Beste gebedsvriend,
Baie dankie dat jy tyd maak om te bid vir ons. Hier volg ons gebedsfokus vir Augustus 2015. Ons waardeer jou meelewing, en jou intree by God namens ons. Deel die versoeke asb. ook wyer met ander gebedsvriende.
Vrede en vreugde, in Christus.
Stephan en Carina
Gebedsfokus vir Augustus (saamgestel deur Tobie de Wet):
Van der Watt kinders se tuisonderrig:
Dit was ‘n baie goed-nagevorsde en deurdagte, maar ook ‘n geweldige groot en uitdagende geloofstap vir Stéphan en Carina om drie-vier jaar gelede op tuisonderrig te besluit, eerder as om hul kinders na ‘n plaaslike Japannese skool te stuur. Carina het egter die taak met absolute oortuiging en passie aangepak. Sy werk steeds elke dag baie hard om saam met die versorging van kleuters en haar daaglikse huislike en kerklike verpligtinge die tuisonderrig te behartig.
Met Stéphan se ondersteuning doen die kinders egter baie goed, ten spyte van die feit dat hulle van meet af met drie tale (Afrikaans, Engels en Japannees) worstel en hul onderrig-medium Engels is. Einde Julie sluit ‘n termyn af en 1 September begin die nuwe termyn wat tot Kersfees strek. Ons dank die Here vir wat gedoen is, bid vir ‘n goeie rustyd saam, en ook vir Carina se voorbereiding vir die nuwe termyn asook vir die pad vorentoe.
Van der Watts se gesins-verlof:
Die grootste deel van Augustus-maand is Stephan-hulle met verlof (3 – 25 Augustus). Na ‘n baie besige en veeleisende tyd vir beide van hulle is hul behoefte aan wegbreek, rus en ontspan nogal groot. Die bekendste, gewildste en goedkoopste vakansie-oord vir sendelinge is in die Noord-Ooste van Japan, ‘n plek met die naam Takayama. Daar het hulle geleentheid om met sendelinge en hul gesinne van verskillende lande en nasionalitiete wonderlike (sosiale en geestelike) gemeenskap te geniet.
Ongelukkig is dit in die rampgebied geleë, naby Fukushima waar die kernkrag ongeluk gebeur het, en bly die gevaar van bestraling baie wesenlik. Ons bid vir hul bewaring en vir ‘n goeie tyd saam as gesin met mekaar en ander gesinne. Ons bid ook vir ‘n veilige reis heen en weer (1100 kilometer een rigting). Met hul terugkeer lei Stéphan die English Fellowship by RCJ Tokushima gemeente. Hulle begin ook voorberei vir die groot skuif na Kobe…
Ds. Onishi se studieplanne vir Bloemfontein, SA:
Yoshi Onishi, sy vrou Miho en hul drie dogtertjies het twee dae by Stéphan-hulle kom kuier om hul planne te bespreek en raad en leiding te kry. Die plan is om DV begin volgende jaar as gesin na Bloemfontein te verhuis waar Ds. Yoshi vir minstens drie jaar nagraads aan Vrystaat Universiteit in Ou Testament (hy is reeds ‘n deeltydse dosent aan die RCJ Kobe Kweekskool) wil studeer.
Dis egter ‘n lang en moeilike proses om aanvaar te word as student, ‘n studie- en verblyfvisum vir hom en sy gesin vir SA, asook toelating tot ‘n skool en huisvesting te verkry. Daarby moet hy binne ‘n beperkte finansiële begroting beplan en werk. Kom ons dra hulle in ons gebede, en ook vir Gideon van der Watt en ander kollegas in Bloemfontein wat ‘n belangrike rol speel in hierdie proses.
Missie Japan se nuutste sendeling, Karen Strydom se voorbereiding vir Japan:
Karen is ernstig besig met deputasie, m.a.w. besoeke aan gemeentes en werwing van geestelik-morele-, gebeds- en finansiële ondersteuning. Sy is ook besig om haar geestelik en prakties (bestudering van taal, kultuur, geskiedenis en Christendom van Japan) voor te berei vir haar vertrek na Japan, DV aan die begin van 2016. Ons bid die toerusting van die Here op haar (Handelinge 1 : 8) en dat sy ‘n breë en sterk ondersteuningsbasis kan vestig voor haar vetrek.
Gys en Linda Olivier, met Linie, ons Engelse onderwyser sendelinge by SEIWA Skool:
Gys-hulle versoek dat ons vir die volgende sal bid:
Bid vir hul dogtertjie Linie by haar Japannese kleuterskool. Om hul kind binne die anderse Japannese kultuur te laat opvoed en grootword bring allerhande uitdagings en bekommernisse mee. Bid ook vir ‘n groepie Amerikaanse Christenstudente wat vir drie maande by die skool kom uithelp, help met die Engelse klasse, geestelike boodskappe aanbied, en met ‘n Bybelkamp sowel as ‘n Engelse kamp. Bid vir die “English Day” vir kinders wat belangstel om by hul skool in te skryf en vir die groei van SEIWA Meisies skool.
Gys en Linda ervaar op hierdie stadium ‘n gevoel van “homesick” wat onvermydelik deel is van ons sendelinglewe ver weg van jou eie land, mense, taal en kultuur, veral in die veeleisende samelewing en werkssituasie soos dié van Japan. Laat ons ook die Here dank vir sy oorvloedige seëninge op hul lewe en werk.