Hoekom wêreldsending?

Hoe het die lente aangebreek rondom jou? Het jy al kans gehad om die nuwe lewe wat deurbreek te geniet?

 

Ek is regtig dankbaar vir ’n paar weke wat ons as gesin kon uitspan vir ons jaarlikse verlof by Takayama, ‘n unieke wegbreek-plek vir (meestal) sendelinge van oraloor. Ons kon ‘n goeie balans vind tussen rus op ons eie en gesellige gemeenskap tussendeur. Nou lê ‘n bedrywige nuwe seisoen voor ons deur en ons het reeds ingeval met vars ywer. September-maand bring verskeie opwindende en belangrike ontmoetings en bedienings-geleenthede. Jou gebede en ondersteuning is deurslaggewend, daarom deel ek meer detail hieronder.

 

Hoekom wêreldsending?

Die fokus van hierdie nuusflits is om meer te deel oor hoekom elke plaaslike gemeente bestaan nie net vir selfbehoud nie, maar vir deelname aan God se wêreldwye sending. Hierdie waarheid is verál relevant vir die NG Kerk wat haar gestuurdheid, nie net naby nie, maar ook ver, moet herontdek en bevestig.

 

Ons globale betrokkenheid bied vir ons die geleentheid om die diepte, diversiteit en skoonheid van mense en kulture in God se wêreld te waardeer, en om vir hulle tot seën te wees. Wêreldsending is nie net iets op die buiterand van sirkel van bedieninge wat aan ‘spesialiste’ oorgelaat word nie. Dit hoort in die kern van elke plaaslike gemeente, omdat dit die hart van God en die bestaansdoel van die kerk self verteenwoordig. Wêreldsending is nie iets wat sending-kommittees of getuienis aksie lede doen nie. Dis die kerk se DNA.

 

Miskien sny jou brein uit as jy die tipe goed hoor. Ek wil jou uitnooi om weer ‘n slag oopkop te dink oor hoekom jy deel is van ‘n plaaslike gemeente. In dié video vertel ek meer. Kyk dit gerus en deel dit — saam met die PDF teks — met die leiers in julle kerk.

nuwe sendelinge en ‘n wagtende nasie

 

Uit eie ervaring

As leraar van die NG Kerk, en voor dit as projekbestuurder by Communitas, het ek destyds die Vennootskap van Gestuurde Gemeentes in die vroeë 2000’s help vestig en dryf. Die vennootskap het jare later die leierskap aangespoor om die kerk se ekklesiologiese fondamente te herevalueer, en ‘n missionale fokus uit te bou (deur selfs die kerkorde hieroor te herformuleer). Ek dink dis ’n baie konstruktiewe ontwikkeling.

 

Een nadeel is egter dat dit gelei tot ’n oorbeklemtoning, en soms self ‘n totaal eensydige fokus op alle plaaslike bedieninge. Al het missio Dei-teologie (God se seding / gestuurdheid) die hele wêreld in sig, is die gesprek oor missionale kerkwees in dele van die Weste, insluitend Suid-Afrika, in sommige gevalle uitsluitlik gefokus op wat plaaslike gemeentes in hulle onmiddeliek omgewing doen.

 

Hierdie plaaslike fokus (ironies genoeg) ontkoppel die meeste NGK-gemeentes, en gesprekke oor missio Dei en missionale teologie in die breër kerkverband, van wêreldsending en van globale tendense rondom in die breër liggaam van Christus. My aanvoeling is dat daar meermale ’n behoorlike breër bewustheid ontbreek.

 

Ek het ’n lang lys redes hoekom ek oortuig is van die belangrikheid van wêreldsending. Kyk gerus dié video en gesels saam! Ons is immers medewerkers in God se koninkryk.

 

Vrede,

Stéphan (ook namens Carina en mede sending-vennote Tobie en Annalie de Wet)