Kumamoto terugvoer

Beste vriend/vriendin,

Die aardbewing rampgebeure skep talle nuwe geleenthede om konkrete nood en behoeftes van mense vanuit die kerk te bedien. In ‘n land met net 1% Christene is die kerk meestal moeilik “sigbaar” in die gemeenskap. Meeste Japannese mense voel ongemaklik, onseker of soms selfs op ‘n manier vyandig teenoor die kerk / Christene.

Maar die getal mense wat in die afgelope 3 dae oor die drempel van RCJ Kumamoto gestap het (terwyl ons hier was), is meer as wat in maande se eredienste hier bymekaar kom. Die verhoudings wat begin bou is, wag om verdiep te word. Die plaaslike gemeentelede het volgehoue gebede, bemoediging en konkrete leiding uit verskeie oorde nodig. Honderde mense het vir die eerste keer ooit met die liggaam van Christus te doen gekry.

Nou – soos in 2011 na die tsoenami in Sendai – het die plaaslike gemeente die kans om meer sigbaar en aktief diensbaar te raak in die gemeenskap. Met behulp van Missie Japan se ondersteuners, in samewerking met die breër RCJ, asook die Kobe Kweekskool, sit ons spesifieke uitreik projekte voort.

Lees hier onder meer … vir volledige terugvoer oor ons eerste uitreik. En sien foto’s.

Luister ook gerus na ‘n onderhoud (met my) hieroor op RSG se Sondagjoernaal, eerskomende Sondag 1 Mei tussen 07:00-08:00.

VERSLAG

Huidige situasie (27 April)

  • 8 400 huise is beskadig (meer as in die groot 1995 Kobe-aardbewing)
  • 36 000 mense is tans nog in skuilings (bv. skole)
  • 4 200 tydelike huise se oprigting word tans beplan
  • Meer as 1 000 na-skokke is al beleef, en duur voort
  • Baie mense bly in parkeerplekke, in hulle motors (omdat hulle huis onveilig is).
  • Produkte in winkels word vinnig uitverkoop, veral vars produkte is skaars.

Ons betrokkenheid by ondersteuningswerk (saam met RCJ Kumamoto gemeente)

