Karen Strydom
20 Januarie 2016
Liewe Missie Japan ondersteuners,
KAREN STRYDOM
Dit is vir ons hartseer om bekend te maak dat Karen Strydom nie meer deur Missie Japan as Jeugwerker na die Reformed Church in Japan (RCJ) uitgestuur word nie.
Ons was vol hoop dat ons Karen sou kon uitstuur. Sy is reeds in diens van Missie Japan geneem en het die laaste maande ondersteuning in gemeentes en by groepe en individue gewerf. Oral het sy haar roepingsverhaal met oortuiging vertel. Ons het in haar roeping na Japan gedeel en veel bygedra tot haar voorbereiding.
Sedert November 2015 het dit egter duidelik geword dat Karen teologiese oortuigings huldig wat indruis teen ons Gereformeerde belydenis. Sy is duidelik gekant teen die doop van kinders en sy het besware teen die praktyk van belydenisaflegging. In die lig van die spesifieke werk (as jeugwerker) wat sy in die RCJ sou gaan doen, die RCJ se eie sterk Gereformeerde identiteit en die jarelange verhoudinge van wedersydse respek tussen ons twee kerke, het ons as Missie Japan, die RCJ en Karen na vele gesprekke saam tot die besef gekom dat dit nou die beste is om nie voort te gaan om haar na die RCJ te stuur nie. Ons oordeel dat dit uiteindelik ook in Karen se belang is om nie intiem deel van ʼn kerk te word waarin sy teologies nie sou kon tuiskom nie. Dis vir ons almal ʼn reuse teleurstelling! En ons kan dink dat dit vir almal wat met entoesiasme in haar roeping gedeel en haar begin ondersteun het, net so ʼn groot teleurstelling is. Ons bly egter in kontak met Karen en bid dat daar moontlik ander deure na Japan vir haar sal oopgaan. Ons help waar ons kan.
Missie Japan het Karen vir ʼn aantal maande in diens geneem. Ons het heelwat uitgawes gehad vir haar lewensonderhoud en om haar by gemeentes uit te kry. Bydraes wat reeds gemaak is vir Karen se uitstuur na Japan, het hierdie koste help dra. Ons kan egter dink dat daar gemeentes of individue is wat dalk so ontstel is deur hierdie verwikkelinge, dat hulle graag hulle geld sou wou terug ontvang. Laat weet ons asseblief, dan stuur ons dit aan u terug.
Ons wil u verseker van die sensitiewe en verantwoordelike wyse waarop Missie Japan se bestuur die aangeleentheid probeer hanteer het. Hierdie besluite is met groot deernis geneem.
Ons sê opnuut dankie aan al Missie Japan se ondersteuners. Ons wil graag met die werk in Japan aangaan, in noue vennootskap met ons susterkerk, die RCJ. Ons is dankbaar vir die mooi werk wat ons sendelinge nog altyd daar gedoen het en steeds doen. Ons is dankbaar oor die mooi verhoudinge wat daar tussen Missie Japan en die RCJ bestaan en wat steeds op verskillende maniere uitgebou word. Hierin vra ons u voortgesette ondersteuning en veral voorbidding. Ons glo dat die Here in wie se diens ons staan, en deur wie se liefde ons gedring word, met ons die pad sal bly loop.
Mag die Here ons genadig wees.
Gideon van der Watt
(Sekretaris)