Globale Kerk in fokus

Toe ek die klein ventilasie-vensters op grondvlak in julle kapel sien, het ek gedink dit sal handig te pas kom as die polisie skielik toeslaan en ek moet vlug,” vertel sy half-glimlaggend, dog ernstig.

Haar (skuil)naam is Yukiko en sy kom van een van Japan se naburige lande. Sy is een van ontelbaar baie mense in die ondergrondse kerk daar, wat pal leef in vrees en onsekerheid omdat die owerhede enige tyd kan toeslaan en haar en haar mede-Christene vervolg of selfs doodmaak.

Ons was bevoorreg om na haar getuienis te luister terwyl sy by ons kweekskool (Kobe Reformed Theological Seminary = KRTS) besoek afgelê het. Yukiko se dogter Akiko (skuilnaam), is nou ‘n deeltydse student by ons.

Foto: KRTS Kapel van buite op ‘n koue winters-oggend, met die ventilasie venster.

Lees gerus haar getuienis oor hoe sy hier beland het en haar studies ervaar.

Globale Kerk in fokus

Foto heel bo: FKRTS klas oor Pastoraat saam met Koreaanse studente.

In Japan is die voordele van ‘n groep-georiënteerde samelewing duidelik: harmonie, produktiwiteit, wedersydse respek en nog baie meer. Daar is egter ook nadele: druk om te konformeer, eensaamheid en die alewige vrees vir mislukking. Hierdie uitwerking (positief en negatief) van ‘n samelewing wat eerstens waarde aan die groep heg, voor die individu, beïnvloed ook natuurlik die Christene hier. Hulle is deel is van geloofsgemeenskappe (gemeentes) in Japan wat hierdie realiteite trotseer. In Suid-Korea is soortgelyke uitdagings, en tog ook heelwat verskille. Dit was duidelik in die klas wat ek onlangs aangebied het, wat vyf besoekende studente van Korea ingesluit het. Hulle is ons amptelike vennote van Koshin Presbiteriaanse Kweekool in Cheonan.

Die interaksie was ‘n diep herinnering aan die wonder van vergifnis en versoening, deur twee (historiese) vyande wat nou een missie en visie deel ter wille van God se koninkryk. Dit was ‘n voorreg om die wedersydse respek en liefde in aksie te sien, tesame met die humor en drif by tafeltennis en op die sokkerveld! Die huidige sending vennootskappe tussen die RCJ en verskeie Koreaanse kerke is geensins iets wat as vanselfsprekend aanvaar kan word nie. Dis niks minder nie as ‘n wonderwerk, gegewe die geskiedenis van vyandigheid tussen Japan en Korea, dat ongeveer 10% van die RCJ se leraars vandag van Koreaanse afkoms is.

Vinnige feit: In 1990 het Suid-Koreaanse Kerke ongeveer 550 sendelinge uitgestuur. In die twee dekades wat gevolg het, het daardie getal gegroei tot 25 000 (!) sendelinge, wat in minstens 176 verskillende lande bedrywig is. Die getal groei steeds!

(Kirsteen Kim, Changes and trends in world Christianity. Transformation 30(4): 257-266)

Fotos: Besoekers uit Suid-Korea

Lesing oor Missiologie @ KRTS

Op 7 Januarie, in ‘n sneeubedekte Kobe, het ek die voorreg gehad om die openingslesing (in Japannees) te gee by die opening van ons nuwe kwartaal.

Die tema was: Die belangrikheid van Missiologie in Japan, in die lig van huidige tendense in globale sending. Ek is dankbaar dat dit goed gegaan het en daar baie konstruktiewe terugvoer was uit Japan en Suid-Afrika, n.a.v. die inhoud.

Sake vir Gebed

  • Kita Kobe en Niihama gemeentes waar ons en die De Wets werk, veral vir mense wat soekend is i.t.v. geloof en vir die eerste keer in kontak kom met die kerk, bybel en die drie-enige God.
  • Kobe se Kweekskool waar ek betrokke is by die opleiding van kerkleiers, veral vir die ses nuwe (kandidaat) teologie studente wat DV binnekort begin met hulle studies.
  • Vrydag (31 Jan.) het ons ‘n jaarlikse dag van afsondering en gebed by ons kweekskool. Bid saam dat dit ‘n geleentheid sal wees wat almal se roepings herbevestig en ons nuut rig op die werk wat God vir ons elkeen hier voorberei vanjaar.
  • Vir voorbereidings vir die opkomende besoek (middel Maart) van vier van Missie    Japan se leiers uit Suid-Afrika, en vir gesprekke rakende die pad vorentoe i.t.v. ons samewerking in Wes Japan (ingesluit Shikoku), veral die moontlike werwing van nuwe sendelinge kandidate.
  • Annlie (ons oudste dogter) vir haar matriekjaar, asook vir helderheid oor haar toekomsplanne, i.t.v. verdere studies en loopbaan vorentoe.
  • Stephan se ouers in Humansdorp. My Pa gesondheid is onder druk en my Ma is voltyds besig om hom te versorg, wat baie krag verg.
Ons dank die Here vir julle as ons medewerkers en bid vir sy kragtige teenwoordigheid in julle midde.
Mag die God van hoop julle deur julle geloof met alle blydskap en vrede vervul, sodat julle hoop
oorvloedig kan word deur die krag van die Heilige Gees.
 
(Romeine 15:13)

Vrede en vreugde,
Stéphan, Carina en gesin

Fotos: van ons medewerkers (ds.) Tobie en Annalie de Wet na hulle erediens met kersfees; van Annlie wat nou ‘n hulp ‘afrigter’ is van kleiner kinders by haar ballet groep, en dan twee van ons pret in die sneeu. Vat-so!