Pinkster-flits | 2023

Foto hierbo: ‘n Ontspanne oomblik by Kobe Reformed Theological Seminary se onlangse retraite.

PINKSTER GETUIENIS: Die Heilige Gees waai waar Hy wil

Die jaar 2000 het—vir my—nie net die nuwe millennium ingelui nie. Dit was ook ‘n jaar van beslissende verdieping in my lewensreis oppad met God. Ek was voor ‘n kruispad as vyfde-jaar teologie student. Gaan ek voltyds die kerklike bediening afdraai vat, professioneel probeer rugby speel, óf was daar ‘n ander, derde weg?

Lang reis inwaarts

In dieselfde jaar het ek vir die eerste keer (as deel van ons klasgroep) ‘n volwaardige retraite bygewoon by Mizpah, naby Grabouw. Drie dae van stilte in God se ongerepte skepping, en die lang reis inwaarts. Dag Hammarskjöld (voormalige VN sekretaris-generaal) het nie verniet gesê ‘die langste reis is die reis na binne’ nie. Die lewegewende verskil was die doelbewuste meditasie van God se Woord. Vir die grootste deel van drie dae het ek pal die woorde van Psalm 139 oordink. Tot ek dit regtig diep in my siel laat insink, grondvat en wortelskiet het. Buiten die ervaring van onbegrensde geborgenheid by God, was die bepeinsing van Henri Nouwen se boek Reaching Out ook uiters waardevol.

Vir die eerste keer in my lewe het ek myself volledig aanvaar, as 23-jarige jong man. As die Here dwarsdeur my sien, my omsluit van alle kante en my volledig in besit neem (Ps. 139:1-5), hoe kan ek anders!? Ek behoort immers nie aan myself nie, het ek grondig besef. Dis nou 23 jaar later. Ek kan steeds nie God se Gees ontvlug nie. Selfs al woon en werk ek in die verre Ooste. Ook hier lei die Here my/ons, Hou Sy regterhand ons vas (vv. 7-12).        

Hartsgebed

Verlede week het ek die kans gehad om iets van my destydse gewaarwordinge van God by KRTS (Kobe Reformed Theological Seminary) se jaarlikse retraite te deel. Ons as dosente en studente het saam (ook in die natuur naby Kobe) stilgestaan by God se vormingswerk in en deur ons. Dit vul ons met verwondering. Ons sal nooit klaarkry met ons nadenke oor die magtige gedagtes van God nie (vv. 13-18). Dit bly onverklaarbaar hoe/hoekom ons Skepper ons as brose en gebroke skepsels waardig ag én met ons bemoeienis maak (Psalm 8). 

Tydens die Mizpah Retraite (in 2000) het ons destyds geleer van die ‘hartsgebed’, wat ontwikkel het uit die gebedslewe van vele vroeë Christen leiers. Ons hartsgebede fokus op die diepste verlange van ons innerlike self, Coram Deo. Sulke gebede ontspring uit die bron van die Heilige Gees se werk in ons, dikwels dieper as die inhoud van ons eie gedagtes en gebedslyste. Ons hartsgebed is dié plek in ons waar ons, soos met ‘n naelstring, onlosmaaklik verknoop is aan God.  

Vir die afgelope 23 jaar is my hartsgebed: ‘deur U Gees alleen’ (geleen uit Sag. 4:6). Ek herhaal die refrein deurentyd, of ek nou sit, opstaan, reis of oorbly. Dis my gebed voor ek iewers preek; dis my intree-en smeekgebed vir vrede in oorlogsgebiede; my versoek om leiding wanneer ek worstel oor ‘n saak; my pleidooi as ek andermaal voortsukkel met Japannees wanneer ek klasgee; dis my begeerte vir vriende of familielede wat Christus nie ken as Verlosser nie; my verlange vir ons as ouerpaar terwyl ons ons bes gee om ons kinders kruis-kultureel te laat floreer … en so kan ek aangaan. My hartsgebed bly konstant en gefokus—met of sonder woorde—‘deur U Gees alleen’!  Wat is jou hartsgebed?