  • In die omgewing van die gemeente is die fisiese skade gering teenoor sekere ander dele. Maar die emosionele wonde is helder sigbaar, en daarby kon ons vir ‘n kort tydjie betrokke raak. Die weerloosheid van kinders en bejaardes was veral opvallend.
  • Daar was die afgelope drie dae ‘n aanhoudende stroom van mense wat kom na die kerk vir lewensmiddele soos water, kos, gaskannetjies (om kos te maak) ens. Party ma’s kom haal doeke vir kinders, ander blikkieskos. Die middele is verniet beskikbaar gestel deur die ondersteuning van ander RCJ gemeentes. Daar is ook goedere (gratis) afgehaal by ‘n Christelike ondersteuning sentrum wat gestig is vir noodverligting.
  • ‘n Deel van Missie Japan se fondse is bv. gebruik ons span se reiskostes en etes te betaal, asook om speelgoed vir kinders te koop wat by die kerk kom speel (hulle soek afleiding omdat skole gesluit is tot 9 Mei); asook noodsaaklikhede vir die kerk self bv. opslaan tafels, boekrakke vir kinderkamer ens. Dit is gedoen om ‘n vriendelike ruimte te skep vir mense om in tuis te kom t.m.v. groot stres. Die oorskot sal aan die RCJ oorbetaal word om op die langtermyn te gebruik vir verdere uitreik projekte, toepaslike ondersteuningswerk ens. Die kerk regoor die wêreld maak ‘n betekenisvolle, konkrete verskil in hierdie krisis, en dit bemoedig die plaaslike Christene geweldig.
  • Ek het saam met drie kweekskool studente gehelp om kerk in te rig as ‘n plek van ondersteuning. Die aflaai en regpak, en verspreiding van noodmiddele was o.a. deel van ons werk. Twee studente het veral gefokus op kreatiewe spel met kinders wat spontaan by die kerk opgedaag het. ‘n Ander student (wat voorheen ‘n verpleegster was) het ook basiese mediese ondersoek gedoen vir mense wat dit verlang het, en daarmee saam dieper gesprekke gevoer oor hulle emosionele welstand. Ek het aan al die bg. deelgeneem, en veral ook gefokus daarop om aktief te luister na mense se dieper emosionele nood. Daar was vele geleenthede om dit te kon doen. Dankbaar!
  • Die meeste mense met wie ek gesels het, het ‘n groot behoefte gehad om te “de-brief”. Baie van hulle wou herhaardelik vertel wat hulle beleef het, om self sin te maak van die skok en stres. Tema’s wat pal opgeduik het in gesprekke, het gesentreer rondom die geweldige onwrigting, wat mense beangs en onseker laat. Baie families leef nou tydelik apart, bv. omdat baie mans/pa’s by hulle werkplekke slaap (t.w.v. veiligheid en om die chaos te help opklaar).
  • Mashiki gebied is die ergste getref, baie mense woon nou daar in tente. Die weermag bied net baie basiese middele. In dié dae het ‘n ou man daarvandaan gekom, en hy was oorstelp van vreugde om blikkieskos en lekkergoed vir kinders te kon ontvang.
  • Alhoewel die dringendste nood van meeste mense verlig is i.t.v. kos, water en veilige skuiling, is daar vele (minder sigbare) behoeftes wat na vore gekom het in gesprekke. Terwyl ek dieper na mense probeer luister het, kon ek soms hoor waar die eintlike nood en angs lê, en probeer om daarin te ondersteun, asook om ‘n verdere band met die plaaslike lidmate te bewerkstellig (vir langer termyn opvolg sorg).
  • Nishibori het noodsaaklike items geneem na gemeentede wat geïsoleer is deur die ramp. Hy was ook betrokke by ander lidmate wie se familie-lede se huis totaal verwoes is. Sy fokus was veral op die gemeentelede, terwyl ons fokus op die mense was wat vir die eerste keer na die kerk gekom het vir hulp / ondersteuning / middele. Hy en sy vrou is oorval met korrespondensie met wyer kerk ens. Hulle voel nog oorwelidig deur die hele gebeure, en sal volgende week vir 3-4 dae (weg van Kumamoto) gaan rus.
  • Ek het ook die geleentheid gehad om ‘n besoek te doen aan een gesin uit die gemeente, en kon ‘n lang en sinvolle pastorale gesprek met hulle voer.

