
Elmar en Nadine vertrek na Japan
Ons is dankbaar dat Elmar en Nadine du Rand, na ‘n lang voorbereiding nou uiteindelik na Japan vertrek. Hulle het die afgelope tyd ‘n hele aantal gemeentes dwarsoor Suid Afrika besoek om ondersteuning te werf. Mooi verhoudinge is gebou. Hulle het hard gewerk om hulleself voor te berei vir die nuwe uitdagings wat wag.
Oor die laaste paar weke is hulle by drie geleenthede amptelik uitgestuur. Dit was besonder mooi geleenthede, waar George Moedergemeente, Pellissier Gemeente en die Sentraalring van die NG Kerk Vrystaat hulle met blydskap en seënbedes uitgestuur het. In Romeine 10:13-15 staan: “…want elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word. Maar hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe; ‘Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring’”
Nou lê die afskeid van familie en vriende hier in Suid Afrika voor. En die aankoms in die vreemde Japan. Elmar en Nadine gaan in die Kobe Reformed Theological Seminary van die Reformed Church in Japan (RCJ) woon. Hulle gaan die volgende jaar of twee baie hard werk aan taal- en teologiese studies. Hulle sal moet aanpas in Japan en deel van die kerk daar word. Die mense van die RCJ sal, so weet ons, vir hulle met oop arms ontvang. En Stephan en Carina en hulle gesin sal hulle laat tuiskom. Ons bid vir Elmar en Nadine alles wat mooi is toe.
Ons wil graag opnuut vir elke gemeente en die talle vriende van Missie Japan baie dankie sê vir die mooi manier waarop julle die laaste tyd by Elmar en Nadine betrokke geraak het en in hulle roeping na Japan begin deel het. Dankie vir julle volgehoue ondersteuning en beloftes vir die toekoms.

Die Reformed Church in Japan sê dankie
Tydens ‘n onlangse besoek aan Japan, om reëlings vir Elmar en Nadine se verblyf in Japan te gaan tref, het die Reformed Church in Japan, in elke byeenkoms en vergadering hulle opregte dank aan Missie Japan oorgedra. Hulle dankbaarheid en waardering is oorweldigend. Hulle het baie groot waardering vir is wonderlike werk wat Stephan as professor by hulle teologiese skool doen. Nie net Stephan se toewyding en bekwaamheid as dosent nie, maar veral ook die voorbeeld wat hy en sy gesin uitleef, maak groot indruk. Die Japanners is ook dankbaar vir die werk van Gys en Linda Olivier as onderwysers by ‘n Christelike skool. Hulle is dankbaar oor en sien uit na die bydrae wat Elmar en Nadine as sendeling sal kan lewer. Hulle waardering die verhouding met Missie Japan en die kerke in Suid Afrika.
By ‘n vergadering met die Diakonale Kommissie van die kerk daar het hulle aan Missie Japan ‘n heel besondere publikasie, as blyk van groot dankbaarheid, oorhandig. Tydens die 2011 “Great Disaster” in Noord-Oos Japan, toe duisende mense dood en honderde duisende totaal ontwrig is, het Missie Japan ‘n rampfonds gestig. Van oral oor Suid Afrika het mense donasies gemaak. Meer as R1,4 miljoen is aan die kerk daar oorbetaal. Daarmee het hulle ‘n huis bekom wat as trauma- sentrum gedien het. Duisende mense het daar berading kom kry, is gehelp om hul trauma te verwerk en het nuwe hoop gevind. Christus se liefde is met hulle gedeel. Tobie en Annalie de Wet het vir ‘n paar maande daar gaan werk. In die publikasie is die getuienisse van duisende mense oor wat hierdie projek vir hulle beteken het, opgeteken. Met die publikasie – daar is net ‘n handjie vol boeke publiseer, want die getuienisse daarin is so aangrypend en dikwels persoonlik dat hulle dit nie oral wil uitblaker nie – wil die kerk daar vir ons in Suid Afrika dankie sê. En, is saam besluit, ons gaan begin werk aan ‘n gesamentlike publikasie waarin besin word oor die rol wat kerke in rampe behoort te speel (hier by ons in Suid Afrika is daar vanweë klimaatsverandering ook al hoe meer rampe).


Dit gaan goed met ons sendelinge in Japan
Dit gaan baie goed met Gys en Linda en hulle pragtige kinders Linie en Johan. Hulle werk as onderwysers by die Seiwa Christelike Skool in Koichi Stad op die eiland Shikoku.
Stephan en Carina en hulle begaafde kinders Annlie, Cornelius, Lodewyk en Stephan is ook almal gesond; hulle werk baie hard, maar straal van lewensvreugde. Carina doen besonder goeie werk om die kinders te tuis-onderrig. Hulle as gesin beplan om eersdaags vir ‘n paar weke Amerika toe te gaan. Stephan het ‘n beurs gekry om navorsing by die hoogaangeskrewe Calvin Theological Seminary van ons susterkerk die Christian Reformed Church of America in Grand Rapids, Michigan te gaan doen. Ons is baie trots op Stephan en wens vir hulle ‘n geseënde tyd toe.
Dankie vir almal se voortgesette ondersteuning en gebede.
Gideon van der Watt
Sekretaris