Onpeilbaar maar herkenbaar: die Gees se werk

Ons kyk in hierdie dae met verwagting vooruit na eerskomende Pinkster-Sondag, want dit bly verstommend hoe die Gees van God menselewens aanraak en transformeer. Dit het my opnuut opgeval by laasweek se KRTS retraite (sien foto’s hieronder). Die getuienisse van studente was uiteenlopend en tóg eenders. 

Een jong student het vertel hoe die Here van kleins af musiek in sy geloofslewe gebruik het om hom uiteindelik tot totale oorgawe aan God en nou tot by KRTS te lei. ‘n Ander (50-jarige) het vertel hoe sy ervaring as Engelse onderwyser by ‘n Christen-skool hom aangespoor het om teologie te studeer. Want, soos hy getuig, al was hy swak en arm in geloof, is hy daagliks oor meer as twee dekades herinner aan die ware doel van sy lewe: om God te verheerlik en geniet. Fillipense 4:4 het hom geïnspireer, vertel hy glimlaggend, terwyl sy vrou trane van dankbaarheid stort in die gehoor. Nog ‘n student (59 jr.) het na amper 30 jaar as regerings-amptenaar besef hoe afgestomp en leeg hy gevoel het in sy werk, waar hy gereeld mense moes vastrek wat die arbeidswet oortree. En hoe die Here ‘n begeerte in sy hart geplaas het om eerder ‘n opbouende verskilmaker te word, as om (ander mense) af te breek.      

Hierdie studente het—soos die geval was met Nikodemus in gesprek met Jesus—elkeen verbaas ontdek: ‘Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is’ (Joh. 3:8). Dit was die goue draad deur elkeen se roepingsverhaal: onpeilbaar maar herkenbaar, die Gees se werk!

Nadat ek die afgelope Sondag by Tokushima-Wes gemeente gepreek, en ons as gesin saam met die klein vakante gemeente geëet en gekuier het, het dieselfde gedagtes oor die Heilige Gees my bygebly. Een gemeentelid wat ‘n stryd met kanker voer, getuig dat die boodskap haar soos ‘n handskoen gepas het; ‘n ander vrou vertel dat sy (deur die boodskap) ‘n antwoord gekry het op haar worsteling; die gemeenteleier praat met blydskap oor hoe dit hulle diep bemoedig het in hulle omstandighede. Al wat ek kan sê: ‘deur U Gees alleen, Here!’    

Mag die Heilige Gees jou versterk en jou Voorspraak (advokaat) wees

in die stryd wat jy nou voer (Joh. 14:16)

Mag jy gevul word met krag en moed terwyl die Gees

vir jou intree met versugtinge sonder woorde (Rom 8:26).

Het jy enige nuus van ons gemis die afgelope tyd? Kliek gerus hier … 

Vrede en vreugde,

Stéphan, Carina en gesin

MOTOR PROJEK


Ons getuig met groot vreugde dat die Here ons weereens verstom het. ‘n Ondersteuner-vriend het onlangs die totale oorblywende bedrag vir ons motor bygedra! Daarmee is die transaksie afgehandel.

Ons is gevul met diep waardering vir die Here se sorg en vir ondersteuners wie se hande en harte oop is en ‘n reuse verskil maak.

Annlie het nou die dag dié skilpadjie in die natuur raakgeloop.

Sake vir Gebed

 

Dank die Here saam met ons vir:

  • ‘n Geseënde besoek aan RCJ Tokushima-Wes gemeente as gesin en ‘n gesellige kamp-aand saam met die De Wets daarna.

  •  De Wets se aanpassing en verhoudingsbou in Niihama, ná ‘n vermoeiende trek. Bid vir krag, wysheid en ‘n vrugbare bediening.

  • Stéphan se werk as raadslid by Seikeikai instituut vir gestremde (naby Hiroshima) wat nou voltooi word na 8 jaar van betrokkenheid.

Vra vir die Here se leiding en sorg met:
 

  • Carina se gesondheid, krag, balans (vir selfsorg) t.m.v. voltydse tuisonderrig, huistake, omgee vir mense in ons gemeente en meer.

  • Stéphan wat Pinkster-Sondag preek by RCJ Shinkō gemeente.

  • RCJ se diakonale/missionale aktiwteite: o.a. betrokke in Suid-Afrika, Myanmar, Gambië, Hongarye,

  • Suksesvolle werwing van jongmense vir diakonale studietoer na Suid-Afrika in 2024.