Oor Groei en Geleenthede

Aan die “einde” van ons jaar

Die somerreën seisoen is verby, maar hemelhoë humiditeit bly ons voorland. ‘n Groen kombers van ryslande (foto hierbo) omsingel ons buurt. Emmers vol reën en hittegolwe is ‘n wenresep vir rys kweek, maar vir fisiese energie, ‘n doodsteek! Ons voel ook self redelik lam en tam (in Japannees: natsubate)… 

Genadiglik loer ons jaarlikse somerverlof om die draai, so ons sien uit om te stop, rus, speel en stil te word. Maar voor ons (Sondag) vertrek, deel ons eers ‘n paar belangrike grepies uit onlangse gebeure en geleenthede:

  • Daar is ‘n nuwe 6-minuut video oor ons familie-lewe en ‘n paar bedieninge waarin ons die afgelope twee maande betrokke was. Deel dit gerus.
  • Ons deel graag meer oor ervarings en gedagtes uit ons pad met tuis-onderrig. Carina is aan die woord via haar (nuwe) blog: Whole in Japan
  • Ons staan voor ‘n groot skuif: Stéphan is amptelik beroep as voltydse dosent na Kobe Reformed Theological Seminary
  • Ons vra jou met vrymoedigheid om saam met ons en vir ons te bid. Hierdie maand se  gebedsfokus is hier beskikbaar

Jou ondersteuning is onmisbaar, en ons waardeer dit!

Vrede en vreugde, 

Stéphan, Carina, Annlie, Cornelius, Lodewyk en Stephan (jnr.)

Woorde skiet dikwels te kort om ervaringe te probeer beskryf. Daarom het ons dié rondte in kleur en klank grepies aanmekaar geryg in ‘n ses minute kort video. Dit is maklik om te deel met vriende en ander ondersteuners, of in eredienste of kleingroepe. Onthou om jou klank aan te sit, en kies vir die 1080p HD opsie.

Tuisonderrig is ‘n uitdagende maar uiters sinvolle en belonende reis. Carina pak dit met groot omsigtigheid, en heelhartig aan. En ons kinders vorder mooi. Daarvoor is ons baie dankbaar. As jy ‘n idee wil kry van wat gebeur, en hoe ons hierdie ongewone pad as gesin beleef, besoek of teken in op Carina se blog, genaamd Whole in Japan

Kobe Kweekskool in (somer)blom - foto met erkenning aan Takeshi Yasuda
Hoekom glo ons die skuif na Kobe is deel van God se pad met ons?
 
Ons sou nog veel meer kon beskryf, maar eers net kortliks:
 
  • Gesprekke en gebed oor die moontlike skuif is reeds langer as drie jaar al (binne die Reformed Church in Japan) aan die gang. Eintlik het een van Missie Japan se leiers al meer as ‘n jaar voor ons koms na Japan (m.a.w. in 2008 reeds) hierdie visie gedeel.
  • Die plaaslike kerk (RCJ) saam met wie ons werk, het self met onderskeiding en omsigtigheid dié amptelike versoek gerig.
  • Die beroeping is wesenlik deel van die fokus van die getuienis vennootskap tussen Missie Japan, RCJ Shikoku Ring en RCJ Kobe Teologiese Kweekskool.
  • Op alle vlakke is die proses biddend hanteer en goedgekeur: saam met RCJ Tokushima gemeente, Shikoku Ring en (DV Oktober 2015) die volledige RCJ Sinode.
  • Ons ervaar persoonlik diep vrede en opgewondenheid oor die nuwe pad, want dit is in die hart van die plaaslike RCJ kerk se visie. Ons glo die Here het die kerk en ons duidelik hierin gelei.
  • Verlede jaar het ek by meer as 60 geleenthede die kans gehad rakende die moontlike beroeping met Missie Japan ondersteuners in Suid-Afrika ons gedagtes en gevoelens te deel. Ons het (as gesin) eensgesinde, bevestigende reaksies van oraloor ontvang. Hierdie is dus ‘n saak waaroor ons as wêreldwye geloofsfamilie saam onderskei het. Dit is nie net ons individuele idee of droom nie.
  • Pastorale sorg en berading as vakgebiede se noodsaaklikheid in Japan is glashelder. Kyk gerus na ‘n 4-minute onderhoud wat ek voer met kollegas van die Kobe Kweekskool hieroor. Kyk die video hier onder.
  • Ek (Stéphan) sal steeds my predikant-status binne die RCJ behou, en dus nog gereeld in kerklike bediening betrokke wees in die toekoms (gefokus op Shikoku Ring).
  • Ons kry die geleentheid om (as gesin) op nog ‘n breër vlak binne die RCJ, en wyer ekumenies, betrokke te wees in Japan.
  • Vir ons as gesin sluit dit nuwe moontlikhede oop, en breek dit die isolasie (wat ons dikwels in Tokushima ervaar het). Op die tuisskool front, sowel as i.t.v. ‘n breër netwerk van ondersteuning – bv. van ander sendelinge met dieselfde opset en soortgelyke uitdagings – is Kobe se ligging ideaal.
  • Die feit dat Karen Strydom, as ons nuwe sendeling-kollega, ook juis DV vanaf begin 2016 in Kobe sal begin met haar taalstudie, is nie toevallig nie.
  • In kort: ons vertrou dat ons God-gegewe gawes en passies, sowel as ons ervaringe en opleiding tot op hede, op ‘n baie spesiale manier voortaan nog dieper sal blus, en tot seën kan wees vir ander. Daarom glo ons die nuwe (be)roeping is in God se wil.  
 

Pastorale sorg en berading as vakgebiede se noodsaaklikheid in Japan is glashelder. Kyk gerus na ‘n 4-minute onderhoud wat ek voer met kollegas van die Kobe Kweekskool hieroor.

Kyk gerus vanaf 59:30 tot by 1:03:55