(van links na regs en agter na voor):
Johan du Plessis (addisionele lid), Hannes Haggard, Victor Pillay (voorsitter),
Gideon van der Watt (sekretaris), Kobus Gerber (addisionele lid), Elsabé du Plessis,
Giep Louw, Annalie de Wet, Aldoret Fourie (OVS Getuieniskantoor), Johann Winterbach, Tobie de Wet.
Beste vriend/vriendin,
Dis lekker om die volgende belangrike en opwindende nuus met jou as ondersteuner te deel:
By ‘n vergadering van Missie Japan se dagbestuur (einde 2010) is daar amptelik besluit dat ons as gesin DV middel vanjaar Suid-Afrika sal besoek. Die brief hieronder van Gideon van der Watt (dr.), sekretaris van Missie Japan, vertel die storie agter dié besluit en heelwat meer oor wat die besoek kan behels…lees dit asseblief noukeurig deur.
Kliek ook hier indien jy ons nuutste gebedsflits wil lees en/of wil deel met ander…
Vrede,
Stephan, Carina, Annlie en Cornelius.
Liewe medewerkers
STEPHAN EN CARINA VAN DER WATT (EN GESIN) SE BESOEK
Stephan, Carina, Annlie en Cornelius kom na ‘n tydperk van meer as twee jaar diens in Japan vir ‘n paar maande terug na Suid Afrika. Die besoek sal strek van 4 Junie tot 19 Augustus 2011. Hulle kom vir ‘n welverdiende ruskansie en om bietjie by familie en vriende te kuier. Ons vertrou dat dit vir hulle aangenaam sal wees, terug in hulle bekende wêreld.
‘n Groot deel van hierdie besoek gaan egter ook bestaan uit deputasiewerk by gemeentes. Ons werk aan ‘n program waarin ‘n hele klomp gemeentes besoek sal word. Dit gaan vir hulle harde werk wees, maar dis iets waarna hulle baie uitsien. Om persoonlike kontak met ondersteuners te maak, is regtig belangrik en nodig. Ons weet dat gemeentes hulle graag ook met gasvryheid en liefde sal ontvang en opnuut sal versterk in hulle roeping, wat ook ons roeping is.
Wat is die doel met sulke besoeke aan gemeentes? In Handelinge 14: 24-29 lees ons byvoorbeeld hoe die gemeente Antiogië vir Paulus en Barnabas, die twee sendelinge wat hulle uitgestuur het, na ‘n lang reis terugontvang. Ons lees hoe die gemeente hulle gasvry ontvang en laat rus het, hoe die gemeente hulle kans gegee het om te vertel van die werk wat God deur hulle doen, hoe bly die gemeente daaroor was en hoe hulle die sendelinge en hulle werk in gebed aan die Here opgedra het. Paulus skryf dikwels in die Bybel hoe belangrik die ondersteuning van medewerkers is, hoe hy daarna verlang om hulle weer te sien. Ons hoop iets hiervan sal tydens Stephan en Carina-hulle se besoek waar word.
Met die besoeke wil ons dus graag die volgende bereik:
– Dat Stephan en Carina sal kan vertel van hulle werk en hulle lewe in Japan;
– dat daar weer persoonlike verhoudinge gebou word;
– dat ons as ondersteuners ons opnuut aan ons gesamentlike roeping in Japan sal verbind;
– dat ons vir ons sendelinge en hulle werk sal bid;
– dat ons hulle bietjie met ons gasvryheid en liefde sal bederf;
– dat ons inligting oor Missie Japan en ons funksionering sal ontvang, saam sal beplan en opnuut hande sal vat;
– en dat ons nuwe ondersteuners sal betrek by hierdie mooi werk.
Missie Japan se Dagbestuur wil mooi vra dat ons almal sal saamwerk om die besoeke so sinvol moontlik te maak. Stephan sal julle kontak met moontlike datums.
Maar dan kan ons nie nalaat om opnuut baie dankie te sê vir gemeentes en ‘n hele klomp individue se lojale ondersteuning nie. Dankie vir bydraes en gebede.
Ons is gedring deur die Here se liefde, ons kan nie anders nie.
Vrede en vreugde,
Gideon van der Watt
(Sekretaris)