Onseker en onvoorspelbaar. Ek vermoed dis twee woorde en werklikhede waarmee jy ook onder andere worstel. Wees verseker van ons gebede en verbondenheid, met die tweede vlaag se sterk terugslag in SA in die afgelope weke.
Jaar skop vroeg af teen stywe pas
Ons jaar se werk het op 4 Januarie hervat nadat ons in die kort Kersfees breuktyd met Jan Tuisbly se karretjie gery het. Intussen het ons betrokkenheid by KRTS en RCJ Kita Kobe gemeente ook onverpoos voortgegaan – hetsy in persoon of aanlyn – soos die foto’s hieronder getuig.
Video om te deel
In die video – kliek hierbo – deel ek ‘n paar gedagtes oor die begin van die nuwe jaar, vanuit Kobe. Neem asb. vrymoedigheid om dit wyer te deel, en laat weet my gerus as jy dit liewer via WhatsApp wil ontvang.
Krisis as geleentheid
Die Corona krisis wys duidelik uit hoe interafhanklik ons mensdom is van mekaar, en terselfdertyd hoe diep verskeurd ons wêreld is, veral m.b.t. tot verkryging van entstowwe.
Maar, die krisis bring nie net nuwe gevare na ons voorstoep nie. Dit bied ook die geleentheid vir ons as gelowiges om diep oortuig te leef met die onverganglike, lewende hoop van Christus. Dis ‘n hoop wat nie deur wisselvallige omstandighede of selfs uiterste beproewing en dood, kan verwelk of verdun word nie. Dié unieke hoop bring ons voor die keuse om met vreugde te volhard in swaarkry. Ja, rotsvaste Christelike hoop misken nooit ons verliese, trauma of teleurstelling nie, maar oorstyg dit wel verreweg! (Rom. 5:1-5).
Mag jy ook opnuut die veerkragtigheid ontvang, en deur hierdie krisis groei in geloof, om in jou broosheid en pyn weer en weer op te staan, al voel jy soms afgemat en platgeslaan.
Ons bly afhanklik van jou gebede en ondersteuning.
Baie dankie dat ons daarop kan reken in hierdie krisis-geleentheid!
Vrede en seën,
Stéphan, Carina, Annlie (13), Cornelius (11), Lodewyk (9) en Stephan (7).




Sake vir Gebed
DANK DIE HERE SAAM MET ONS VIR:
- Vyf KRTS studente wat binnekort gradueer en oppad is na gemeentes wat hulle werk broodnodig het.
- Gereelde, bemoedigende kontak met ondersteuners wat regtig ons welsyn op die hart dra.
- Carina se gesondheid t.m.v. voltydse tuisonderrig, huistake, omgee vir mense in ons gemeente ens. Stéphan se klasgee, preke, Zoom-vergaderings as deel van die RCJ se sinodale- en ringswerk.
VRA SAAM MET ONS VIR SY SORG EN GENADE VIR:
- Die verkryging van ons visum waarvoor ons reeds 3 maande wag.
- Wysheid en leiding, ook vir Missie Japan leiers, oor die tydperk van ons beplande deputasie besoek aan SA.
- Ons kinders se groei (geestelik-emosioneel) en hulle vriendskappe hier t.m.v. minder kontak a.g.v. Covid-19.
- Elmar en Nadine Du Rand se Japannese taalstudies.
- Gys en Linda Olivier se lewe en werk by SEIWA Christenskool in Kochi, Shikoku.