Rampflits | Meer as 500 skuddings voortdurend die inwoners van Kumamoto omgewing in angs en onsekerheid

Beste ondersteuner,

‘n Paar dae gelede – soos jy seker reeds bewus is – het twee baie sterk aardbewings die Suid-Weste van Japan geruk. Intussen het meer as 500 skuddings voortdurend die inwoners van Kumamoto omgewing (op Kyushu eiland) in angs en onsekerheid gedompel. En die nood verdiep. Meer as 1000 huise is totaal verwoes, en meer as 4000 beskadig.

Die dood van 42 mense is al bevestig, en heelwat vermiste persone word nog gesoek. Meer as 100 000 slagoffers het gevlug na tydelike skuilings. Dáár sukkel hulle om iewers ‘n stukkie ontvlugting en rus te vind. Maar allerlei ontwrigtings maak dit uiters moeilik. Rommelhope vorm orals en gesondheidsrisiko’s ontwikkel plek-plek. Baie mense slaap in hulle motors of tente, terwyl kos en water nog op talle plekke skort.

Die meeste treinritte kan nog nie hervat word nie, lughawens is gesluit, en baie paaie is onbegaanbaar verskeur, en dit maak toegang tot en voorsiening van nooddienste in sekere dele moeilik. Deskundiges vermaan almal om hoogs waaksaam te wees. Minstens twee aktiewe (ondergrondse) foutlyne is versteur, en die waarskynlikheid van nog skuddings oor ‘n wyer area is hoog.

Hoe kan ons betrokke raak?

Ons woon (padlangs) amper 700km van die rampgebied, en is nie direk geraak i.t.v. skade nie. Maar ons harte en gedagtes is diep geraak (soos in Maart 2011) deur hierdie skokkende gebeure. Ons bid gereeld, en is ook in direkte kontak met ‘n predikante kollega (Ds. Hajime Nishibori) van RCJ Kumamoto (wat ek in Oktober 2015 besoek het).

RCJ Kumamoto se kerkgebou is beskadig. Ds. Nishibori en ‘n klein groepie lidmate het Sondag in die kerk se parkeer-area ‘n erediens gehou. Hy en sy gesin het die vorige aande in hulle motor geslaap, en is tans in ‘n plaaslike skuiling (skoolgebou).
Een van die lidmate se huis is platgevee deur die aardbewing, maar almal is genadiglik veilig.

Die RCJ (Gereformeerde Kerk in Japan), saam met wie ons in diens van Missie Japan hier werk, is besig met indringende gesprekke en ‘n ondersoek om die nood en behoeftes van die gemeente en omgewing te bepaal. Ons wag op hulle verslag wat DV sal kan inhoud gee aan ‘n uitreik aan die rampgebied. Die Kobe kweekskool (www.krts.net) waar ek klasgee, oorweeg om vir ‘n week te sluit sodat ‘n groep studente DV as vrywilligers ontbied kan word om te ondersteun waar nodig.

Ons vra jou om ook asb. in te tree vir ons Japannese broers en susters wat deur hierdie ramp getref is. Bid asb. vir die uitreik van die RCJ (wat ons insluit) wat nou beplan word. Vir wysheid en beskerming van vele ander kerke wat ook nou aan die uitreik is. Dat die Here in hierdie krisis tóg Sy hoop en genade sal laat duidelik word. Bid asb. ook vir Missie Japan se leiers wat hieroor biddend besin, in vennootskap met die plaaslike RCJ (wat die kweekskool insluit).

Vrede in Christus, ons Hoof en Here,

Stéphan en Carina,
(ook namens Carina se ouers, Tobie en Annalie de Wet, wat destyds jare lank in RCJ Kumamoto bedien het, en tans by ons is op besoek).

Foto’s van aardbewing met erkenning aan www.cnn.com