RCJ Teologiese Kweekskool en ons indrukke

Liewe vriende,

Ons is nou in die pylvak van ons Japan besoek, die laaste twee weke van ‘n volle drie maande. Eerskomende naweek preek ek by RCJ Tokushima gemeente. Intussen woon Stephan volgende week ‘n drie-dag RCJ Retreat by vir ampsdraers (suid van Tokyo). Ons laaste naweek in Japan is Stephan weer in Kumamoto vir ondersteuningswerk, terwyl ons gelukkig hier is om saam met Carina die fort te hou. Dankie nogmaals vir jul belangstelling, meelewing en gebeds-ondersteuning.

Ek wil graag met hierdie nuusbrief iets deel van die RCJ Teologiese Kweekskool en ons indrukke. Lees asb. hieronder verder.

Vriendelike groete,

Tobie en Annalie de Wet

Ons indrukke (deur Tobie en Annalie de Wet)

  • Dit was inderdaad ‘n geseënde ervaring om vir drie maande saam met Stephan en sy gesin op die kampus van die Kobe Gereformeerde Teologiese Kweekskool te bly en iets van die atmosfeer en gees (etos) van hierdie welbekende en hoog-aangeskrewe inrigting in Christen- en Gereformeerde kringe in Japan en naburige Korea te beleef.
  • Die nuwe en indrukwekkende geboue met verblyfgeriewe vir studente en hulle gesinne, so wel as as die huise van die dosente, is na die groot aardbewing in Kobe in 1995 opgerig. Die woonstelblok waar ons destyds gebly het toe ons besig was met ons Japannese taalstudie in Kobe, is totaal verwoes tydens daardie aardbewing, en so ook die RCJ Ashiya-kerk oorkant die straat!
  • Hier studeer tans 18 Japannese students en 6 Koreaanse studente (onder andere ‘n aantal vroue) onder drie voltydse dosente (Stephan ingesluit) en ongeveer 15 deeltydse dosente, almal predikante van the Christen Gereformeerde Kerk van Japan. Een dosent is ‘n vrou wat ‘n sendeling van die RCJ en dosent aan die Teologiese Instituut in Singapore was.
  • Vir toelating tot die Kweekskool as student is ‘n voorvereiste ‘n vierjaar-graad aan ‘n universiteit, asook ‘n heelhartige toewyding tot die etos, dissipline en lewe van die Kweekskool.
  • Sommige van die studente is reeds predikante in hulle denominasies maar kom om ‘n beter Gereformeerde grondslag te verkry. Heelwat studente kom selfs van Korea.
  • Elke oggend begin met ‘n biduur (voor ontbyt) om 6:40, waar een van die studente hier ‘n kort boodskap bring (terwyl ons hier was die afgelope paar maande het hulle hoofstuk-gewys deur die boek Job gewerk!). Tussen oggendlesings deur het hulle elke oggend nog ‘n diens in die kapel, waartydens dosente (en soms studente) beurtelings ‘n boodskap uit die Woord bring.
  • Studente (saam met dosente) is ook self verantwoordelik vir die skoonmaak van die geboue en kampusterrein. Vrydagmiddae is skoonmaaktyd.
  • Hierdie is inderdaad ‘n ware Gereformeerde Kweekskool waar Calvinistiese Gerformeerde Teologie onderrig word. Ons Gereformeerde Belydenisse en Gereformeerde geloofstradisies speel ‘n deurslaggewende rol. Dosente en predikers sal herhaaldelik veral verwys na Calvyn en sy Institusie en die stellings daarin vervat beklemtoon.
  • Dus staan die Bybel as Woord van God heeltemal sentraal in alle byeenkomste en lesings. Preke is nie net Bybels geskoei nie, maar ook verklarende prediking, wat gewoonlik bestaan uit vers-vir-vers uitleg van ‘n bepaalde Bybelse perikoop en/of verhaal  (meestal sonder enige stories en baie min, indien enige, illustrasies). Preke is van ‘n hoë gehalte gekenmerk deur goeie eksegese en altyd uitstekend voorberei.
  • Hierdie Kweekskool (en Gereformeerde Kerk van Japan) is evangelies van aard en fokus. Jesus Christus en redding deur en in die gekruisigde en opgestane Christus, staan sentraal. Dit is die fokus van die hele Bybel. en ons enigste hoop en troos vir nou en tot in ewigheid, die kerk se enigste boodskap vir die wêreld.
  • Daaglikse gebed speel ‘n groot rol in die opset van die Kweekskool, waartydens in groepe gebid word vir mekaar en vir die kerk, en altyd met die “Onse Vader” afgesluit word. Die Koreaanse studente, wat kom uit kerke waar talle gewone lidmate elke oggend bymekaarkom vir bidure, hou selfs oor naweke ekstra gebedsbyeenkomste.
  • Alhoewel die akademiese standaard baie hoog is en die studente akademies baie hard werk (basies is alle RCJ Japannese predikante akademici wat baie hard studeer, en elk dag baie ure bestee om teologie op te lees en vir preke en Bybelstudies en praatjies voor te berei), word groot klem gelê op Christen-opvoeding en die geestelike opbou van die  studente.
  • Alle studente word toegewys aan ‘n RCJ-gemeente by wie hulle elke Sondag betrokke en van hulp met die bediening van die gemeente moet wees, as deel van hulle praktiese ervaring.
  • Ten laaste, maar ook van groot belang: Die Kobe Gereformeerde Kweekskool is doelbewus nie ‘n universiteit nie maar ‘n Teologiese Kweekskool wat uitsluitlik deur die klein, landwye Christen Gereformeerde Kerk van Japan (RCJ) befonds word vir die opleiding van predikante en sendelinge/evangeliste.
  • Ons as Missie Japan en ons ondersteunende kerke en lidmate in SA kan opreg trots wees om deur Stephan betrokke te wees by hierdie wonderlike Kweekskool en die opleiding van Japannese en Koreaanse leraars en evangeliste, en die uitstuur van hierdie manne en vroue om plaaslike gemeentes te bedien en om uit te reik na die onbereikte miljoene mense van hierdie mooi land en groot nasie!
  • Stephan se spesialiteit van Pastorale Sorg is ‘n baie belangrike stuk toerusting, nie net vir predikante om hulle gemeentes pastoraal te versorg nie, maar ook om uit te reik na en berading te verskaf aan so baie mense buite die kerk met vele emosionele en sielkundige nood en behoeftes. Een van van Stephan se mede-dosente het onlangs tydens ‘n pastorale praatjie in ‘n predikantebyeenkoms wat ek ook bygewoon het , genoem dat volgens ‘n opname meer as 70%  Japannese wat vir die eerste keer kerk bygewoon het (en uiteindelik gelowig geword het) het gekom as gevolg van ‘n diep emosionele of sielkundige behoefte.
  • Die feit dat Stephan en Carina as gesin op die kampus woon en ‘n integrale deel van die Kweekskool is, word hier as baie belangrik beskou. Carina het saam met Stephan daaglikse interaksie met die studente en hul gesinne  en hulle is saam betrokke by hul pastorale versorging. Sy is ook aktief betrokke by die plaaslike gemeente met die Kweekskool se Kapel as basis. Dit natuurlik bo en behalwe haar voltydse werk as tuiste skepper en tuisskool onderwyser van haar vier kinders.