was deel van ons kuier-en ontspantyd saam met Nico (Carina se jonger broer) wat uit Suid-Afrika kom kuier het. Hy het met ‘n tas vol geskenke aangeland … in kort: ons het ‘n feestelike kersfees- en nuwejaarstyd beleef! Dit was verfrissend anders, alhoewel nie sonder oomblikke van nostalgie en verlange na die somer vakansietye van vervloeë dae nie …
TERUGflits is die naam van hierdie skrywe. Die doel is om saam met jou ‘n oomblik terug te kyk oor enkele van die afgelope twee jaar se hoogte- en dieptepunte in ons lewe, en God daarin raak te sien. Nadat ons in Desember 2007 die eerste keer bewus geraak het van hierdie roeping na Japan, het o.a. die volgende gebeur:
- Aanvanklik het gelowige vriende en familie vir 6 maande saam met ons biddend onderskei wat ‘n moontlike lewensroeping na Japan vir ons mag inhou.
- Gedurende Julie 2008 het Missie Japan se leiers – saam met ons – in geloof besluit om hierdie roeping te deel met soveel as moontlik potensiële (gebeds- en finansiële) ondersteuners.
- Daar was geen finansies in plek hiervoor nie, en dit was ekonomies ‘n baie strawwe tyd om so ‘n reuse onderneming aan te pak – dit het begin met ‘n R50/maand bydrae van ‘n afgetrede egpaar (wat steeds getrou voortgaan!).
- Vir die volgende 7-8 maande het ons (meestal as gesin) meer as 100 gemeentes / groepe besoek, hoofsaaklik in die Wes-, Oos- en Suid-Kaap en Vrystaat.
- Ons het duidelik ervaar hoe die roeping op verskeie maniere bevestig en versterk is, en het met ‘n wonderlike, diverse groep medewerkers verhoudings begin bou – ons is tans bevoorreg om hierdie nuusbrief vir meer as 1200 mense te stuur.
- Gedurende April 2009 het ons (Annlie was toe amper 2jr oud en Carina amper 7 maande swanger met Cornelius) na Tokushima geskuif.
- Ons is met warm gasvryheid en omgee ontvang deur ons nuwe tuisgemeente, wat ook (d.m.v. twee gesinne onderskeidelik) vir ons ‘n gratis motor en huis voorsien het!
- Die eerste 4 maande na Cornelius se geboorte was taai. Sy baie skaars metaboliese siekte leer ons steeds dieper afhanklikheid van God. Sy doop in Desember was ‘n groot hoogtepunt!
- Maar die afgelope 9 maande het ons intens ervaar hoe die Here ons versorg t.m.v. reuse aanpassings en uitdagings. Die ondersteuning van ons wêreldwye geloofsfamilie het ons gedra. Carina se ouers was en is fantastiese steunpilare!
- Ons huidige primêre taak en fokus is Japannese taalstudie. Dit het vermenigvuldig van een dosent en een klas per week na 5 dosente en 5 klasse per week.
- Laastens kon ons ook reeds baie gemeentes besoek op Shikoku eiland, en sinvolle verhoudings bou met kerklidmate en nie-Christen vriende.
Missie Japan is ‘n geloofsaksie wat al amper 40 jaar volledig afhanklik is van vrywillige ondersteuning. Ons is altyd duidelik daarvan bewus dat lang-termyn, volhoubare ondersteuning nie iets is wat ons self kon/kan genereer nie.
Daarom is hierdie terugflits ‘n klein verhaal oor God se groot sorg, en geen selfgemaakte sukses storie wat roem met hande in die lug nie. Al was ons die afgelope twee jaar dikwels vasgevang tussen magteloosheid, moegheid en onsekerheid, was ons nooit verlate of sonder Christus se genade en hoop nie – dit was en is vir ons genoeg (2 Kor. 12:9).
Vier asseblief hierdie vreugde en dank saam met ons in 2010!
Vrede
Stéphan, Carina, Annlie en Cornelius*
*Ons besoek Vrydag weer ons pediater vir ‘n baie belangrike ondersoek van Cornelius. Hy groei baie goed en lyk op die oog af gesond. Indien sy bloed se ammoniakvlakke bevredigend gestabiliseer het, kan sy medikasie begin verminder word. Bid asb. saam met ons vir hom.
** Kliek gou hier vir ons nuutste familiefoto – met die kinders in tradisionele Japanese drag!