Slagoffers se verhale

  • Een man het vertel van sy geskarrel om sy drie kinders (en twee katte) betyds by die huis uit te kry omdat hulle beangs was dat dit inmekaar sou tuimel. Sy oudste dogter het sielkundige probleme (panieksteuring), en sukkel nou vreeslik om te slaap. Omdat die groot aardbewing in die nag gebeur het, is sy nou doodbang vir die donker. Hulle hou alle ligte en die TV aan in die dag, want stilte en donker verhoog haar angs. Sy kry nie geslaap in die nag nie, maar wel in die dag. Sy wil nie by die deur uit nie, is al 10 dae in die huis, en skole open eers weer oor 2 weke. Stres is soms onuithoudbaar, vertel die pa. Sy behoefte om te deel, en om gehoor te word, is duidelik. Sy eie werkplek (maatskappy gebou) is geleë in een van die dele wat die swaarste getref is, en het ineengestort (genadiglik in die nag).
  • ‘n Ander vrou (wat ek verlede jaar in Oktober hier leer ken het), het die week ‘n paar keer met my kom gesels. Ná die ramp het sy geleer wat dit beteken om te leef en sterf, vertel sy, want wanneer sy nou in die oggende haar oë oop maak, is sy diep verlig as sy besef sy is nie dood nie. Sy vertel met groot oë van die reuse gat wat ewe skielik in die aarde oop geskeur is net agter hulle motor in die parkeer area. Sy en haar huis is nou slaggereed vir ingeval van ‘n volgende ramp, noodsakkie gereed by voordeur, komberse in kar vir ingeval hulle weer daar moet slaap.
  • ‘n Ma van drie kleuters (voorheen ‘n verpleegster) deel hoe gefrustreerd en moeg sy is nadat sy die afgelope 10 dae baie min geslaap het. Hulle het as gesin juis ‘n jaar gelede hiernatoe getrek, nadat hulle voorheen naby aan die tsoenami rampgebied (Sendai) gewoon het, en deur groot trauma is. Sy het gedink om ‘n paar minute by die kerk te bly, maar uiteindelik het sy en haar 3 dogters saam met ons middagete geëet en vele ure onophoudelik gesels. Sy het ‘n paar genoem hoe wonderlik dit is dat die kerk nou op die manier ‘n plekkie kon word waar sy kon tuiskom te midde van ‘n chaotiese tyd. Haar kinders hoef nou nie meer heeldag gefrustreerd voor die TV te sit nie, maar kan by die kerk rustig speel, en op ‘n gesonde manier ontlaai in ‘n veilige, gasvye omgewing. Haar woorde raak my diep, want so droom ek lankal oor die kerk in Japan … dat dit meer en meer ‘n tuiste sal word vir dié wat ontwortel en ontheem voel in hulle daaglikse lewe. ‘n Oop, verwelkomende ruimte vol geborgenheid, vrede en vreugde. Sy het my ook vrymoediglik uitgevra oor kerk en geloof, en oor die “donker” in haar eie lewe.
  • ‘n Ander groep vroue gesels oor onderwysers wat self ook slagoffers is, en baie hard moet werk by skole wat tydelike skuilings vir duisende mense moes word. ‘n Skoolhoof het emosioneel feitlik uitgebrand in die proses. Weermaglede werk ook onverpoos om nood-verligting te bewerkstellig. Dat hierdie gesprekke gebeur by kerk is noemenswaardig. Dit plaas die kerk in die middel van die gemeenskap, en bring die gemeenskap se nood midde-in die kerk.
  • Nishibori het met groot erns vertel van sy eie en hulle as gesin se trauma van die afgelope dae. Op die dag van die aardbewing het ‘n paar vreemde goed gebeur, vertel hy. Hy was baie gespanne om sy preek (vir die Sondag) gedoen te kry, want ‘n klomp onvoorsiene goed het gebeur, o.a. ‘n lang, ingewikkelde betrokkenheid by ‘n boemelaar, ‘n uur-lange krisis telefoon-oproep ens. Kort voor die aardbewing gebeur het hy sy preek te tema (“Oor die tekens van die eindtye” uit Markus 13) buite te kerk gaan opsit. En juis tóé tref die aardbewing kort daarna. Hulle het in die middel van die nag gevlug na skuiling (skoolgronde), na die tweede groot skudding. In een hoek van die gronde het water (tot almal se groot skok) begin uitspuit uit die aarde. Hy en sy vrou, en hulle ses-jarige seun het vir ongeveer ‘n week in die skuiling gebly. Hy het getuig hoe die Here het regte mense voorsien het om hulle op die regte tyd te ondersteun en bemoedig.Toe hulle uiteindelik kon terugkeer na hulle huis, en tot verhaal kom, het Psalm 46 (veral verse 1-3,10-11) diep tot hom gespreek … “Bedaar en erken dat ek God is, hoog bo die aarde, hoog bo die nasies.” Dieselfde gedeelte het ek ook by meer as een geleentheid gelees en bespreek by die kweekskool, voor ons koms na Kumamoto.
  • By die biduur wat ons saam met die gemeente kon deel het Ester, een van die kweekskool studente, ‘n bemoedigende boodskap/getuienis gedeel, 1 petrus 1:3-9. Haar eie lewe is diep geraak deur die reuse 1995 aardbewing in Kobe, waarin hulle huis vernietig is. Haar getuienis het gefokus op verse 6-9, waaruit, vertel sy, ons leer dat geen lyding is nie betekenisloos nie. Deur geloof word dit gesuiwer, en kry dit betekenis. Krisisse soos hierdie lê inderdaad ons lewens- en geloofsfondamente bloot!

