Nuus uit Missie Japan Kantoor

 30 Maart 2020 

MISSIE JAPAN: NUUSBRIEF 

Ons groet julle uit die kantoor in Bloemfontein waar Covid-19 ‘n groot invloed het op al die werksaamhede van Vennote in Getuienis. Maar ja, hier is ons fokus Missie Japan en ons wil graag net almal op hoogte hou van al die verwikkelinge. 

Eerstens wil ons julle almal bedank wat te midde van klomp uitdagings, fisies sowel as ekonomies, steeds getrou bly met julle ondersteuning van Missie Japan en ons werkers daar, Stéphan en Carina, Elmar en Nadine en ook Gys en Linda. Die wete dat julle as ondersteuners hier in Suid-Afrika sekere persoonlike opofferings maak sodat die werk daar in Japan kan voortgaan, lê swaar op hulle harte en dien ook as inspirasie vir hulle om die ontberinge daar in die oë te kyk. Hierdie week se leesrooster Psalm is Ps 95. In vers 7 is daar iets opgesluit wat ek dink ons ook as Missie Japan (ondersteuners en werkers) elke dag beleef, naamlik: Hy is ons God en ons is sy volk, sy kudde, sy skape, deur sy hand versorg. Deur mense en wonderwerke sorg God vir elkeen! 

Tweedens is daar die effek van Covid-19 op die werk in Japan. Elkeen van die 3 gesinne vertel later in die nuusbrief hulle eie verhaal en belewenis van die werklikheid daar (wat nou ook op ons voordeur is). Ons dank die Here dat hulle ook hierdie krisis saam met die Japanese kan beleef en so die bedienings geleenthede kan aangryp wat in die krisis ontstaan. Elmar se ouers was vir die laaste 10dae op besoek in Japan en het, met die onlangse verwikkelinge in Suid-Afrika, nou ongelukkig gestrand gebly in Japan. Hulle woon tans steeds by die Kweekskool waar Elmar en Nadine woon en ons hoop dat hulle sodra die Suid-Afrikaanse lughawes weer oop maak, kan terugkeer na Suid-Afrika. Ons hoop dat hulle as gesin ook iets van God se nabyheid in hierdie krisis tyd te sal beleef. Ons bid vir hulle verdere aanbly in Japan asook hulle terugkeer proses met die uitdagings wat dit behels. 

Derdens lig ons u almal in dat die voorgenome besoek deur myself, Rikus Hattingh en Johann Winterbach onbepaald gekanselleer is. Ons het ‘n skrywe ontvang van die Reformed Church in Japan met ‘n versoek dat ons nie sal voortgaan met die besoek soos beplan nie. In die lig van hiervan het ons besluit om hulle versoek te eerbiedig en die besoek af te las. Op die huidige is dit baie moeilik om voorspellings te maak oor wanneer die wêreld weer iets van ‘n normaliteit sal beleef. Tot dan, sal ons via internet kontak hou en dringende sake hanteer soos hulle opduik. Ons kon versekering uitneem op die kaartjies wat maak dat Missie Japan netso ongeveer R6500 se verlies rapporteer op die kansellasie. 

Vierdens is daar 2 besoeke op hande naamlik Stéphan hulle as gesin se besoek aan Suid-Afrika sowel as ‘n besoek van ‘n groep uit Japan aan ons hier. Beide besoeke gaan tans voort aangesien dit heelwat later in die jaar plaasvind. Stéphan hulle se besoek en die beplanning daar rondom is reeds in ‘n gevorderde stadium met besoeke aan gemeentes, universiteite hier plaaslik, individue asook persoonlike vakansie en rus saam met hulle families en geliefdes. Tydens hierdie besoek sal Stéphan ook saam met die groep uit Japan reis met verskeie besoeke wat beplan word vir hulle. Hiermee wil ons tog maar weer u almal net herinner dat dit NIE moontlik is dat hulle by u almal ‘n besoek kan aflê nie. U sal verstaan dat die tydsduur van hulle besoek en die groot afstande (en ook die feit dat daar net soveel Sondae is!) dit ‘n saak van onmoontlikheid maak. Elmar en Nadine sal hopelik volgende jaar ook Suid-Afrika besoek en sal dus ook gemeente besoeke doen by gemeentes wat dalk nie hierdie jaar besoek is nie. U is natuurlik altyd welkom om die kantoor te kontak sou u ‘n besoek van Missie Japan verlang wat dan gedoen sal word deur ‘n Missie Japan kommitee-lid naby aan u. 

Kom ons dink in ons voorbidding aan die mense van Japan asook ons werkers daar in hierdie tyd van ‘n wêreld krisis. En mag Ps 95:1-7 ons dra in hierdie tye! 

Dr. Nico Mostert 

(Sekretaris: Missie Japan) 

NUUS VAN DIE DU RANDS

Hier in Japan is die seisoen besig om van ‘n vaal en koue winter na ‘n sonskyn en helder lente te verander. Hierdie verandering in klimaat en natuur het verseker ‘n invloed op ons gemoedere en wil ons graag deel dat dit met ons goed gaan. Ons beplan om gedurende hierdie lenteseisoen elke mooi dag te benut deur meer aktiwiteite buite te doen. Ons vorder goed met ons taalstudies en die afgelope tyd begin ons woordeskat al hoe vinniger te groei. Gesprekke met ons Japannese vriende handel al hoe meer oor gevorderde onderwerpe as net die normale maklike daaglikse onderwerpe. Huidiglik is ons bediening baie gefokus op vriendskap-evangelisasie en in die proses bevorder dit ook ons taalvermoëns.  Ons is dankbaar teenoor die Here vir die kosbare mense wat hy oor ons pad stuur, asook die mense in Suid-Afrika wat ons ondersteun in ons roeping.

Elmar en Nadine

NUUS VAN DIE OLIVIERS

Beste vriende in Jesus. Dit gaan goed met ons hier in Japan; ons begin ‘n nuwe jaar met nuwe uitdagings; Linie begin in April met graad 1, Johan sal alleen wees sonder sy suster in die kleuterskool, Linda hoop om haar Kangaroo Kids-klas te groei, en my verantwoordelikhede sal eksponensieel groei hier by Seiwa, want ek sal nou verantwoordelik wees vir Organics saam met baie ander nuwe uitdagings. By ons kerk gaan dinge goed en ons het van tyd tot tyd nuwelinge. Hierdie week werk ons deur ons lentevakansie met studente wat nie klasse kon bywoon of hul toetse kon slaag nie. Studente getalle neem elke jaar toe en hierdie jaar sal ons ook weer ‘n redelike aantal ontvang. Ons besoekers uit Kalifornië het hul reis na Japan gekanselleer weens die coronavirus. Ons hier in Kochi was geseënd dat ons slegs 10-15 gevalle gehat het. Deur die genade van God gaan alles goed. Seëninge aan almal.

Gys, Linie, Johan en Linda

NUUS VAN DIE VAN DER WATTS

Kliek hier >