Ramp-flits | Aardskuddende


Aardskuddende afskop in 2024

‘Ramspoedige Nuwejaar!’, is nié wat jy wil hoor op die eerste dag van Januarie nie. Nuwejaarsdag is normaalweg ‘n feestelike dag om iets te doen wat jy elke jaar geniet. Vir miljoene mense in Japan is die eerste drie dae van Januarie gewoonlike ‘n sonderlinge kans om saam met familie deur te bring. En om saam spesiale disse te geniet en laaaang verkeersknope rondom winkel- en tempelbesoeke te trotseer. Rituele wat oudergewoonte vir Japannese ‘n voorspelbare ritme tuisbring.  

Maar 2024 het vir duisende mense in die Ishikawa en Niigata provinsies (Noto skiereiland en verder) op ‘n onvoorspelbare, aardskuddende noot begin. Meer rampspoedig as voorspoedig. Traumaties, ontwrig en gevul met verlies. Soektogte vir oorlewendes gaan voort, maar meer as 80 mense is reeds dood en meer as 500 beseer. Duisende huise en ander geboue het inmekaar getuimel en baie paaie is oopgeskeur en omgedolwe, wat reddingswerkers se pogings bemoeilik. Onsself is ongedeerd en ver van die gebied waar die aardbewing se oorsprong was, maar nie onaangeraak nie. Ons is diep bewus van die nood en in solidariteit met dié wat daaronder ly. Herinneringe van soortgelyke rampe (20112016 en 2018) waarby ons betrokke was, is nog vars in ons geheue. 

Daar is twee RCJ gemeentes by wie ons—as deel van die RCJ sinode se diakonale aksie komitee—betrokke is. Deur middel van twee plaaslike leraars in die rampgebied, is ons ore op die grond om te hoor waar ondersteuning benodig word. In die snerpende winterkoue het ds. Hideyuki Urushizaki (RCJ Kanazawa gemeente) byvoorbeeld die afgelope week deurentyd komberse, flitse, water, kos asook ander middele vanuit die gemeente help uitdeel waar nodig. Hy is ook besig om op allerhande maniere die veiligheid en versorging van veral ouer lidmate en andere te probeer verseker, terwyl Japannese weermag personeel en ander reddingswerkers onverpoos help. Sommige ander kerke in die Wajima gebied is ook erg beskadig en heelwat lidmate se huise is vernietig. Ons diakonale komitee is besig om volgende stappe van ondersteuning te ondersoek.   

Dubbele ramp lê ons weerloosheid bloot

Vanjaar se begin het my opnuut laat besef daar is baie tipes rampe in ons lewens. Daar is gebeure waarvoor ons onsself kan probeer gereedmaak en voorberei, deur paraat en weerbaar te probeer wees. Tot ‘n mate. En dan is daar dié rampe wat ons menslike grense totaal oorweldig en ons ongevraagd meesleur.

Een dag ná Maandag se aardbewing was daar ‘n seldsame vliegtuig ramp in Tokio. Alle ondersoeke dui op iemand se nalatigheid. ‘n Kommunikasie gaping tussen Haneda lughawe se terminaal toring en die loods van ‘n klein reddingsvliegtuig het ‘n botsing veroorsaak tussen dié een en ‘n inkomende vliegtuig. Japannese vlugpersoneel (op die inkomende vliegtuig) se kalmte en fokus in die (letterlike) hitte van die oomblik, het ‘n wonderbaarlike noue ontkoming moontlik gemaak. Die haarfyn lyn tussen lewe en dood, vir 379 mense aanboord die brandende vliegtuig, is bepaal deur die foutlose ontruiming. Vyf kuswag reddingswerkers—wat oppad was na die aardbewing rampgebied vir noodlenigingswerk in die kleiner vliegtuig—het ongelukkig nie die dood ontsnap nie. 

Ondersteuning, hoop en gebed

Die nagevolge van hierdie rampe is verreikend en uiteenlopend. Bid asb. saam vir die geteisterdes, veral vir die mees brose slagoffers: bejaardes, gestremde persone, baba’s en geïsoleerdes. Meer as 32000 mense is in tydelike skuilings in Ishikawa provinsie en die ergste winterkoue en sneeu is oppad. Die trauma en skok laat diep wonde, psigies-emosioneel en fisies. Bid ook vir reddingswerkers vir krag en wysheid, en vir Christene se getuienis in woord en daad. 

Ons is in die tyd van Epifanie. Die Lig, wat opnuut onder ons kom woon het die afgelope Kersfees, (ver)skyn helder in die donkerste nag. Selfs die diepste, oënskynlik hopelose verwoesting wat rampe voor ons slinger, kan Christus se Lig nie uitdoof nie. Psalm 46 se woorde weerklink ook in ons gedagtes: God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid.

Mag die Here jou vanjaar omvou met Sy genaderyke teenwoordigheid in alles, tydig en ontydig, rampspoedig en voorspoedig.

Vrede, 

Stéphan, Carina en gesin (ook namens ds. Tobie en Annalie de Wet in Niihama)