Mense wat waag ter wille van God se Koninkryk

Beste vriend/vriendin,

In die laaste 3 weke vandat ek ‘n nuusbrief in November geskryf het, het gedagtes rondom HOOP my nooit verlaat nie. Oral waar ek beweeg het, het gesprekke, nuusberigte en veral my stiltetye gedien as herinnerings hieraan. Dit was asof een refrein konstant herhaal is: “Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het.” (Hebr 10:23). By eergister se Missie Japan bestuursvergadering het oom (ds.) Giep Louw die opening hanteer uit Psalm 25. Daar staan o.a: “In U stel ek elke dag my verwagting. Dink aan die liefde en trou, Here, wat U van altyd af betoon het.” Na ‘n hele paar maande van daaglikse verwagting, het God ons weereens verras met Sy hoopvolle trou!

Mense wat waag ter wille van God se Koninkryk

Die 15 deelnemers aan die bestuursvergadering het uit verskillende streke en gemeentes gekom om biddend te vra: “Hoe vorentoe, Here?” Ons is diep bemoedig deur almal se heelhartige toewyding aan die saak van Missie Japan. Nadat ons verslag gedoen het oor die stand van sake na afloop van drie en ’n half maande se bekendstellingswerk, was dit tyd vir wyse en waagmoedige onderskeiding. Ons het sedert middel Augustus 62 gemeentes en baie ander individue en kleingroepe besoek. Die ondersteuning (gebed en finansieël) wat tot dusver gewerf is, het almal positief ingestel en die vergadering het eenstemmig besluit dat daar voortgegaan kan word met die uitstuurproses.

Dus, alhoewel daar nou eers ongeveer 60% van die vereiste bydraes ingekom het of belowe is, het almal met vertroue saamgestem dat God sal voorsien in die tyd wat volg – veral in die lig van baie gemeentes en talle individue wat nog hulle verbintenisse oorweeg. Net na afloop van die vergadering het ’n entoesiastiese gebedsondersteuner my gebel om te laat weet dat hy en sy vrou ook graag R2000 per maand wil bydra! Ons het middel Augustus begin met ’n afgetrede paartjie wat hulle gebede saam met R50/maand bygedra het, nou trek ons strate vooruit, en elke bydraer is ewe belangrik en nodig. Ons kan maar net sê: “Baie dankie!”

Die pad vorentoe

Ons program lyk vir die volgende paar maande soos volg:

  • 6-26 Desember – Vakansieverlof
  • Januarie 2009 – Aliwal-Noord bediening (trek 31 Jan uit pastorie)
  • Februarie 2009 – Langverlof vir bekendstellingswerk in OVS en Noord-Kaap
  • 1 Maart 2009 – Uitstuurdiens vanuit NGK Aliwal-Noord
  • Maart 2009 – Oos-en Suid-Kaap opvolgwerk, en rus
  • 8 April 2009 – Vertrek na Shikoku, Japan

Ander belangrike sake 

  • Vir meer besonderhede oor finansiële bydraes, lees hieronder.

Gebedsonderwerpe

  • Dankie sê vir God se trou wat deur die wysheid en geloofsmoed van Missie Japan se bestuur bevestig is.
  • Dankie sê vir Gys en Linda Olivier – die twee jong sendeling-onderwysers wat DV in April 2009 saam met ons in Shikoku sal begin, as deel van die Missie Japan span.
  • Vra vir kalmte en krag vir Carina se pa, ds. Tobie de Wet, wat Dinsdag ‘n groot oog operasie moet ondergaan in Tokushima, Japan.
  • Vra vir ondersteuning deur gemeentes en individue wat nog hul betrokkenheid oorweeg.

Mag God – Lig uit Lig – hierdie Kerstyd jou lewe opnuut verlig!

Vrede

Stéphan en Carina

 

Finansiële besonderhede van Missie Japan:

Rekening naam: Missie Japan           

Bank: ABSA

Takkode: 632005 

Rekening nr: 4049690248      

 Alle fondse word administreer deur die Getuieniskantoor van die NG Kerk Vrystaat.

  • Die kantoor se kontakbesonderhede is 051-406 6729 en getuienis@ngkerkovs.co.za
  • By ‘n inbetaling kan u asseblief u naam en van, asook die verwysing VDW byvoeg.
  • Indien u self ‘n debietorder ingestel het, stuur asb ‘n e-pos of faks aan die getuienis-kantoor om te sê van watter dag en maand af dit in werking tree.

Baie dankie vir u bereidheid om ons roeping ‘n realiteit te maak.

U is ‘n volwaardige medewerker wat saam met ons gestuur is na Japan.