Beste ondersteuners,
Gegroet uit ‘n bibberkoue Tokushima. Die afgelope naweek het die sneeu hier liggies geval, so ‘n wit kersfees (hier naby die see) is dalk nog ons voorland…
Twee van die afgelope maand se hoogtepunte was ‘n Japannese taaleksamen wat ek geskryf het, en Cornelius se doop. Die eksamen was ter wille van die ervaring, en ek het die baie waardevol gevind om die afgelope drie maande spesifiek daarvoor ekstra voorbereiding in te sit. Cornelius se doop verlede Sondag was baie besonders, veral omdat baie van ons Japannese vriende die ervaring kon deel met ons (vir baie van hulle was dit ‘n eerste geleentheid in ‘n kerk, en pa Tobie het ‘n treffende kersboodskap gelewer). Kliek hier om enkele foto’s te sien.
Eerskomende Woensdag is daar ook ‘n spesiale kersfees viering met musiek, speletjies ens … ons sien baie daarna uit! Bid ook asb. saam met ons dat die ware betekenis van Kersfees op dié manier nuwe mense sal bereik.
Laastens en die belangrikste: Daar is in ons as gesin se harte diep dankbaarheid vir elkeen wat ons vanjaar ondersteun het, op watter manier ookal. Ons waardeer die pad wat jy gestap het saam met ons en sien daarin God se trou en sorg. Daarsonder is ons lewe en werk hier onmoontlik …
BAIE DANKIE!
Ons bid dat jy in hierdie dae opnuut verryk sal word deur die viering van Christus se geboorte!
Vrede en vreugde
Stéphan, Carina, Annlie en Cornelius
NS 1: Ons kon ‘n tydjie gelede vir ‘n paar dae nie e-pos ontvang nie … as ek dalk nie gereageer het op ‘n navraag nie, stuur asb. weer.
NS 2: N.a.v. my vorige nuusflits het ek terugvoer gekry dat veral tieners en werkende jongmense die manga Bybel baie sinvol vind en geniet, juis omdat die beelde daarin die boodskap nog meer effektief kommunikeer aan hulle. Chris Johnsen van Christelike Uitgewers Maatskappy (CUM – www.cum.co.za) in SA het laat weet dat die Bybel en nuwe verwante manga nou beskikbaar is … miskien het jy nog nie ‘n idee vir ‘n kersgeskenk nie, en kan dit help!