Oud én jonk broodnodig

Vir die voortbestaan van die kerk in Japan – Nuusflits 31 Okt. 2018

Japan is ‘n snel-veranderende land. ‘n Veerkragtige nasie met uitstaande ambisie, én vermoëns. ‘n Eeue-oue beskawing, in pas met die nuutste tegnologie. Maar, alhoewel Japan die derde sterkste ekonomie in die wêreld het, bly dit ‘n brose supermag. Natuur-rampe het die afgelope jare reuse verwoesting gesaai en diep ontwrigtings veroorsaak. Ons het dit nou weer die afgelope maande beleef, met die groot vloede in Wes-Japan.

Verder het Japan ook ‘n supersnel-verouderende bevolking. Meer as ‘n derde daarvan is ouer as 60 jaar. Lae geboortesyfers, hoë aborsiesyfers én die feit dat bykans 80% van die 127 miljoen inwoners in stede woon, dra alles by tot dié uitdagende realiteit. Voeg daarby die stres van ‘n gemiddelde bevolkingsdigtheid wat nege keer hoër as in Suid-Afrika, en mens begin verstaan waarom ekonome en politici hewig kopkrap oor Japan se ekonomiese vooruitsigte. Die probleem van gapings tussen sosiale groepe wat al groter word, maak die probleme nog meer akuut.

Dié kopseer tref egter nie net die sosio-ekonomiese aspekte van Japan nie, maar ook die kerk swaar. Die gemiddelde ouderdom van lidmate is hoog. Jonger generasies se betrokkenheid word bemoeilik deur oorvol programme, en min ruimte en genade vir dié wat nie goed genoeg presteer nie. Tyd vir rus en ontspan is skaars en selfdood syfers baie hoog, verál ook onder jongmense. Dit ontbloot die donker kant van Japan. Christene word op allerlei fronte uitgedaag as gevolg van dié realiteite wat die kerk lamlê. In kort: daar is bitter min ruimte, tyd en kapasiteit om die kerk se rol meer sigbaar en voelbaar te maak in ‘n samelewing met ‘n 1% Christen bevolking.

MAAR, moenie die baba – of eerder die ouma en oupa – met die badwater uigooi nie! Ouer mense het baie om te bied. En kerke moet opnuut leer om hulle potensiaal te ontsluit en te laat blom. Ek was die afgelope paar maande met ‘n hele paar “bejaardes” in kontak wat een ding duidelik laat bly het: dié koeël is nóg nie deur die kerk in Japan nie!

Één so ‘n persoon is me. Imanishi (foto hierbo) van Marugame gemeente, met wie ek ‘n ruk gelede ná ‘n erediens gesels het. Ek deel haar storie met haar toestemming. Op 81-jarige ouderdom het sy sleg geval, en haar been, hand, skouer, en 7 ribbes gebreek, én haar gesig was stukkend. Sy het vir God geskree, “Vat my eerder, Here!” Maar in haar nood het sy aan haar man gedink. Hy het ‘n beroerte gehad, en sy moet hom versorg. “Ek kan nie my man alleen agterlaat nie”, het sy gedink. Sy vertel verder hoedat die klein gemeente (van ongeveer 10 mense) se ondersteuning haar maande lank (terwyl sy in die hospitaal was) gedra het. En hoe sy net eenvoudig geweier het om handdoek in te gooi, al was die herstelpad steil en swaar. “Die Here, en my broers en susters sal my mos deurdra”, herhaal sy. 

‘n Ander tannie het nou die dag op 86-jarige ouderdom saam met twee ander vroue, ‘n koevert met baie kontant in, in China ingeneem, as bydrae vir ‘n kinderhuis wat ons kerk (Reformed Church in Japan) daar ondersteun. Haar seun – ‘n predikant kollega van my – is enkele weke voor haar brawe tog gestop deur Chinese polisie-offisiere, toe hy dieselfde probeer doen het. Maar sy ma het nie een oomblik geskrik om die uitdaging wat haar seun nie kon voltooi, te gaan afhandel nie. Ek sou ek nog baie stories kon deel van leraars wat op 80- of selfs 90-jarige ouderdom nog aktief in die kerklike bediening is in Japan. Sommige van hulle plant selfs nuwe kerke … dié verhale getuig van dapperheid en vasbyt, kom wat wil! 

Die skadukant van dié inspirerende verhale is egter: hierdie generasie ouer mense is aan die uitsterf. Die kerk in Japan se voortbestaan is op die spel. En dáárom is die fokus op jong mense en kinders nou netso ontsettend belangrik, vir die kerk van môre in hierdie uitdagende konteks. 

Bid asb. saam met ons vir Japan se Christene – oud en jonk. Én, vertrou saam dat die Here nog jongmense sal roep en stuur uit Suid-Afrika na Japan. In besonder dink ons aan Elmar en Nadine Du Rand, wat tans as sendeling-kandidate ondersteuning werf om DV in Maart 2019 hierheen te kom.         

                                             
Baie dankie vir jou ondersteuning vir en meelewing!
Stéphan, Carina, Annlie, Cornelius, Lodewyk en Stephan

GEBEDSVERSOEKE vir Nov. 2018

Dank die Here saam met ons vir:

‘n Geseënde Oktobermaand, propvol bedienings-geleenthede.

Baie sinvolle ontmoetings by o.a. RCJ sinode, plaaslike kerk-piekniek. 

Goeie preek-geleentheid in Okayama, met verrykende tye saam ná die erediens.

Carina se ouers, Tobie en Annalie de Wet, wat ons ondersteun en bemoedig op baie maniere.

Volgehoue finansiële- en gebeds-ondersteuning vanuit SA’e gemeentes en individue, asook wyer. Dit bly wesenlik belangrik vir ons voortgaande werk hier.

Vra vir die Here se sorg & genade vir:

Carina se tuisskool dagtake en gasvryheids-bediening veral vir kinders in ons buurt.

Stéphan se klasgee, interaksie met kollegas en studente, velerlei kerklike verantwoordelikhede. 

Sy aanbieding van seminare en preke in Hiroshima (3-4 Nov), Okinawa (17 Nov.) en Okayama (25 Nov.), asook by ‘n spesiale symposium saam met ‘n Lutherse kweekskool in Kobe (16 Nov). 

Rigting-gewende gesprekke met RCJ Shikoku Ring en ons plaaslike gemeente in Kobe, oor ons (Stéphan en Carina se) toekomstige rol en bedieninge.

Missie Japan bestuur se belangrike gesprekke met die Du Rands, begin Nov.