RCJ-Yamada-new-church-building
Beste vriend/vriendin,
Aangebreek: ‘n seisoen van eerstes … een wat ons 5m by 4m tuintjie se tamaties stuk-stuk in rooi getooi, en die enkele krismisroos in pers laat pronk het. Een wat gebring het: uitmergelende, bedompige warm dae (en nagte!) wat ons teen 9 uur in die oggend ‘n tweede stel klere laat wil aantrek. Ja, die somer-seisoen is hier … rys is oral in die buurte om ons geplant en aan die groei, en vriende het die eerste ryp likwarte aangedra.
En in die afgelope twee maande het daar nog ‘n paar eerstes gebeur …
Ds. Akira Tateishi (predikant van RCJ Sendai-Oos gemeente, direkteur van die Sakura House Response Center in Matsushima-Oos rampgebied) is aan die woord:
Vandag het ‘n graad twee dogtertjie vir die eerste keer na Sakura Housegekom saam met haar ouma. Die klein meisietjie se ma is oorlede in die tsoenami, en haar pa het haar (sy dogter) wees gelaat en aan die sorg van haar ouma oorgegee. Watter verskriklike letselsmoet sy nie ronddra nadat sy haar ma verloor en deur haar pa verlaat is nie! En watter diep letsels het die pa nie … hy wat sy vrou verloor en gedring gevoel het om sy lewe te leef sonder sy kind! Ek het vandag weer ‘n skrefie gesien van die getraumatiseerde hartevan die ramp oorlewendes. Die klein dogtertjie (haar naam is Kasumi) sal van volgende week af (eerste week van Junie) begin om die Reënboog speel en studeer groep by te woon. Die ouma sê: “Ek wens so dat sy weer sal glimlag soos sy altyd gedoen het”… Die Here Jesus het hulle gestuur om ons vandag te ontmoet. Dis is my begeerte om alles te doen wat ek moontlik kan vir die familie en om hulle lief te hê met die liefde van Christus. Hou asb. aan bid.
Op ‘n heel ander noot: Gys en Linda (Olivier) se eerstelinghet haar eerste lig gesien. Sy heet Linie en is gesond en aan die groei.
Eerste gesprekke is in ons gemeente (RCJ Tokushima) gevoer oor die moontlike uitbouing van die bestaande kerkgebou… in die eerste plek omdat Happy Kids soveel groei toon dat daar nie meer plek is om almal elke Sondag te akkomodeer nie. Hierdie is ‘n gewigtige gesprek vir ‘n gemeente met net meer as 20 amptelike lidmate om te voer … wat ‘n totale nuwe bedieningsvisie en struktuur te weeg kan bring indien dit alles realiseer (moontlik in die volgende paar jaar). Die gemeente het ook vir die eerste keer ‘n volwaardige gospel konsertgehou, met ‘n baie begaafde groep musikante van Finland. Hulle is deel van die Evangelies Lutherse Kerk en het regtig ‘n geloofwaardige getuienis gebring, met balans en impak.
Verder het Carinagroot inisiatief geneem met die bak van ‘n hele klompie koeke as deel van die eerste treë wat ons probeer gee om ouers van kleuters te ondersteun d.m.v. ons maandelikse “Ouer Kafee”, wat fokus op informele gesprekke oor uitdagings rondom ouerskap.
Stéphan het vir die eerste keer lesings oor pastorale sorgin Japannees bygewoon. Dit was by die Reformed Church of Japan (RCJ) se Kweekskool in Kobe, en ook by die Kobe Theological Hall (Reformed Presbyterian Church). Die moontlikheid bestaan dat ek van 2014 af deeltyds by onderrig geleenthededaar betrokke kan raak. Ek het ook vir die eerste keer die geleentheid gehad om vir die predikante van Noord-Shikoku ‘n seminaarin Japannees aan te bied oor die boek van Peter Scazzero, Emotionally Healthy Church.
Daar was ook tyd vir eerste somerpretvir die kinders, Annlie wat ‘n eerste maal gras leer sny het(ja dit is regtig ons grassnyer en nie ‘n speelding nie), en ‘n eerste geleentheid wat ons as ouers gehad het om Annlie en Cornelius se kleuterskool opvoeringen meer by te woon…
Missie Japan is onlangs vir die eerste keer goedgekeur as deel van van GivenGain, ‘n organisasie wat een-kliek (belasting-aftrekbare) kredietkaart bydraes moontlik maak. Hierdie opsie kan dalk juis vir buitelandse ondersteuners gerieflik en toepaslik wees. As jy meer wil weet, besoek dit gerus by http://missionjapan.givengain.org
Terloops: Dis vandag presies 5 jaarsedert ek vir die eerste keer my roepingsverhaal onder woorde gebring het. Daar het intussen baie water in die see geloop nadat ons bietjie meer as vier jaar gelede in Tokushima gevestig het … sedertdien vertel die 113 inskrywingsop die Missie Japan blog die verhaal …
Laastens: vir die eerste keer in ‘n lang tyd het ons ‘n gesinsfoto geneem … só lyk ons nou … maar wat jy dalk nie met die eerste oogopslag sal sien nie, is dat Carina ook ‘n vierdeling(let wel: nie vierling nie) verwag … DV middel November!
Baie dankie vir jou ondersteuning en betrokkenheid!
Vrede
Stéphan, Carina, Annlie, Cornelius en Lodewyk
Sake vir Gebed
Dank asb. saam met ons die Here vir sy genade in:
- Die groei wat Happy Kids beleef het tot dusver.
- Die eerste gesprekke oor die moontlikhede rondom die verruiming van ons kerkgebou. Ons het duidelike leiding van die Heilige Gees hieroor nodig.
- RCJ Shimizu se nuwe kerk gebou wat baie goed vorder en DV teen September voltooi sal wees. Sien http://www.missiejapan.co.za/bedieningsfokus/minder-is-meer-gebedsflits-24-april-2013/
- Die inwyding van RCJ Yamada gemeente onder leiding van Ds. Makita, gerespekteerde en invloedryke leier in die Ring van Shikoku.
Vra asb. saam met ons die Here vir Sy volgehoue sorg, leiding en seen in:
- Ons volgende “Ouer-Kafee” wat Vrydag 26 Julie weer plaasvind. Tot dusver was daar nog nie ‘n groot opkoms nie. Bid asb. saam dat die groep sal groei.
- Saterdag 20 Julie se interkerklike “Kingdom Kids for Christ” byeenkoms waarna veral baie nie-Christen kinders genooi is (as deel van ‘n waterspeletjie-dag) – https://www.facebook.com/photo.php?fbid=10152023263564348&l=81176a5754
- Sondag 21 Julie waar Stéphan weer ‘n aanbieding doen oor die boek “Emotionally Healthy Church” (in Japannees), by RCJ Tokushima.
- Sondag 28 Julie se “English Fellowship Time” waar Stéphan preek (in Engels).
- Dinsdag 30 Julie tot Donderdag 1 Augustus se kamp vir Shikoku-eiland se kinders (meestal van RCJ gemeentes afkomstig), waar Stéphan aanbiedings moet doen, en ons as gesin ook gaan deelneem.
- Gys en Linda wat nog hulle voete vind as nuwe ouers van Linie.
- Carina se swangerskap wat te midde van erge hitte regtig veeleisend is.
- Annlie en Cornelius se laaste twee weke van kleuterskool vir die kwartaal. Dit vat baie energie om heeltyd in Japannees te kommunikeer en aan te pas as enigste nie-Japannese kinders.