Hoe onlosmaaklik jy verknog kan wees aan jou kinders en kleinkinders …

Beste vriend/vriendin,

Terwyl ons begin eet aan geskroeide sashimi in Kochi stad se gesellige vismark, draai die gesprek by hoe onlosmaaklik jy verknog kan wees aan jou kinders en kleinkinders … My gespreksgenote is die ring van RCJ Shikoku se predikante. Maar hierdie rondte – seker deels ook omdat ek ná 3 jaar darem meerendeels alledaagse Japannese gesprekke kan verstaan – is daar ‘n ongekende vrymoedigheid by my kollegas om meer oor hulle self te deel. Die twee wat langs my sit het beide redelik onlangs vir die eerste keer oupa geword. Een kollega begin met handgebare en geligte wenkbroue vertel oor hoe hy dit onbevange geniet om sy kleindogter styf en vetroetelend te  omhels en soentjies te gee op haar wang … hy sê dat hy gewoonlik voel oor haar soos oor ‘n pak marshmallows, wat jy net nie kan laat staan as jy eers begin weglê het nie. Daar’s ‘n lewendige flikkering in sy oë terwyl hy uitbundig voortgaan om sy nuutgevonde vreugde met ons te deel … trots, helder en kinderlik vry. Ek knik heelhartig instemmend, en kan diep identifiseer, al is ek nog nie self ‘n oupa nie, maar minstens pa van drie – wat saam met Carina die onvoorspelbare uitdagings en onvervangbare vreugdes van ouerskap deel.

‘n Ander tipe ervaring van grootouerskap

Dan deel ons ander kollega oor dieselfde werklikheid, maar asof vanaf ‘n veraf planeet. Vir hom is sy kleinkind oënskynlik niks meer oulik of spesiaal as enige iemand anders se kleuter nie … dis in soveel woorde wat hy dit stel. Hy gee glad nie sommer drukkies nie en vertel sonder om ‘n oog te knip hoe dat hy g’n erg daaraan het om dieper emosioneel uit te reik na sy direkte bloedverwant nie. Ek is eers half stom-verdwaas en vra hom tong-in-die-kies of hy ernstig is. Hy is doodernstig, en hy deel verder dat sy verhouding met sy eie pa ook omtrent geen fisieke kontak ingesluit het nie. Hy kan trouens nie eers ‘n geleentheid in sy kinderjare herroep van sy pa wat hom ‘n drukkie gegee het nie …

Gebroke verhoudinge is oral sigbaar

Hierdie kollega se vertelling het weer die realiteit van – so vermoed ek – baie Japannese huishoudings se gebrek aan intieme verhoudinge bevestig. Natuurlik is die probleem van gebroke ouer-kind verhoudinge wêreldwyd pynlik aanwesig. Maar juis in hiérdie (ei)land tel ons as “uitlanders” miskien nog meer seine van stukkende gesinne op, omdat ons van die rand af “inkyk” na die gemeenskappe waarin ons woon en werk. Meer en meer van ons vriende begin ook openhartig met ons deel oor huishoudelike geweld, egskeidings, worstelinge met slaapsteurings, depressie en vele ander lewenskrisisse.

Bedieningsfokus: familie-gerigte kwessies

En dit is spesifiek hiérvoor wat ek in hierdie nuusflits wil vra of jy sal meeleef en saam bid. Want dit is ook juis in dié verband dat ek en Carina oortuig is ons dalk ‘n klein bydrae en verskil kan maak. Tussen Maart en Desember vanjaar – buiten om by 19 verskillende klein gemeentes en sendingposte in Shikoku-eiland te preek ens. – bied ek (soms met Carina en die kinders by) ‘n inleidende seminaar oor familie-gerigte kwessies by hierdie plekke aan. Ons is oortuig dit behoort die toekomstige fokus van die Here se bediening-deur-ons-hier te wees. Die doel is verál om vanjaar die plaaslike gelowiges se vrae, opinies en ervarings hieroor te begin verstaan. Die vyf kwessies waaroor die aanbiedings en gesprekke handel is:

  • Huweliksverryking
  • Individuele berading en sorg binne familie-verhoudinge
  • Christelik-morele opvoeding van kinders en ouerskapsvaardighede
  • Gefokusde kinderbediening en evangelisasie
  • Getuienis binne nie-Christen gemeenskappe

Meer nuus en foto’s ens. oor ons ander bedrywighede, en hoe dit met ons te midde daarvan gaan, asook gebedsversoeke, volg DV later dié maand met die aanvang van Pinkstertyd.

Baie dankie vir jou ondersteuning!

Vrede

Stéphan, Carina, Annlie, Cornelius en Lodewyk