Persoonlik: Krisis = ‘n Geleentheid om te vertrou

Beste ondersteuners,

Ek onthou nog baie goed hoe ek en Carina, na afloop van die eerste 6 maande ná Annlie se geboorte vir mekaar gesê het, ons sal één woord oor daardie tyd kan skryf: MOEG. En verder het ons gedink ons sal gelukkig nie met die tweede baba se koms weer só min slaap nie … ons het ons lelik misgis!

Persoonlik: Krisis = ‘n Geleentheid om te vertrou

Die eerste 5 weke van Cornelius se lewe was tot dusver ‘n daaglikse geveg met een of ander vorm van ongemak en pyn, want hy het daagliks bitter baie en hewig intens geskree. Dié stryd was/is natuurlik ook ons as ouers s’n, maar ons was pal onder die indruk (saam met pediaters) dat dit volslag koliek is. Eergister het ons egter die skokkende nuus gekry (n.a.v. bloedtoetse) dat hy heel waarskynlik ly aan ‘n metaboliese versteuring genaamd hyperammonenia. Kortliks: daar is abnormaal hoë vlakke ammoniak in sy bloed. Dit dui heel moontlik op die gebrek aan of afwesigheid van seker ensieme wat veronderstel is om voedingsstowwe (soos proteïne) en giftige stowwe in die liggaam af te breek sodat dit uitgeskei kan word. Die probleem is dat party van hierdie afvalprodukte dan ophoop in organe in die liggaam en dit kan uiters negatiewe gevolge hê. Daar word op die oomblik baie toetse gedoen om vas te stel wat hierdie ingewikkelde probleme veroorsaak. Daarom sal hy (en ons) vir die volgende 3 weke in die hospitaal moet bly …

Hierdie krisis is op vele maniere ‘n uitdaging vir ons as gesin (en breër familie). Die word krisis beteken ‘n keerpunt/geleentheid om te onderskei en besluit. Ons sien hierdie siekte as ‘n geleentheid om in die geloof te onderskei en besluit dat ons krag nou lê in stil wees en vertroue op God (Jes. 30:15). ‘n Geleentheid om dieper bewus te word: “Ons …is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.” (2 Kor. 4:7) ‘n Tyd om van voor af te leer: kinders is onvoorspelbare, maar onvervangbare geskenke van God. Die kuns van die lewe met kinders lê daarin om elke oomblik saam met hulle te waardeer, al gaan dit soms taai en hoor jy soms net ‘n kakofonie van klaagliedere! ‘n Stywe skeut humor help natuurlik baie in die proses …

En verder: die drastiese veranderinge in ons lewenstyl (om o.a. alle huishoudelike verantwoordelike self te doen sonder die luuksheid ‘n huishulp), en die verstikkende bedompigheid van die somer laat ons sweet, maar dit kweek ook karakter en ons kyk vorentoe. Die Japanese studies gebeur nou op allerhande vreemde tye – ook selfs tussen hospitaalbesoeke deur …

‘n Paar van die hoogtepunte die afgelope maand was:

  • ‘n Baie verrykende besoek van oom Neil Verwey by ons aan huis. Hy is al in sy tagtigerjare en die legendariese stigter van die onafhanklike organisasie Japan Sending.
  • ‘n Geseënde preekbeurt en sending-seminaar (saam met pa Tobie) by die energieke Okayama-Nishi gemeente. Loer gerus hier vir ‘n paar foto’s van ons interaksie daar – kliek net links op die 4e skakel van onder en kies dan die datum 6/28. Terloops, ons moes oor die wêreld se langste (13.1 km) dubbelbaan-brug – Great Seto Bridge – ry op reis daarheen.
  • ‘n Gemeentelid (Terauchi san) uit ons tuisgemeente in Tokushima wat nou weekliks ook twee ekstra Japanese klasse vir my aanbied  – dit kom regtig op ‘n wonderlike tyd en ek is ontsettend dankbaar daarvoor!
  • Die viering van Pa Tobie se verjaardag en my en Carina se huweliksdag (albei 9 Julie) – dis dinge wat wonderlike nuwe betekenis kry in ons nuwe konteks. Annlie se tweede verjaardag word vandag (17 Julie) gevier – ons gaan haar uit haar nate uit probeer bederf, al is dit ook ten dele in die hospitaal!

Japan Nuusflits: ‘n Voorsmakie

Hierdie nuusflits het meer persoonlike nuus as gewoonlik ingesluit, daarom sal ons in die volgende nuusflitse weer die fokus laat val op ons interessante leefwêreld. Ek gaan dan DV uitbrei oor 5 dinge wat jy baie sien in Japan: Ryslande, Karaoke, Manga, Onsen en Pachinko (verduidelikings volg).

Gesinsfoto:

As jy graag ons nuutste gesinsfoto wil sien, loer gerus hier. Laat weet ook indien jy dit in ‘n beter resolusie wil ontvang, dan stuur ek dit so aan.

Bid asseblief saam met ons:

Met dankbare harte… “die Gees staan ons ook in ons swakheid by …” (Rom. 8:26) – ons is baie bevoorreg om uitstekende pediaters en hospitaal-personeel te hê wat na Cornelius omsien. Hy reageer ook oënskynlik goed op behandeling, en die ammoniak-telling in sy bloed is reeds laer as aanvanklik. Oupa Tobie is ‘n reuse steunpilaar in dié tyd (ouma Annalie ondersteun tans Carina se suster in SA met haar eersteling). Loof die Here saam met ons hiervoor en vir baie ander voorregte in die proses.

In afhanklikheid… dat ons as uitgebreide gesin almal opnuut sal leer hoe om nou ons krag en genesing in God te vind.

Vrede

Stéphan, Carina, Annlie en Cornelius