Samevatting

  • Ek is baie dankbaar vir die geleentheid om te kon uitreik binne die eerste twee weke na die aardbewing. Dit is ‘n baie vloeibare tyd, waarin die behoeftes en omstandighede vinnig verander. In hierdie omstandighede, dink ek, het ons uitreikspan se samestelling en gawes tot ‘n groot mate baie goed gepas. Almal van ons was betrokke by die 2011 Tohoku rampgebeure (Sendai omgewing). Dit was onmiddelik vir ons moontlik om in te skakel en toepaslik betrokke te raak by die kerk se inisiatiewe.
  • Die predikant, ds. Nishibori is nog net twee jaar hier, en bou dus nog aan vertrouens- verhoudinge met lidmate en mense in die omgewing. ‘n Nuwe era word oopgebreek vir die klein gemeentetjie. Hoe sal die Here in die krisis voorsien, en die klein geloofsgemeenskap in ‘n hoopvolle teken van sy liefde en sorg omskep? Ons weet nie presies nie. Maar ons het wel (weer) iets ervaar van die nuwe wending waarin die kerk geslinger is deur hierdie ramp.
  • Ek was opnuut bewus van die groot voorreg om ingelaat te word in baie private (heilige) spasies van mense se lewens en verhale van vrees, magteloosheid en wanhoop aan te hoor.
  • Oor opvolg-projekte: die tweede groep studente van die kweekskool sal 9-13 Mei uitreik. Ds. Nishibori (predikant by RCJ Kumamoto) het ook versoek dat Tobie (ds.) en Annalie de Wet die gemeente en gemeenskap kom bedien van 22-25 Mei (as deel van Missie Japan se werk hier).
  • Ons bid dat hierdie uitreik projekte op die langtermyn sal help om die gemeenskap “oop te maak” vir die kerk, én die kerk vir die gemeenskap. Sodat mense wat nog in ‘n kerk was en nog nooit met Christene van nader kon kontak maak nie, nou makliker kan “in kom”. Ons glo dit bring nuwe, unieke geleenthede na vore om die hoopvolle evangelie van Christus te kan deel.
  • Opvolgwerk in die kerk se nabye omgewing is volgende op die agenda. Veral om by mense aan huis te gaan aanklop om te hoor watter behoeftes daar is, en hoe daar ondersteun kan word.
  • Op ‘n stadium het ‘n groep jong seuns verby die kerk gestap. Ons het hulle ingenooi, maar hulle was oppad om te gaan sokker speel, en het verbygehou. Die volgende dag daag hulle (groep van 15) toe onverwags by die kerk op. Hulle het lank en lekker by die kerk gespeel. Nie een persoon wat oor die kerk se drempel stap is vanselfsprekend nie. Dis uitsonderlik binne die konteks van Japan. Daar is veral sekere mense wat herhaaldelik in die drie dae gekom het, en met wie die gemeente ‘n verdere pad kan stap. Ons bid daarvoor.
  • Omdat RCJ Kumamoto gemeente klein is (ongeveer 20 lidmate), is dit belangrik om nie die plaaslike gemeente se kapasiteit te oorskry nie, en verantwoordelik te dink oor medium en langtermyn betrokkenheid en moontlikhede. Die De Wets se besoek is in daardie opsig baie tydig (later in Mei) en nodig.

Terwyl ek die verslag se laaste woorde neerskryf, ruk die kerkgebou van nog ‘n na-skok … die onsekerheid is geensins verby nie, maar die onwrikbare, lewende hoop van Christus (1 Petrus 1:3) het verhelder in Kumamoto.

Bid asb. saam met ons vir die volgende fases van ondersteuning, in die lig van die bg. inligting.

Vrede, en weereens dankie vir elkeen se ondersteuning!

Stéphan

uit Kumamoto, 27 April 2016