Verskeidenheids-flits | 2013

Beste vriend/vriendin,

Onvoorspelbaar … dít het ek geleer oor ons (3) kleuters die afgelope paar jaar. En daarmee saam meer onlangs nog iets: vlietend. Want die tyd saam is kort en kosbaar. Diep bewus hiervan sê ek nou die dag vir Cornelius – terwyl ek hom styf vashou – hoe lief ek hom het en dat ek hom een van die dae dalk nie meer só sal kan omhels nie. En hy antwoord: ‘Maar dan sal ek vir pappa so vashou!’ … Nodeloos om te sê het my hart dankbaar en warm geklop. Getroos. En toe dink ek aan die derde ding wat ek tot dusver leer waardeer het oor kinders: Onvervangbaar.

Ja, dis wonderlik om deel van ‘n familie te wees. En ‘n reuse verantwoordelikheid om dit te koester, véral in Japan. Ek en Carina het al voorheen hieroor geskryf: Japannese families (oor die algemeen) ly onder gebrekkige intimiteit en gebroke verhoudings. ‘n Onlangse film hieroor het opslae gemaak. Dit is getiteld Tokyo Familyen die regisseur Yoji Yamada maak die volgende punt: ‘… in the past, all family members gathered for dinner, while nowadays dinnertime is not fixed as fathers work late at night, mothers work part-time, and children go to cram school. “The period of high economic growth was built on sacrificing the family that way,” he said.’ Dis die hartseer werklikheid wat ons glashelder gereeld om ons sien en hoor. Alles ter wille van ‘n sterk ekonomie en welvaart-skepping, ongeag hoe verhoudings ookal skade ly … In ‘n aparte kultuurbrokkie ‘Perspektief op Japannese ekonomie wat taan’, lewer ek kommentaar hieroor. Lees dit hier.

Die afgelope 6 weke het onder andere die volgende hier rond gebeur …

…Tydens nuwejaar in Japan het miljoene Japannese hul Shinto tempels besoek. Lees hier meer oor die ritueel genaamd Hatsumoude. Daar is ook kort daarna talle feeste gehou om die ‘demone/duiwels’ uit te hou en die ‘goeie geluk’ in te kry. Kliek hier vir meer oor een voorbeeld van so ‘n Setsubun-fees.

 … Annlie het afskeid geneem van haar ou kleuterskoolmaatjies, (o.a.) sodat sy en Cornelius vanaf Februarie saam kon begin by ‘nnuwe (Japannese) dagsorg/skool waar daar meer fleksietyd is, t.w.v. die insluit van ons (Engelse) tuisonderrig programKliek hier as jy Annlie daar wil sien touspring (‘scroll’ net af)…

 … Happy Kids kinderbediening groei steeds (ons sukkel met genoeg spasie!), en vanjaar se nuwe materiaal (uit SA, KidsXpress se Happy Hikers) vind groot aanklank. Ons is dankbaar opgewonde!

 … (Stephan) het ‘n paar vergaderings bygewoon, o.a. ‘n ekumeniese kerkbyeenkoms waar die uitdagings en vreugdes van bedienings in Tokushima gedeel is. Verder het ek met ‘n nuwe preekreeks begin (kliek hier) gedurende ons gemeente se maandelikse English Fellowship Time. Daar is heelwat Japannese wat belangstel in Engels wat dit bywoon, asook mense uit VSA, Londen, Tonga, Hawaii ens.

 … deel geword van ‘n nuwe (interkerklike) groep Christen-kinders en ouers wat voortaan eenmaal per maand gaan saamkom om te speel, sing, huiswerk te doen en mekaar beter te leer ken. Dit is die enigste geleentheid (buiten Sondae) waar Christen-kinders bymekaar kan kom in die 99% nie Christen omgewing, en daarom is dit ‘n lewensaar vir die kweek van hegte vriendskappe ens.

 … Ons het Finnse (sendeling) vriende wat woon en werk in Kobe, genooi vir ‘n goeie kuierdag.

 Daar is nog ‘n mondvol om te vertel, maar die nuusflits is reeds te lank, ekskuus!

Sake vir Gebed

Bid asb. saam met ons as gesin in die tyd deur …

Dankie te sê vir:

  • Baie geleenthede om te dien en groei via die kerk in Tokushima en verder in Shikoku.
  • Die nuwe skool waar Annlie en Cornelius kon begin voete vind.
  • ‘n Nuwe netwerk van ondersteuning via Christen vriende in ons omgewing.

In afhanklik te vra vir:

  • Volgehoue dissipline en insig in ons Japannese taalstudies.
  • Carina se groot verantwoordelikhede i.t.v. tuis-onderrig, Happy Kids bediening ens. te midde van normale huishouding.
  • Stephan se voorbereidings vir verskeie preke, seminare, byeenkomste ens. in Febr./Mrt. in Kochi, Matsuyama, Tokushima, Saitama (naby Tokyo) ens.
  • Ons kinders se aanpassings in nuwe skool, en hulle aanleer van 3 tale tegelyk.

Slotgedagte

Ek en my (predikant) kollega Kei gesels nou die dag oor die feit dat Japanese babas (soos baie ander ‘Oosterlinge’) gebore word met ’n blou geboortemerk rondom hulle stuitjie, genaamd ‘n ‘Mongolian (blue) spot’ (lees hier meer).

Dis Aswoensdag vandag (13 Febr) en ons as gesin het mekaar vanoggend uit die huis ‘gestuur’ met ‘n ander tipe  herinnerings-merk … ‘n denkbeeldige kruis op ons voorkoppe, om ons te herinner aan die lydende Christus in die volgende 46 dae tot en met Paasfees.

Mag jou ontmoetings met God in dié Lydenstyd nuwe verdieping bring … Ons gebed in die tyd is uit Psalm 90:12 – ‘Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom.’

Vrede en vreugde,

Stéphan, Carina, Annlie, Cornelius en Lodewyk