
Akiko (skuilnaam)
Ek het in April 2024 by die Kobe Reformed Theological Seminary (KRTS) begin studeer. Die rede hoekom ek my studies hier begin het, was omdat ek gevra is om ‘n boodskap te bring by die Sondag erediens by die kerk waaraan ek behoort (nie ‘n RCJ gemeente nie). Die pastoor was besig om kankerbehandeling te ondergaan en was nie gesond genoeg om voort te gaan met gereelde preke nie. Sonder enige ervaring van teologiese studie het ek met ‘n gevoel van angs tot die Here gebid, omdat ek gevoel het soos ‘n blinde mens is wat ‘n ander blinde een rondlei (Luk. 6:39). Die Here het my toe gelei om as deeltydse student in te skryf by KRTS.
Tot dusver het ek klasse geneem oor ‘Teïsme’, ‘Verlossingsleer’, ‘Apologetiek’ en ‘Geskiedenis van Christenskap in Japan’. Nie een hiervan was vir my maklik nie, aangesien ek geen basiese agtergrondskennis gehad het nie, maar ek kon steeds baie verruimende ervarings opdoen deur my studies. Die brokkies kennis en inligting oor God het geleidelik soos legkaartstukke inmekaar gepas, en ek voel dat my vae persepsies algaande verhelder word.
Boonop ontvang ek elke dag groot aanmoediging uit die entoesiasme van die dosente en my medestudente. Die studies het my insig verryk, nie net vir my bediening om boodskappe uit die Bybel te deel nie, maar ook vir my geloofslewe in die algemeen.
Veral die aanbidding wat tussen klasse plaasvind (in die kapel) is ‘n kosbare tyd gevul met vreugde in die Here, en dit laat my besef dat die kweekskool ‘n gemeenskap is waar ons vir mekaar bid en bemoedig. Deur ervarings soos hierdie wil ek graag van harte aanbeveel dat Christene wat nie daarna streef om pastors of leke predikers te word nie, ook die kweekskool bywoon. Ten slotte bid ek dat die Here almal wat so toegewyd by KRTS werk, ryklik sal seën en beskerm.