Ek skryf die brief met gemengde gevoelens, oor ons beplande besoek aan Suid-Afrika.
Besoek uitgestel
Ons sou oor 3 weke vertrek het, maar a.g.v. die pandemie is daar by ’n onlangse vergadering van Missie Japan bestuur besluit dat dit vanjaar onmoontlik is. Lees asb. die amptelike brief van dr. Nico Mostert (Missie Japan sekretaris) hieronder.
Ons is natuurlik teleurgesteld want ons het lank uitgesien en beplan aan die drie-jaarlikse deputasie. Maar dis onafwendbaar en ons bly hoopvol dat ons kan herskeduleer vir 2021. Aanpasbaarheid, volharding en geduld: daaroor leer ons opnuut iets in dié tyd, saam met jou!
Belangrike versoek
Kan ek baie mooi vir almal met wie ons reeds afsprake gemaak het – vir gemeente besoeke: of julle wel op die beplande datum wat ek daar by julle sou kom draai, asseblief steeds 5 minute in die erediens (hetsy aanlyn of in die kerkgebou) kan oophou om ’n video te wys oor ons werk en lewe hier – as terugvoer aan julle gemeente? En dan gesels ons weer DV later vanjaar, oor 2021 se moontlikhede.
Intussen hier …
Ons gedagtes en gebede is deurentyd by julle, ons geliefde susters en broers in Suid-Afrika. Met ons as gesin gaan dit goed verder. Heelwat meer van ons lewe en bediening gebeur nou virtueel (aanlyn), van vergaderings tot jeug-saamtrekke. Maar meeste klasse by KRTS gaan nog in persoon voort, met streng matreëls in plek om almal se gesondheid te probeer beskerm.
Ons waardeer jou volgehoue gebede en ondersteuning!
In verbondenheid.
Stéphan, Carina en kinders


MISSIE JAPAN: NUUSBRIEF UIT DIE HOOFKANTOOR
Dit is skaars 2 maande terug dat ons julle hier vanuit die kantoor in Bloemfontein gegroet het waar ons toe aan die begin van die Covid-19 pandemie gestaan het. Toe reeds het ons besef dat hierdie pandemie ‘n groot invloed gaan hê op al die werksaamhede van Missie Japan vir 2020, die invloed van hierdie virus is ingrypend.
Hierdie kort nuusbrief se doel is juis om u as ondersteuners op hoogte te bring van al die ingrypende verwikkelinge rakende ons 2020 beplanning. Een aspek van hierdie pandemie wat ons nou almal so stadig maar seker begin besef, is dat die pandemie niemand en niks ongeskonde laat nie! Almal, letterlik almal regoor die wêreld, is vasgevang in die dieselfde storm. Helaas bevind almal hulle nie in dieselfde bootjie nie, maar wel in die dieselfde storm. Dit impliseer dat nie almal se vermoë om hierdie storm te oorleef dieselfde is nie.
Eerstens wil ons weereens julle almal bedank wat te midde van klomp uitdagings, fisies sowel as ekonomies, steeds getrou bly met julle ondersteuning van Missie Japan en ons werkers daar, Stéphan en Carina, Elmar en Nadine en ook Gys en Linda. Die wete dat julle as ondersteuners hier in Suid-Afrika sekere persoonlike opofferings maak sodat die werk daar in Japan kan voortgaan, lê swaar op hulle harte en dien ook as inspirasie vir hulle om die ontberinge daar in die oë te kyk.
Binne hierdie storm kan ons keuse tussen ons betrokkenheid en hulpverlening nie wees “of” in Japan “of” plaaslike hulp nie. Oral is daar nood en daarom bly die kerk se roeping om oral tegelyk betrokke te wees (Lees maar gerus weer Hand 1:8). Ons wil u aanmoedig om nie ‘n roete van “of” te volg in u hulpverlening en ondersteuning nie d.w.s “of” Japan “of” plaaslike hulp nie. Die opsie is eerder ‘n biddende “en” waar ons met die middele beskikbaar (min of baie) plaaslik en by Japan betrokke sal bly en sal help waar ons kan.
