Mini-Vuvuzela
Beste vriend/vriendin,
Dit het als begin by Victor (Pillay) … en die borriegeel hemp en mini vuvuzela wat hy (in Mei vanjaar) vir my saam gebring het uit Suid-Afrika. Toe ek die hemp op die Vrydag-oggend van die wêreldbeker se opening aantrek na my Japanese klas (by Tokushima se stasie gebou), was die Kaap Hollands. ‘n Groepie laerskool-kinders en hulle juffrouens het my (oppad klas toe) uit die bloute met vrae gepeper oor spelers se posisies, “superstars”, Aaron Mokoena en nog wat… Dit was juís by TOPIA waar ek die eerste keer dié hemp by ‘n aanbieding oor Suid-Afrika aangehad het.
Kort daarna het ‘n koerant verslaggewer ‘n draai by ons huis gemaak n.a.v. ‘n radio onderhoud wat ek o.a. oor die wêreldbeker, pikkewyne, apartheid en ‘n mengelmoes van reënboognasie onderwerpe moes voer (in baie gebroke Japanees!). Toe Japan vir Kamereon aangevat het in hulle eerste wêreldbeker-wedstryd het meer as 1500 mense by Tokushima se indrukwekkende ASTY-gebou op ‘n groot skerm kom kyk. N.a.v. die vroeëre koerantberig is ek (en pa Tobie en ma Annalie was ook by) genooi om by dié geleentheid wéér oor Suid-Afrika ‘n uitstalling te behartig. Dit was groot prêt! Loer gou hier.
Die sneeubal-effek het verder uitgekring deurdat Shikoku (die eiland waarop ons woon) se TV-stasie toe ook die vuvuzela onder oë (en ore!) wou kry op ‘n gewilde 17h00 program genaamd Gojikaru. Voor dié direkte (“live”) TV-opname het ek min/meer ‘n idée gehad wat ek gevra sou word in die onderhoud. Maar dit was maar ‘n senutergende geleentheid aangesien ek ‘n absolute beginner in Japanees is, en hier voor kameras vinnig op my voete moes dink (hulle hét toe ook heelwat onvoorbereide vrae gevra!).
Lang storie kort: dit het goed gegaan, danksy groot genade! En die goeie nuus is: jy kan deel in dié ervaring deur hier onder te kliek vir ‘n paar uittreksels (uit die 50 min program). Neem asb. die 5 min en leer (deur te kyk) sommer heelwat meer oor Japanners se manier van praat, dink en doen …
Die punt van die storie? Loof die Here saam met ons vir Victor, die wêreldbeker, ‘n mini vuvuzela en die borriegeel hemp! Dit het sommer baie deure oopgemaak om nuwe verhoudings te bou, Japanees te oefen, en ons gemeente in die gemeenskap (nie-bedreigend) bekend te stel. Net genade!
Vrede
Stéphan, Carina, Annlie en Cornelius
NS: ‘n belangrike regstelling – Annlie verjaar Saterdag (sy word 3) en nié Cornelius nie (hy het 9 Junie 1 jaar oud geword).
