“Wanneer is die beste tyd om Japan te besoek?”, vra jy dalk. Beslis nie in die somer nie!
Japannese somers is soos ’n wet sauna – vir 24 uur wurg jy met ’n sopnat kombers om jou. In die middel van die somer is jou energie en jou emosies in flarde. En wat ookal oorbly van jou word deur sonbesies se konstante skreeuery deurboor.
Gelukkig het meeste huise wel lugverkoelers. Wel, behalwe vir Noord-Japan, waarheen mense in die verlede probeer ontsnap het, omdat dit gewoonlik daar koeler behoort te wees. Maar hierdie jaar, in ’n vreemde wenteling, was die noorde van Japan warmer as Kobe. En die noorde van Japan is presies waar ons onsself bevind het vir ons jaarlikse verlof – in ’n hut sonder ’n plafon, insulasie, of lugverkoeling. Swetend, en ek is jammer om te erken, maar vol klagtes. Ons was uiters suksesvol in beide die sweet en die klaery.
Maar dink gou vir ’n oomblik hoe die hemele die wonders van God verkondig. Ek wil graag vir julle vertel hoe hierdie warm somer vertel het van ’n God wat aktief en vol genade besig is hier in ons midde.
As jy al ooit gesukkel het met slapeloosheid, weet jy baie goed dat in die middel van die nag elke liewe gedagte na hopeloosheid en wanhoop lei. Net so is dit in die middel van die somer. Maar soos die donker nag plek maak vir ’n ligter skynsel, selfs nog lank voor sonsopkoms, so kom hoop ook terug. En dit is presies hoe dit is in September.
Dit is ook so hier by ons, aan die begin van September 2023 in Kobe, Japan.
Ons is nie in die middel van donkerte en wanhoop nie – dit is reeds deurleef deur Jesus in sy donkerste uur aan die kruis. Selfs al is ons moeg, of twyfelend, of bekommerd oor ons werk hier of ons kinders of ons ouers, is die lig van hoop, wat soms baie dof is, tog sigbaar. Soek net daarvoor.
Ek vind dit hier vandag, op ’n September middag waarin herfs amper hoorbaar raak …
Ons Waku Waku (‘opwindende’) Somerweek het met ’n tifoon begin en met ’n donderstorm ge-eindig. Ten spyte hiervan het daar soveel mense vir die eerste keer opgedaag. In besige Japan waar kerke soms net ge-assosieer word met ’n fancy Westerse troue, is dit opsigself ’n wonderwerk. Maar die grootste seën vir my is wanneer ’n hele familie opdaag met wie ons al ’n lang pad in Japan stap. As enige iemand probeer om bekeerlinge in Japan te tel, is algebra totaal en al onnodig (m.a.w. mense kom nie hier in groot getalle tot bekering nie). Maar indien jy die Heilige Gees se werk probeer peil – soms deur baie lang en geduldige verhoudings; en somtyds deur ‘n skynbare toevalligheid – sal Japan jou ’n hoofpyn gee.
Ons sien God se hoop in ons broers en susters in Christus hier in Japan. In Japanese predikante wat in Boedhistiese/Shintoïstiese huise groot geword het, maar wat nou ’n beter verstaan as ons het van (Gereformeerde) teologie. Predikante wat baie hard werk in klein gemeentetjies met baie beperkte hulpbronne. Ons is ook dankbaar vir Jovald en Cora, ’n paartjie wat elke Sondag al die pad van Himeji vir amper ’n uur reis na ons kerk om saam deel te neem aan getuienis geleenthede, asook om die gemeente aktief te ondersteun en te bemoedig.
Intussen is my ouerwordende ouers in Niihama (Shikoku) aan die werk. Baie mense het baie getwyfel oor hulle koms na Japan. Hierdie is hulle eie storie om te vertel, maar net deur maaltye voor te berei vir Sondae, om families te nooi, en deur te preek, kan ek duidelik sien dat die klein kerkie diep bemoedig word. En ook hoe familielede van die lidmate bereid is om nou uit eie wil kerk toe te kom.