Tweedens deel ons mee dat die bestuur van Missie Japan einde April vergader het en sekere besluite geneem het in die lig van die effek van Covid-19 op die werk in Japan en ook 2020 se besoeke aan Suid-Afrika. In Junie was die beplanning naamlik, Stéphan-hulle as gesin se besoek aan Suid-Afrika sowel as ‘n besoek in Augustus van ‘n groep uit Japan (die diakonale studie groep).
Beide besoeke is afgelas. Die besluite is soos volg:
Decisions:
(1) The Van Der Watt’s planned deputation for 2020 is postponed at this stage due to the current Covid-19 pandemic.
(2) Their deputation is tentatively rescheduled for mid-March to mid-August 2021, meaning that their visit is also extended from 3-4 months as usual to 5 months.
(3) All planned visits of Stéphan to congregations (June to September 2020) should still take place in video format as far as possible.
(4) The meeting also takes note of Stéphan’s concern for his Father and Mother in South Africa.
Stéphan hulle se besoek en die beplanning daar rondom was reeds in ‘n gevorderde stadium met besoeke aan gemeentes, universiteite hier plaaslik, individue asook persoonlike vakansie en rus saam met hulle families en geliefdes. Tans is daar geen vlugte na Suid-Afrika nie wat dit byna onmoontlik maak om te reis. Die goeie nuus is dat die reis agente die kaartjies kon uitstel/aanskuif vir latere gebruik. Die voorlopige beplanning is dan dat hulle as gesin einde Maart 2021 sal kom en dan ook vir ‘n langer periode hier sal wees vir besoeke en ook vir tyd saam met hulle onderskeie families.
Hiermee wil ons tog u almal net herinner dat, indien moontlik, u wel die betrokke Sondag wat ‘n besoek aan u gemeente geskeduleer was, die geleentheid steeds sal gebruik as ‘n bewusmaking geleentheid vir Missie Japan. Dit kan geskied via ‘n kort video (wat ons sal voorsien) of via ‘n direkte Skype of Zoom inskakeling met Stéphan in Japan. Skakel gerus met Stéphan self om die geleentheid te beplan! Die beplanning vir die 2021 besoek sal later die jaar in aanvang neem.
Ons het ook ‘n nuwe uitnodiging aan die diakonale groep gestuur vir ‘n moontlike besoek in 2021 soos dit in hulle beplanning kan inpas.
Elmar en Nadine sal hopelik ook in 2021 Suid-Afrika besoek. Hierdie besoek sal heel waarskynlik in die 2de helfte van die jaar plaasvind. U is baie welkom om ook met hulle te skakel vir ‘n “elektroniese” besoek aan julle gemeente tydens ‘n video diens. Elmar se ouers is steeds gestrand in Japan. Hulle woon tans by die Kweekskool waar Elmar en Nadine woon en is gesond en maak die beste van ‘n baie onseker situasie. Hulle probeer hard om êrens op ‘n vlug plek te kry terug na Suid-Afrika. Ons vra u voorbidding in die verband vir hulle spoedige terug keer.
Soos u kan sien, gaan die werk voort in Japan omdat die Here ‘n hart en ‘n liefde vir die mense van Japan in ons almal se harte kom plaas het. Ons doen vanuit die kantoor die nodige om te verseker dat die werk voortgaan, met u hulp en ondersteuning en met die nodige besparings waar moontlik te midde van wisselkoers fluktuasies. Die RCJ se diakonale kommissie het besluit om hulle hulp aan die Botshabelo (BCYCC) projek vir weerlose kinders, te verhoog te midde van hierdie krisis. Dit maak ‘n reuse verskil in ons hulp verlening in ‘n gemeenskap met min hulpbronne en dit vertel juis ook vir ons iets van ons wedersydse verbintenis aan mekaar tydens hierdie pandemie.
Groete in Christus Jesus
Nico Mostert
(Sekretaris: Missie Japan)