Japan gaan groot met nuwejaar, veral as dit kom by poskaarte. Verlede jaar is 3.41 biljoen daarvan oor en weer gestuur om 2014 in te lui met goeie wense. Ons het ook vanjaar weer ons kwota uitgestuur. Hierdie keer het meeste van die kaartjies wat ons ontvang het, ‘n skaap prentjie op gehad, soos hierbo (skaap in Japannees = hitsuji 羊).
Die rede: 2015 is die jaar van die Skaap, oftewel die agtste teken van die 12-jaar siklus van diere. Dis nou volgens die Chinese kalender (sterre voorspelling), wat ook in Japan nagevolg word. Vir miljoene Japannese wat in hierdie agtste jaar gebore is beteken dit blykbaar dat daar groot geluk (lees: welvaart) wag. Vir miljoene ander vorm dit deel van die eindelose tapisserie van die “land van die duisend gode”, waarin skape opnuut opgehemel word as goddelike wesens. En vir nog ander: ‘n godsdienstige geleentheid om geld te maak, want skape pryk nou van klere- tot koffiewinkels en by ontelbare huise se voordeur versierings. En onder groot ekonomiese druk is dit nie te versmaai nie, want die “Abenomics” filosofie taan! Daarom is daar inderdaad baie wat gryp en soek na nuwe en sigbare “sekuriteite”.
Japannese mense is bekend daarvoor dat hulle maklik godsdienstige idees kan vermeng. Soos wat ek vroeër die week weer in ‘n nuwe ontmoeting by die tennisklub geleer het. Nadat ek myself voorgestel het, en ons deel wat ons doen van beroep, vra my mede-speler uit die bloute wat ek dink van die pous. Later noem hy verder dat hy baie ge-intereseerd is in godsdienstige sake. Hy besoek gereeld tempels en wonder veral oor engele. “Dink jy die Protestante en Katolieke dink dieselfde oor die engel Gabriel en Rafael?”, wil hy weet … en later, voor ons groet noem hy: “Ek glo dat alle godsdienste ge-integreer moet word om wêreldvrede te verseker.”
Die gesprek het my herinner aan die tipiese Japannese grondbeginsel van harmonie (wa = 和), wat geen ruimte maak vir absolute oortuigings nie, maar alles wil laat saamsmelt in ‘n wasige geheel, om almal in die groep tevrede te stel. Dis onder andere een van die hoof redes waarom die Christelike geloof (wat glo in Een Verlosser) baie moeilik wortel skiet in Japan.
Hoekom deel ek dit? Net om te vra: Wanneer jy as ondersteuner in 2015 aan ons dink en vir ons bid, onthou saam met ons die woorde van Jesus in Johannes 10 (v. 7 en 9) “Dít verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape… as iemand deur My ingaan, sal hy gered word.”
Bid opnuut saam met ons vir ons getuienis – as deel van 1% Christene in Japan –
oor die Goeie Herder wat sy lewe aflê vir sy skape.
- Dieper afhanklikheid van God: bly, biddend en dankbaar (2 Thes 5:16-18)
- Gesonde huwelik en gesin: met balans maar ook gasvry in diens van ander
- Vorming van ons kinders: as heel mense wat groei en leer in alle opsigte
- Vestiging van verdere vriendskappe: t.w.v. die bediening wat ons hier het
- Japannese taalstudie: toegewyd, doelgerig om konteks nog beter te verstaan
- Vestiging van wyer gebedsnetwerk: meer gereelde terugvoer en inligting

Kalahari Creativity!
Op die tuisskool front is ons gemotiveerd en gefokus om te groei en te geniet … Cornelius het onlangs sy eerste storie geskryf oor ‘n Kalahari leeu genaamd “Blueboy”.
Ramp herdenking
Dis amper 4 jaar sedert die verwoestende rampgebeure
in Japan.
Predikante en gemeenteleiers: hou asb. 5 minute oop in
Sondag 8 Maart se liturgie om dit meelewend te herdenk.
