Nuus vanuit die Missie Japan kantoor in SA | 2013

Liewe Medewerkers,

Missie Japan wil graag elkeen wat by die werk in Japan betrokke is, opnuut hartlik bedank. Jou ondersteuning, finansiële bydraes, belangstelling en voorbidding is onontbeerlik. Baie dankie daarvoor. Dit gaan goed met die werk in Japan; ons ervaar die Here se seën op sóveel maniere.

Van der Watt gesin

Stephan en Carina en hulle gesin is goed aangepas en hulle geniet die lewe en die werk in Japan. Stephan word al hoe meer betrek by ‘n verskeidenheid bedieningsprojekte in die Ring van Shikoku. Hy fokus veral op familie-bediening – ‘n belangrike fokus in die Japannese samelewing. Hy raak ook al hoe meer by teologiese opleiding betrokke. Dat Stephan Japannees so goed bemeester, help baie. Carina lewer netso ‘n groot bydrae deur hulle kinders se tuisonderrig, die kontak met jong moeders en Happy Kids, ‘n kleuterkerk waarheen ook nie-gelowige moeders hulle kinders bring en wat so vinnig groei dat die gemeente op Shikoku selfs genoodsaak is om hulle kerkgebou te vergroot. Stephan en Carina verwag teen middel November ‘n nuwe baba – ‘n heerlike toevoeging tot hulle pragtige gesin! Die handvol kroos gaan egter ook nuwe uitdagings meebring, veral in Japan waar daar nie sprake van huishulpe of kinderoppassers is nie. 

Gys en Linda Olivier

Dit gaan ook baie goed met Gys en Linda Olivier wat by ‘n Christenskool in Kochi Stad op die eiland Shikoku skoolhou. Linda het onlangs geboorte geskenk aan Linie, ‘n pragtige klein dogtertjie. Daar is ook groot waardering vir die werk wat hulle doen. Gys en Linda kan gekontak word by gyslindaolivier@gmail.com

Tobie en Annalie de Wet

Missie Japan het besluit om vir Tobie en Annalie de Wet vanaf September weer vir ‘n paar maande na Japan te stuur. Hulle gaan vir ses weke help met die bediening van gemeentes van die Reformed Church in Japan in die Sendai gebied, waar die groot ramp in 2011 soveel ontwringting en trauma veroorsaak het. Ons vertrou dat hulle teenwoordigheid en pastorale betrokkenheid daar, soos in die verlede, tot groot seën vir almal sal wees. Die Here is besig om die kerk in dié gebied op ‘n baie besondere manier te gebruik. Missie Japan het Tobie en Annalie ook versoek om vir Stephan en Carina by te staan wanneer die nuwe baba arriveer. In dié tyd sal Tobie ook vir Stephan met sy bedieningspligte help en hy en Annalie sal ou vriendskappe – as deel van hulle voortgesette vriendskapsevangelisasie – verstewig. Tobie en Annalie kan gekontak word by tobiedewet@hotmail.com  

Oor ‘n paar weke, vanaf 17 tot 26 Augustus, ontvang ons ‘n besoekersgroep van 11 verteenwoordigers van die Reformed Church in Japan. Die groep bestaan uit 4 leraars , 1 diaken en 6 jongmense. Hulle gaan by die Charisma gemeente in Laudium buite Pretoria kuier en by ‘n weeshuis in Botshabelo, so 50 km van Bloemfontein, help met bou- en instandhoudingswerk en uitreik na die gemeenskap. Daar word met die toer veral ook gefokus op skakeling tussen jongmense. Op 22 Augustus het Missie Japan ‘n vergadering met die besoekers, waar daar ook gepraat gaan word oor die moontlike werwing en uitstuur van nog sendelinge. Ons vetrou dat hierdie besoek weereens baie sal bydra om bande tussen ons en ons medegelowiges in Japan te verstewig.     

Ons vra jou voorbidding vir al hierdie opwindende verwikkelinge.  

Gideon van der Watt

Missie Japan (Sekretaris)