Oos, Wes, Tuis Bes!?

Carina aan die woord in Stellenbosch by ‘n byeenkoms vir ondersteuners

Oos, Wes, Tuis Bes!?

In hierdie nuusflits deel ek oor enkele gebeure, wat wás en wat kóm, uit ons besoek aan Suid-Afrika. Ons het net mooi twee maande gelede veilig in Kaapstad aangekom ná ‘n betekenisvolle werks- en studietyd in Skotland en Oxford (by OCMS). Danksy die oop hande en harte van familie en vriende, was die landing sag, en kon ons in Stilbaai afsaal en tot verhaal kom met vars waardering vir ons tuisland!

Nou, met meer as 20 besoekpunte en ‘n hele paar duisend kilo’s agter die rug, is ons opnuut bemoedig en versterk deur die omgee en sorg van entoesiastiese ondersteuners van heinde en verre. Ons is verby die halfpad-merk wat besoeke aanbetref, met net ses weke oor in die land. Carina gaan tussendeur ook volstoom met ons kinders se tuisonderrig voort. 

Ek het laasweek tuisgekom ná besoeke aan die Noord-Oos Kaap en Vrystaat, insluitend ‘n sinvolle sending-konferensie in Bloemfontein waar ek as spreker deelgeneem het. Ons is regtig bly om te kan terugvoer gee en dankie sê, én om ons ondersteuning vir die volgende termyn uit te bou saam met medewerkers wat die visie deel, van God se Lig tot by die uiteindes van die aarde. Ons vertel oral oor ons rol as brugbouers, soos uitgebeeld in ons nuwe logo (hier heelbo).

Hieronder is ‘n paar foto’s wat die storie vertel van sommige ontmoetings. Missie Japan Bestuur se belangrike jaarvergadering vind ook volgende week plaas, tussen 29 Julie en 1 Augustus, in Stilbaai. Bid asseblief saam met ons vir die Here se helder leiding in al die gesprekke, asook in die opkomende ontmoetings.

Diakonale Studietoer: Groep uit Japan oppad

 

Tussen 22 Augustus en 2 September gebeur ‘n baie unieke interaksie met ses Japannese besoekers uit ons susterkerk, die Reformed Church in Japan (RCJ). Die RCJ se betrokkenheid by diakonale werk in Suid-Afrika bestaan al vir meer as twintig jaar (lees hier meer). Oor ‘n paar weke verdiep en verstewig ons die jarelange verbintenis met ‘n diakonale studietoer. 

Die ses Japannese is ‘n diverse groep wat uitsien om die Suid-Afrikaanse horison te sien, onder die Suiderkruis ‘n braai te beleef en met hulle Suid-Afrikaanse susters en broers skouers te skuur. As ons jou iewers langs die pad kan raakloop, sal jy nie spyt wees oor dié unieke ontmoeting nie. Word verryk en verruim deur meer uit te vind oor jou broers en susters in Japan. Hulle kom juis ook om by hulle (geloofs)familie aan die Suidpunt van Afrika te leer. Só lyk die groep se samestelling:

Shin Toyokawa (groepleier, lid van RCJ Sinode Diakonale Aksie)

Van iemand wat ‘n pro-surfer wou word, en ook as uitruil-student in Kanada en Nederland gaan draai het, werk Shin nou as Professor en Kapelaan by Kantō Gakuin Universiteit. Hy spesialiseer in Christelike etiek en vredes-studies, maar is leer ook ywerig aan SA se kerk geskiedenis (insluitend die Belhar-belydenis) en is besig om ‘n boek daaroor te skryf in Japannees. Hy is ook ‘n aktiewe leier (ouderling) in hul gemeente RCJ Shonan Onchō.

Yoshitsugu Ohnishi (lid van RCJ Sinode Ekumeniese Skakeling)

Yoshi is leraar van RCJ Takarazuka, het die gawe van musiek en fokus op die geloofsvorming van jongmense. Hy het o.a. voorheen gewerk vir ‘n maatskappy en was betrokke met sendingwerk in China. Yoshi het ‘n Meestersgraad in Ou Testament by UFS en voltooi nou sy doktorale studies daar, terwyl hy ook deeltyds klasgee by Kobe Reformed Theological Seminary. 

Motoki Sakai (nagraadse student)

Motoki is ‘n kranige tennis speler en geniet basketbal, tans besig met nagraadse studies by Tokyo Universiteit, rakende die ontwikkeling van deep-see robotte. Hy wil meer leer oor rasse diskriminasie, die instandhouding van magsverhoudings en die redes vir die voortbestaan van ongelykhede in die SA samelewing, asook die realiteite en uitdagings wat SA kerke in die gesig staar. 

