Van alle kante

Foto hierbo: Tobie en Annalie de Wet se uitstuurdiens by Swellendam Moederkerk,
gelei deur leraars (Gawie Gouws en Lounette Engelbrecht) en die gemeente se getuienis leiers.

Van alle kante

'n Paar grepies uit ons werk en lewe

Tyd vlieg. Lydenstyd is alweer halfpad verby. Hoe draai die seisoen waar jy jou bevind?Daar’s baie aan die gebeur, op klein en groot skaal by ons. Hierdie nuusflits vat — nes onsself die afgelope tyd — net hier en daar grond, met ‘n paar onlangse gebeure vir jou aandag. Dis uiteenlopend, en bietjie langer as gewoonlik (jammer!), maar dankie dat ons kan vra jy dalk end-uit sal lees, meeleef en saam bid en ondersteun.

De Wets se aankoms

Tobie en Annalie de Wet (Carina se ouers) het Dinsdag veilig geland in Japan en by ons aan huis gekom. Dis nádat hulle onlangs deur Swelllendam Moederkerk amptelik uitgestuur is om vanaf middel April amptelik op Shikoku eiland by RCJ Niihama gemeente te begin met hulle 3-jaar bediening. Dis erg lekker om hulle vir ‘n kort rukkie by ons te sien! Hulle bou nog hul ondersteunings-basis uit, so maak gerus kontak met hulle by tobiedewet@hotmail.com

Vol huis

Tuisonderrig – deesdae met twee volbloed tieners onder ons dak – is netso veeleisend as wat dit vervullend is. Carina kan boekdele skryf van wat dit dag tot dag behels. Buiten die onderrig is die ander aktiwiteite buite die huis ook kwaai bedrywig. Annlie kon vir die eerste keer in drie jaar weer ‘n klavier uitvoering doen. Verder rits dit rond tussen sport byeenkomste, jeug groepe en veel meer. Dis die seisoen waarin ons is. Soms kry ons dit beter reg om ‘nee’ te sê vir die dinge wat uitgesny moet word. Fokus op die basiese vat genoeg energie.


Kerklike Bedieninge

In Februarie was Stéphan o.a. besig met addisionele preke en eredienste by Tokushima en Tokushima-Wes gemeentes, en Carina was gereeld aan die beurt met ondersteuning van vroue (by KRTS en Kita Kobe gemeente), Sondagskool leiding en gasvryheidsbediening – wat die gereelde ontvangs van gaste aan huis ingesluit het.

KRTS Gradeplegtigheid
Vroeër die week het vyf studente gegradueer by KRTS se 71ste gradeplegtigheid. Dit was baie bemoedigend om te kon sien en hoor hoe hulle getuig van die groei wat deur die loop van vier jaar ontwikkel het. Hulle het nou geleer hoe om konstruktief en kreatief teologies te dink. Dis net die begin van ‘n lewenslange pad van voortgaande studie, wat nou landwyd in verskillende gemeentes met pastorale ervaring verdiep en gelouter sal word. Om vrug te dra wat sal hou, inge-ent in die Ware Wingerdstok (Joh. 5).

Wyer in Japan en verder

Volgende week word alle Covid-19 beperkings opgehef – selfs maskers sal dan nie meer binneshuis verpligtend wees in Japan nie. Gemeentes begin weer kop optel ná 3 jaar van swaar inperkings. Ons vertrou dit gaan nuwe energie losmaak onder kerkleiers. Ongelukkig is die voortslepende oorlog in Oekraīne verder besig om die spanning tussen Japan-China-Korea(s) te verdiep. Binne die RCJ is daar op 11 Februarie (Nasionale Stigtingsdag) ‘n spesiale seminaar gehou wat die oorlog ontleed en die pad na vrede in die vooruitsig gehou het. Dit kom t.m.v. groot (regering)spandering op militêre verdediging hier. Japan is ‘n land met ‘n skaarsste aan natuurlike hulpbronne. Dit skep ‘n ander sekuriteitskrisis: voedsel. Kundiges beweer Japan kan tans net in 37% van die nasie se kos behoeftes voorsien (die helfte minder as wat in 1965 die geval was!).

Hiroshima besoek: verwoestende trauma en dit wat oorbly

‘n Tydjie gelede het ons as gesin Hiroshima se atoombom museum besoek, as tuisskool uitstappie. Dit bly ontnugterend en verhelderend om in grafiese detail te sien hoe vernietigend en traumaties Augustus 1945 in Japan (spesifiek in Hiroshima en Nagasaki) se geskiedenis was. Steeds is. Inge-ets in die kollektiewe geheue van die Japanners. 

Ek wens ons kon vir Vladimir Putin saamvat op ons besoek! Selfs sy oë sou (dalk) kon rek! 

‘n Bekende Japannese digter – Horiguchi Daigaku – skryf (in 1946) die volgende gedig om dié verpletterde noodlydendes destyds te probeer bemoedig:

Die land het klein geword,

en magteloos,

kos skaars,

skaamte orals,

lewe broos.

Hou op treur!

Rig jou oë

na die boomtoppe,

na die hemel.