“Hoeveel mense het julle die jaar na Jesus gelei? of “Vertel ons meer oor evangelisasie in Japan,” is vrae wat gereeld van die buiteland kom. Hierdie vrae is natuurlik relevant aangesien dit ook binne Japan gevra word.
Stéphan het pas ’n twee-dag kamp vir ’n groep Japanese jong Christene (universiteit studente) gelei. Hulle het hom gevra om oor evangelisasie te praat. Gedurende ons somervakansie het ek en Stéphan breedvoerig oor evangelisasie en/in Japan gesels. Dis immers hoekom ons hier in Japan is, nie waar nie? Na deeglike voorbereiding en gesels is hierdie (deel van) die basiese boodskap wat Stéphan gedeel het:
Eerstens, jy wat die Goeie Nuus wil deel, soek eers na God met jou hele hart. Groei in jou verhouding met hom te midde van al die moeilike uitdagings van besig-wees en al die verskillende dinge wat jou aandag aflei. Laat God in die eerste plek toe om jou eie hart te ‘evangeliseer’ sodat jy saam met Paulus met integriteit kan verklaar, “Vir my is om te lewe Christus, en om te sterwe wins. Die enigste rede hoekom ek lewe kies is omdat ek ’n boodskap van hoop met jou wil deel, deur my hele lewe.” (Natuurlik het nie een van ons hierdie doelwit al bereik nie. Dit bly ’n daaglikse oorgawe en groeiproses in ons geloofslewe).
Maar dit is ook die liefde van Christus wat jou behoort te dring. Die doel is nie om mense te bekeer nie. Die uiteindelike doel is om die wat verlore is sonder God, lief te hê. Dissipelskap is ’n geduldige verhouding van liefde en ’n diep en intieme vertroue dat die Heilige Gees wel deure sal oopmaak. Dit is ’n lewe van aanhoudende gebed – in die eerste plek vir ’n verandering van jou eie hart; en dan dat die Heilige Gees jou sal lei in elke woord en in elke interaksie. Dit is regtig net God wat iemand se hart kan verander.
Japan was nog nooit ’n maklike land om in te leef nie. Soveel dinge voel vir my totaal en al onmoontlik. Maar presies daar werk God in ons lewens. “Wees stil en weet, ek is God.” Die Afrikaanse vertaling fokus op geduld. Om te wag. Om God in alles te erken. ’n Direkte vertaling van die Japannese Bybel voeg nog meer betekenis toe tot die baie bekende woorde: 力を捨て、知れ。私は神。Letterlik vertaal: “Gooi jou krag weg. Besef/Weet dat ek God is.” (uit Psalm 46)
God werk hier ten spyte van ons desperate pogings om in ons eie krag te probeer werk. Bid asseblief vir ons persoonlike verhoudings met God – ons wil al hoe meer groei in liefde sodat God se liefde ons dan ook meer sal dring na ander. Ons wil in wysheid en vertroue groei sodat ons met kalmte en rustigheid in ons eie huise en omgewing kan werk – soos wat ons uitstap in geloof, so wil ons ook terselftertyd wag in Hom. Terwyl ons altyd vasklou in die hoop wat daar in Christus is.
Baie dankie vir jou ondersteuning en omgee.
Carina (ook namens Stéphan en gesin)
Sake vir Gebed
Dank die Here saam met ons vir:
* Gereelde, bemoedigende kontak met en terugvoer aan ondersteuners wat vir ons omgee en sorg.
* ‘n Geseënde kamp vir studente verlede week in Osaka en goeie interaksies/preekbeurte by RCJ Tokushima en RCJ Tokushima-Wes gemeentes die afgelope naweek.
* KRTS studente se twee maande internskappe/bedieninge in verskillende gemeentes landwyd.
Vra vir die Here se leiding en sorg met:
* Ons gesondheid en balans t.m.v. voltydse tuisonderrig, omgee vir mense in ons gemeente, dag-tot-dag huistake en werkslading, opkomende kampe en interaksies ens.
* De Wets se bediening in Niihama: vir krag, leiding van die Heilige Gees en vrug op al hulle interaksies deur gasvryheid en vriendskappe in die gemeenskap.
* Betekenisvolle opleiding van jongmense vir diakonale studietoer na Suid-Afrika in 2024.