‘n Annerste Goeie Vrydag

Goeie Vrydag in Tokushima, ons eerste een. Ons is bederf met die lente in Paastyd … Toe ek gister onder die indrukwekkende grys en blou geskakeerde wolke, en tussen die plek-plek pienk bloeisels in die berge gaan draf het, kon my hart nie ophou sê: dankie Here, die lente is hier! Dit is híér in baie meer as net die seisoen se merkers … maar ook veral in ons Verlosser en Vriend se opstandings-LIG en LEWE wat deurgebreek het.

Vanoggend lees ek Psalm 22. Die donkerte, verlatenheid, geweld, verlies, magteloosheid en frustrasie (soos met die eerste Goeie Vrydag) … maak plek vir die aangrypende belydenis (vers 10-11) te midde daarvan: “U het my die eerste lewensLIG laat sien, my veilig laat rus aan die bors van my moeder. Van my geboorte af is ek onder u sorg, van die begin van my lewe af is U my God.”

En ek dink weer aan die fondament van ons diepste identiteit. Die Drie-enige God, beliggaam in Christus … selfs van vóór my geboorte af. Dankie Here, dat hierdie ‘annerste’ Goeie Vrydag steeds goed is omdat U orals en altyd ons Verlosser is.

Redeemer, redeem my heart again. Saviour, come and shelter me from sin. You’re familiar with my weakness, devoted to the end … Redeemer, Saviour, Friend.