Die poskaarte

Van die poskaarte wat ons oor nuwe jaar ontvang het.

Hierdie nuusbrief was veronderstel om jou al ‘n week gelede te bereik. Maar, intussen was ek 5 dae in die hospitaal a.g.v. ‘n nood-operasie om my blindederm te verwyder. Ons is baie dankbaar vir elke gebed en bemoediging van oraloor, besoeke van kollegas, vriende en studente ens. Beproewinge soos dié skep ruimte om die Here op ‘n unieke manier te ontmoet, dieper te besin oor ons broosheid, prioriteite en veel meer. 

Hoe het jou nuwe jaar begin?

Ware geluk … en goeie nuus
Japan gaan groot met nuwejaar, veral as dit kom by poskaarte. Etlike biljoene nuwejaarskaartjies is oor en weer gestuur om 2019 in te lui met goeie wense. Ons het ook vanjaar weer ons kwota ontvang (sien foto bo), hierdie keer meestal met ‘n bosvark prentjie op. Die rede: 2019 is die jaar van die bosvark – volgens die Chinese kalender se 12-jaar siklus van diere – wat ook in Japan nagevolg word. 

Vir miljoene Japannese wat in hierdie 12e jaar gebore is beteken dit blykbaar dat daar groot geluk(lees: welvaart) wag. Vir miljoene ander vorm dit deel van die eindelose tapisserie van Japan as ‘land van die duisend gode’, waarin bosvarke vanjaar opnuut opgehemel word as goddelike wesens. En vir nog ander: ‘n (godsdienstige) geleentheid om geld te maak, want bosvarke pryk nou van klere- tot koffiewinkels en wie weet waar nog orals.

As ek in ‘n supermark inloop dié tyd van die jaar (tot en met 3 Februarie), hoor ek onophoudelik die refrein: “oni wa soto, fuku wa uchi”. Letterlik vertaal: Bose geeste uit, goeie geluk(“good luck”) in. Dit hou verband met die setsubun fees waar die gooi van bone gebruik word in ‘n reinigings-ritueel, om bose geeste af te weer en die goeies te verwelkom.Lees hier meer. Daarmee saam is onlangs naby ons huis (op skoolgronde) weer ‘n ander fees gevier, genaamd dondo yaki. ‘n Reuse vuur word gemaak, waarin o.a. allerhande gelukbringers verbrand word, uit dankbaarheid vir die geluk wat hulle gebring het in 2018. Lees en kyk hier verder. 

Hierdie rituele maak ‘n skrefie oop op die radikaal anderse konteks waarin ons leef en werk. Hier waar ons deel is van ‘n minderheid binne ‘n minderheid. Met ander woorde, as deel van 1% Christene in Japan, en daarby as die enigste ses westerlinge in ‘n buurt van ongeveer 8000 mense, in ‘n buitewyk van Kobe. Dis hiér waar die Here ons geplant het en gebruik, om die geskenk van die evangelie – goeie nuus – te deel, Dié geskenk het niks met “good luck” te doen nie, maar getuig dat die losprys vir ons diepste geluk reeds betaal is. 

Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. (2 Kor.4:7). Daarom vra ons: bid asb. saam vir ons, en vir die krag van God deur ons gebrokenheid. Hieronder is meer details oor waarvoor om saam te bid.

Vrede en vreugde, 
Stéphan, Carina, Annlie, Cornelius, Lodewyk en Stephan

Sneeupret ná RCJ Ooya sendingpos se erediens (waar ek onlangs gepreek het).
Sneeupret ná RCJ Ooya sendingpos se erediens (waar ek onlangs gepreek het).
Kinders maak versierings by RCJ Kita Kobe se Kersfees partytjie.
Ons sing kersliedere saam met KRTS studente by ‘n nabygeleë treinstasie.
RCJ Tokushima ná ‘n erediens en kinder-kersfees geleentheid waar ek en Carina bedien het.

Sake vir Gebed

  • Besoek van Missie Japan sekretaris, (dr.) Gideon van der Watt (31 Jan-8 Febr, saam met sy vrou Ronél) aan Japan: vir wysheid in gesprekke oor ons werk en toekoms hier, veral ook oor nuwe sendelinge Elmar en Nadine du Rand se koms (30 Maart)
  • Voorbereidings (fisies en geestelik-emosioneel) van Elmar en Nadine Du Rand voor hulle koms. Hulle visum se finale goedkeuring is ook nog hangende. Hulle besoek ook nog gemeentes om ondersteuning te werf in SA, voor hulle koms – kliek hier om meer te lees wat hulle self skryf.
  • Carina se tuisskool-onderrig: vir haar vir krag, geduld en volharding, en vir die kinders se groei en verhoudings (by die kerk, in die buurt, via sport ens.)
  • Stéphan se herstel ná verlede week se operasie. Vir krag en leiding vir dié week se ontmoetings saam met Gideon (en Ronél) en Japannese kerkleiers. Ook vir Stéphan klasgee by die kweekskool: vir konteks-relevante inhoud, geestelike verdieping en insig in mense-verhoudinge, wysheid vir verskeie aanbiedings by kerke, ook deur preekbeurte in gemeentes.
  • Vir ’n nuwe visie en mense wat dit kan uitvoer: wat ons plaaslike gemeente (RCJ Kita Kobe) nodig het om die gemeenskap met die evangelie te bedien.
  • Vir die Here se genade en leiding in ’n konteks met 1% Christene, en ’n toenemend regs-gesinde regering.
  • Gys en Linda Olivier, met hulle twee kinders Linie en Johan, wat as sendeling-onderwysers dien by Seiwa Christenskool in Kochi (Shikoku eiland). Ook vir gesprekke rondom hulle werk en toekoms, saam met (dr.) Gideon en Shikoku kerkleiers.