Seikeikai (sosiale welsyns-organisasie) bestuursraad vergadering naby Hiroshima
Groete uit Kobe, waar die bedompige reënseisoen se einde plekmaak vir versengende hitte. Ons jaarlikse somer vakansie breek binnekort aan, daarom net ‘n paar opsommende nuusbrokkies oor ons onlangse doen en late.
Geïnspireer deur persone met gestremdhede
Meer as twintig jaar gelede het ek ‘n onvergeetlike, lewensveranderende ervaring beleef as deel van ‘n MTh Program in Kliniese Pastorale Sorg. Die program het lang en intensiewe interaksies by Stikland psigiatriese hospitaal (in Belville omgewing) ingesluit. Daar het ek geleer hoe haarfyn die verskil tussen (sielkundig) ‘normaal’ en ‘abnormaal’ kan wees. Én ‘n klein skrefie insig het vir my oopgeskuif oor hoe ingewikkeld en veeleisend die versorging is van mense wat leef met gestremdheid (psigies en fisies).
Min het ek toé geweet dié ervaring sal waardevol wees vir my werk in Japan. Sedert 2015 is ek betrokke by ‘n welsyns-inrigting vir gestremde persone naby Hiroshima, genaamd Seikeikai. Aanvanklik was ek betrokke as vrywilliger, maar later het dit uitgebrei na begeleiding van studente wat óf hulle internskap by, óf nagraadse navorsing oor Seikeikai gedoen het. Intussen is ek as lid van Seikeikai se bestuursraad verkies en het ek die afgelope ses jaar goeie ondervinding opgedoen oor die binnewerke van sosiale welsyns-organisasies in Japan.
Seikeikai se eiesoortige onstaan en funksionering is verál iets om uit te leer. Die persoon wat die visie gehad het om 63 jaar gelede ‘n plek te skep vir gestremde persone wat in ‘n veilige leefruimte—lees: sonder diskriminasie en menswaardig—kan floreer, se storie is merkwaardig. Sy naam is Makio Ihara, voormalige RCJ predikant en spierdistrofie lyer sedert sy tienerjare. Sy volhardende vasbyt en sy stryd om (diakonale) geregtigheid—in ‘n tyd toe die Japannese regering o.a. 25000 gestremde mense wederregtelik gesteriliseer het om ‘n ‘suiwer’ genetika te probeer bewaar!—is regtig inspirerend. Kliek hier om iets van sy verhaal te lees.
Uitdagings in ons midde
By KRTS het daar ‘n paar skielike en onverwagse veranderinge en uitdagings ons pad gekruis die afgelope kwartaal. Ons geliefde terrein opsigter het ‘n aggresiewe kanker diagnose gekry en veg die stryd moedig. Die kweekskool se admininstratiewe bestuurder, asook sy assistent moet binnekort uittree en nuwe personeel word gesoek. Ons akademiese hoof en sy vrou (ook ‘n dosent en lidmaat by ons Kita Kobe gemeente) maak einde Maart by KRTS klaar en is beroep na ‘n vakante gemeente. Verder is ‘n lid van ons RCJ sinode se diakonale kommittee, wat deel van ons span was om Suid-Afrika te besoek in 2024, ook gediagnoseer met kanker. Bid asseblief vir die Here se sorg vir elkeen en vir Sy leiding hierin.
Niihama bediening
Die afgelope langnaweek (a.g.v. ‘n vakansiedag gister in Japan) het ek in RCJ Tokushima gemeente gepreek. Saam met dié wyer draai na Shikoku eiland is ons as gesin by Niihama gemeente aan om ons mede-sendelinge en ouers (Tobie en Annalie de Wet) te ondersteun en saam te kuier. Dit was regtig lekker en bemoedigend, ook sommer om op die koop toe Annlie se 16e verjaardag te vier (saam met Pa Tobie se 77e een en my en Carina se 18e huweliksherdenking). Die bediening in Niihama is om verskeie rede geensins maklik nie, maar ons sien hoe die Here tree vir tree voorsien en geleenthede oopmaak. Jou gebede en ondersteuning hiervoor is regtig nodig. Lees gerus hier verder hoe die De Wets self vertel.
Iets van alles
Die afgelope maand of wat het heelwat ander gebeure en ontmoetings ingesluit wat ek net kortliks lys. Die foto’s hieronder vertel verder die verhaal.
l RCJ (Reformed Church of Japan) Sinode vergadering by Kariya (naby Nagoya)
l RCJ Sinode Diakonale Aktiwiteite Komitee vergadering waar ek ‘n aanbieding oor diakonale werk in die NG Kerk-familie gedoen het.
l Gesprekke oor die beplaning van ons 2024 diakonale studietoer, wat deel sal vorm van ons volgende deputasie besoek aan Suid-Afrika.
l Seikeikai bestuursraad vergadering, waar ek uitgetree het as bestuurslid, maar voortaan in ‘n ander kapasiteit betrokke sal bly in nou samewerking met RCJ diakonia.
l Zoom ontmoeting met verteenwoordigers van ACK gemeentes uit Nieu-Seeland, wat opnuut hulle betrokkenheid by Missie Japan herbevestig het.
l RCJ Westelike ring se leraarskring en ringsvergadering het die bevestiging van twee vroue as kerkleiers (diensleraars) ingesluit, ‘n groot vreugde!
Rustyd
Ons reis Donderdag na Sendai area – vir ons jaarlikse verlof – na ‘n 133 jaar oue plek van rus vir sendelinge van regoor Japan en die wêreld. Bid asseblief dat ons ook hierdie geleentheid (20 Julie – 12 Augustus) ten volle sal benut om mekaar te bemoedig en om opnuut met energie en visie herlaai te word.
Met diep waardering vir jou betrokkenheid deur gebed, ondersteuning ens.
Vrede en vreugde in alles wat jy aanpak.
Stéphan, Carina en gesin
Sake vir Gebed
- Talle RCJ gemeentes in Japan is sonder leraars (ongeveer 40). Sendingposte sukkel met min lidmate, beperkte bronne, en enkele samewerkende sendelinge (veral uit Korea) wat leraars help in die versorging van hul lidmate, asook met plaaslike evangelisasie. Bid vir nuwe, sterk leiers.
- Ons 2024 diakonale toer beplanning, veral vir die werwing van drie studente (teen einde Julie) wat ons graag wil blootstel aan diakoniale werk in Suid-Afrika.
- RCJ Kita Kobe gemeente waar ons plaaslik bedien en wat binnekort haar 20e bestaansjaar vier en ‘n nuwe visie vir die toekoms onderskei.
- Vir ons verloftyd, vir goeie rus, herstel en betekenisvolle gemeenskap (fellowship) by Takayama.
- Die De Wets se bediening in Niihama, vir vrug op en vreugde in hulle werk en vir volgehoue krag en gesondheid.