Tomoko Ushijima (lid van RCJ Sinode Diakonale Aksie)

Tomoko is ‘n afgetreede sielkundige wat gespesialiseer het in die rehabilitasie van kinders met outisme. Sy werk steeds deeltyds as dosent by ‘n universiteit en is ook goed met redigering van skrywerk, bv. die RCJ se Bybelse-oordenking publikasie genaamd REJOICE. Haar eie geloofspad het begin as tiener, maar is ontmoet met groot teenstand van haar ouers (niks vreemd in ‘n land met net 1% Christene nie). Sy word vandag steeds gedra deur Christen vriende se ondersteuning, veral in haar tuisgemeente RCJ Tokyo Onchō

Nanaka Takai (nagraadse student)

Nanaka is eintlik ‘n regstudent, maar doen nou nagraadse studies in vroeë kinder-ontwikkeling en maatskaplike werk. Sy sien geweldig daarna uit om ook daaroor in Suid-Afrika te leer, insluitend geletterdheid en die ondersteuning van onderwysers by skole wat worstel om oorlewing. As aktiewe jeugleier in die kerk, asook as begaafde klavierspeler en fotograaf, dien sy graag ander. 

Soh Shimura (voorgraadse student)

Soh het vir die eerste keer in ‘n kerk gekom as tiener en verken steeds die basiese elemente van wat Christen-wees beteken. Hy is lief vir basketbal, karate en draf en studeer Liberal Arts en Spaans by Ritsumeikan Asia Pacific University. Verder is hy ook betrokke by studie-hulp aan kinders wat worstel a.g.v. huishoudelike geweld. Soh wil graag leer oor die geskiedenis van apartheid en Christen-wees in Suid-Afrika, asook oor werkloosheid, ongelykheid en ander uitdagings. 

Ons deel een geloofstaal, te midde van radikale verskille tussen Suid-Afrika en Japan. Ons nooi jou opnuut uit om saam voort te bou op die lang vennootskap van samewerking, spesifiek rondom diakonale aktiwiteite: om saam God se barmhartige sorg, geregtigheid en vrede in ‘n stukkende wêreld te laat grondvat.

Vrede en vreugde, in Christus.
Stéphan, Carina en gesin

V.l.n.r. Nanaka Takai, Stéphan van der Watt, Soh Shimura, Shin Toyokawa, Tomoko Ushijima, Yoshitsugu Ohnishi en Motoki Sakai

Program wat voorlê

 

Hier is enkele datums van gemeente besoeke wat nou voorlê:

  • So. 28 Jul: Swellendam (09:30)
  • Di. 30 Jul – Do. 1 Aug: Missie Japan Jaarvergadering (Stilbaai)
  • So. 4 Aug: Stellenbosch Moederkerk (09:30) en La Rochelle (18:00)
  • So. 11 Aug: Groot Brakrivier (09:30)
  • So. 18 Aug: Welgemoed (09:30)

Vanaf Do. 22 Aug ontvang ons die groep uit Japan, wat dan by die volgende plekke byeenkomste / aktiwiteite saam met ons sal wees.

  • Vr. 23 Aug: George-omgewing (diakonale projekte)
  • Sat. 24 Aug: Tuinroete Safari (oggend) en Buffeljagsrivier (ná 17:00 Kuier/Interaksie)
  • Son. 25 Aug: Buffeljagsrivier en Swellendam (09:30) en Stellenbosch Kruiskerk (18:00)
  • Ma. 26 Aug: Belville Sinode Kantoor (Kaapkerk Diaconia) en Wellington/Paarl (AMSS)
  • Di. 27 Aug: Wellington- en Worcester-omgewing (Besoeke aan Kaapkerk Diaconia Projekte) 
  • Wo. 28 Aug: Pretoria Univ. (Konferensie oor Diakonaat)
  • Do. 29 Aug: Pretoria Univ. (Konferensie) en Drie Riviere (Streeks-byeenkoms 18:00)
  • Vr. 30 Aug: Bothaville (Streeks-byeenkoms 11:00) en Hoopstad (ná 14:30 Kuier/Interaksie)
  • Sa. 31 Aug: Botshabelo Diakonale Projek (Setshabelo Family and Child Services)
  • So. 1 Sep: Bloemfontein Berg-en-Dal (09:30) en Pellissier (18:00)
  • Ma. 2 Sep: Groep vertrek terug na Japan
  • Sa. 7 Sep: Van der Watt-gesin vertrek na Japan (uit Kaapstad)

Sake vir Gebed

Dank die Here saam met ons vir:

  • Gereelde, bemoedigende kontak met en terugvoer aan ondersteuners wat vir ons omgee en sorg.
  • KRTS studente se twee maande internskappe/bedieninge in verskillende gemeentes landwyd gedurende Julie en Augustus in Japan.

Vra vir die Here se leiding en sorg met:

  • Ons gesondheid en balans t.m.v. voltydse tuisonderrig, dag-tot-dag huistake en werkslading, opkomende interaksies ens.
  • De Wets se bediening in Niihama: vir krag, leiding van die Heilige Gees en vrug op al hulle interaksies deur gasvryheid en vriendskappe in die gemeenskap.
  •  Voorbereiding van groep vir diakonale studietoer na Suid-Afrika, soos hierbo genoem.