








Hulle was letterlik 36 jaar lank wagtend op ‘n pastor vir hulle sendingpos …
Maar in geloof het hul volhard, die handjievol Christene in die kusdorpie Shimizu (op die Suid-Westelike hoek van Shikoku-eiland).
Toe ek in Desember 2006 vir die eerste die groepie gelowiges se erediens bygewoon het, in ‘n vervalle ou huis, het ek nooit gedink ek sal hulle weer sien nie. Ek was immers toe net op (vakansie)besoek aan Carina se ouers in Japan. En ek was geensins van plan om weer terug te gaan nie. Maar hulle toewyding en geduld het my toe al opgeval, en bygebly. En ek het besef opnuut: minder is soms meer.
Toe, nou die dag, bevind ek my (uit eie keuse) wéér daar. Maar dié keer lyk dit gans anders. Met die opoffering en ruimhartige samewerking van hulle broers en susters van die RCJ se Ring van Shikoku (se ander 18 gemeentes en sendingposte) … en uit loutere genade … is ‘n nuwe kerk gebou, amper twee jaar gelede. Menslik gesproke was dit totaal ondenkbaar (in ‘n dorpie met net twee gemeentes en ongeveer 12 000 inwoners!) .
En toé ontvang hulle nóg genade op genade. ‘n Suid-Koreaanse sendelingpaar word geroep en gestuur na hulle amper-vergete dorpie. Na amper vier dowwe dekades, verskyn ‘n helder vlam van hoop. Op 29 April is ds. Chan bevestig, en saam met sy vrou hartlik verwelkom in die nederige kerkie op die hoek, langs die munisipaliteit.
Een van die Ring se kerkleiers, ds. Makita, spreek ‘n wyse woord by die bevestiging. Die gemeente waar hy dien (RCJ Yamada) het die roeping van ds. Chan help bewerkstellig. En ek sit ene ore, want sy woorde is diep en duidelik. Hy lees uit 2 Timoteus 4:1-2, en fokus op die frase “verkondig die Woord, tydig en ontydig”. In my eie roepingsverhaal vind die Woord helder weerklank, want dit het my ook 20 jaar gelede geïnspireer om teologie te gaan studeer.
In kort beklemtoon hy onder andere twee dinge in sy boodskap:
1. Daar word niks buitengewoon beplan i.t.v. uitreik-aksies of glansryke byeenkomste nie. Wees net daar en wees beskikbaar. God se Koninkryk oorstyg landsgrense. Juist daarom is ds. Chan se teenwoordigheid (as Suid-Koreaan) in Japan noemenswaardig. Hy is ‘n teken van God se versoening (tussen Japan en Suid-Korea).
2. Deel die Woord, eenvoudig en aanhoudend, tydig en ontydig. In geloof, met hoop, verwagtend. Die Here sal self die vrug bring. Hy is die Een wat (ons) roep en stuur.
Dis so eenvoudig. Minder is soms méér. Veral op die platteland van Shikoku. En my hart klop warm van dankbaarheid om van die gebeure te kon deel wees! Dié soort ervaringe verruil ek vir niks …
Stéphan