En dis presies wat gebeur het. Die Japannese nasie het veerkragtig opgestaan uit die as van verwoesting en pyn. Soveel só dat Japan binne een generasie ‘n supersterk ekonomie opgebou het. Deur God se genade. Vandag nog styg Japan uit op vele terreine as globale leier. Maar dié één (essensiële) faktor bly — Christelik gesproke — afwesig: 99% van die land se mense ken nog nie die bevrydende krag en verlossing van die evangelie nie en besef nie dat dit God se ontferming is wat hulle tot hier gebring het nie.

Hiervoor is ons, saam met jou, geroep om te getuig in woord en daad. Sodat meer Japannese nie net materieël nie, maar ook geestelik kan floreer en hul vreugde vind in Christus. Cornelius van Til, Christelike apologeet se woorde weerklink: “All people exist in covenantal interaction with God. At no time when we defend the faith do we speak to someone to whom God is not already speaking.”

Laat ons aanhou om te soek vir en aan te sluit by die Gees God se werk in menselewens …

Missiologie Navorsing o.a. @ OCMS 

KRTS het my versoek om binnekort (vanaf April) ook Missiologie as vak aan te bied as deel van ons opleiding van teologiese studente vir die kerklike bediening. Missie Japan het, in samewerking met KRTS se fakulteit in Kobe, ‘n navorsings geleentheid goedgekeur (wat reeds in April 2022 begin het) om my te help om ‘n kurrikulum hiervoor voor te berei. 

In kort: ek is bevoorreg om sedert gister (tot 26 Maart) onder andere die Oxford Centre for Mission Studies (OCMS) te besoek, vir navorsing (studieverlof), besprekings en die aanbied van lesings.

Die geleentheid is deel van OCMS se Guided Research Programme, waarvoor ek keuring ontvang het. Hierdie besoek, en die drie jaar lange navorsingsprogram, word primêr finansieël moontlik gemaak deur ‘n ruim beurs van KRTS, asook deur my eie navorsingsfondse wat ek opgebou het (deur publikasies). Dis ook aangevul deur bydraes van Vennote in Getuienis (NG Kerk Vrystaat) en ‘n weldoener vriend – diep dankbaar! Ek doen in ‘n volgende nuusflits meer volledig verslag.

Lees asseblief verder hieronder oor ons motor projek en sake vir gebed …

Ons waardeer jou ondersteuning, betrokkenheid en gebede.

Mag die beurtkrag (vir dié in Suid-Afrika) jou nie onderkry nie!

Stéphan, Carina en kinders (ook namens die De Wets wat vir ‘n rukkie by ons aan huis is).

MOTOR PROJEK

 

Op voorstel van Missie Japan se bestuur dink ons daaraan om ‘n nuwe motor te koop. Die motivering is soos volg:

  • Ons het ons huidige motor 12 jaar gelede tweedehands gekoop en dis nie meer koste effektief om op die medium termyn (3-4 jaar) die motor instand te hou nie – die padwaardigheids-lisensie verval November 2024.

  • In die lig van die De Wets se koms en die feit dat hulle ook ‘n motor nodig het, maak dit meer sin om so gou as moontlik ons huidige motor vir hulle te gee en vir ons ‘n ander tweedehandse een te koop.

  • Ons soek na ‘n motor wat 7-8 mense kan vat, wat verkieslik nie ouer as 5 jaar oud is en nie meer as 50 000 kilo’s gery het nie (want dit moet nog 100,000 kilo’s plus kan aflê oor die volgende medium-/langtermyn)

  • Pryse wissel tussen ¥1.3-¥2.2 miljoen (R170,000-R290,000). 

Nou’s die vraag eers: hoe kan ons dit finansier? 

Dit val buite Missie Japan en ons eie huidige begroting. 

Daarom neem ons vrymoedigheid om ‘n spesiale projek te loods hiervoor. 

As jy / julle kleingroep of gemeente miskien ‘n bydrae wil maak, 

kontak my @ jsvdwatt@gmail.com of 

Sanet Annandale by die Missie Japan kantoor @ sanet@ngkvs.co.za

Missie Japan bankbesonderhede 

Rekeningnaam | Missie Japan

Bank | ABSA

Takkode | 632005

Rekeningnommer | 4049690248

Verwysing | Eie Naam & Van + MOTOR

Ons vertrou die Here vir Sy voorsiening, op die regte tyd teen die regte prys.

Sake vir Gebed

 

Dank die Here saam met ons vir:

  • Vyf KRTS studente wat gegradueer het en oppad is na gemeentes wat hulle werk broodnodig het.

  • Gereelde, bemoedigende kontak met ondersteuners wat regtig ons welsyn op die hart dra.

  • Die De Wets se veilige reis na Kobe en my veilige aankoms in Oxford (‘n paar uur gelede).

Vra vir die Here se leiding en sorg met:
 

  • Carina se gesondheid, krag, balans (vir selfsorg) t.m.v. voltydse tuisonderrig, huistake, omgee vir mense in ons gemeente ens.

  • De Wets se gesondheid en aanpassing in Japan, voorbereiding om van voor af huis ‘op te sit’ in Niihama.

  • RCJ se diakonale/missionale aktiwteite: o.a. betrokke in Suid-Afrika, Myanmar, Gambië, Hongarye, Kambodië en onlangs ook in Turkye/Sirië met getuienis, liefdesdiens en finansiële ondersteuning – t.m.v. baie uitdagings in Japan self.
Die vreugde van weersiens is groot!