Beste ondersteuners,
Soos jy sou agter kom – deur die gereelde nuusflitse van die afgelope tyd – het dit onlangs lekker bedrywig gegaan hier by ons. Gideon, Victor en Johann se besoek was regtig BAIE besonders! Daar is diep gesprekke gevoer oor vele aspekte van ons almal se toekoms. Baie vergaderings is gehou saam met ons Japannese broers en susters, en ingrypende besluite is geneem oor groot sake (waaroor daar lank gedink en gebid is die afgelope maande).
Baie dankie vir jou aandeel daarin! Sal jy asb. volhou om saam hieroor te bid?
Ek weet dat dit tydrowend is om e-pos te lees, maar ek hoop dat jy ‘n kansie sal maak om die belangrike opsomming van die pas afgelope besoek hieronder te lees. Dit kom vanuit die Getuieniskantoor (in Bloemfontein), wat al Missie Japan se werksaamhede koördineer en begelei. Gideon van der Watt (dr.) het dit saamgestel. Indien jy nog meer detail daaroor wil opspoor (in Engels), kliek hier.
Later die week deel ons weer ander nuus …
Vrede,
Stéphan, Carina, Annlie en Cornelius
Missie Japan
Posbus/PO Box 1399
Bloemfontein, 9300
Tel: 051 4066729
getuienis@ngkerkovs.co.za
Faks/Faxs: 086 502 0811
Liewe Medewerkers
BESOEK AAN JAPAN
Drie verteenwoordigers van Missie Japan, Victor Pillay, Johann Winterbach en Gideon van der Watt, het onlangs ‘n baie geseënde besoek aan die Shikoku Ring van die Reformed Church in Japan en aan ons sendelinge daar gebring. Die doel van die besoek was om die 60jarige herdenkinsgfees van die Ring by te woon, verhoudinge met ons vennote daar verder uit te bou, ons sendelinge pastoraal te ondersteun en saam praktiese beplanning te doen.
Die Ring se feesvieringe was ‘n hele belewenis – dit was veral besonders om die toewyding en die lojaliteit van die lidmate te beleef: in ‘n samelewing waar ‘n bitter klein persentasie mense Christene is (minder as 1%), is hulle is werklik lief vir hulle kerk, maak die kerk en die gemeenskap van gelowiges regtig vir hulle saak. Soos altyd is ons ook baie vriendelik deur die gemeentes daar ontvang. Ons kon saam met hulle aanbid en saam kuier. Victor het by drie geleenthede gepreek en sy getuienis gelewer oor hoe hy as Suid Afrikaanse Indiër van die Hindoe geloof tot Christus bekeer is. Johann het weer met ‘n klompie ringsleraars ‘n vrugbare gesprek gevoer oor gestuurde gemeente-wees.
Ons is bly om te kan berig dat dit met ons sendelinge in Shikoku goed gaan. Ons het saam met hulle gekuier, lang gesprekke gevoer, saam gebid en een Saterdag ook saam ‘n lekker Suid Afrikaanse braaivleis gehou. Dit bly nie maklik om in so ‘n vreemde land en kultuur, ver van jou geliefdes, te leef nie. Die persoonlike kontak met die sendelinge daar, die luister na hulle harte en die belewing van hulle omstandighede, is van baie groot waarde.
Gys en Linda Olivier
Gys en Linda werk as Engelse onderwysers by ‘n Christenskool in Koichi Stad. Hulle het goed aangepas in die skoolomgewing en geniet regtig hulle verblyf daar. Volgens Prof Makita, die plaaslike leraar, skakel hulle mooi in by die gemeente en het hulle gehelp om ‘n Bybelstudiegroep vir jong mense op die been te bring. By die skool word hulle optrede en bydrae opreg waardeer. Gys en Linda voel bevoorreg om daar te wees en dit lyk of hulle kontrak vir nog twee jaar verleng sal word.
Stéphan en Carina van der Watt
Ook met Stéphan-hulle gaan dit baie goed. Hulle woon in ‘n gerieflike huis. Almal is baie dankbaar dat klein Cornelius waarskynlik sy aanvanklike siekte ontgroei het. Klein Annlie is ‘n regte woelwater. Stéphan en Carina het inderdaad twee pragtige, intelligente kinders. Die huishouding en die kinders hou hulle besig; daar is nie die luukse van huishulpe nie. Maar hulle beplan mooi en maak genoeg tyd vir taalstudie. Carina vang haar ou Japannees weer op en Stéphan is besig om man en muis te verras met sy vinnige vordering in Japannees. Dit verg baie dissipline en deursettingsvermoë. Hy en Carina gaan nog vir ten minste ‘n jaar met taalstudies besig bly; daarna sal hulle geleidelik betrek word by allerlei bedieningsaktiwiteite – hoewel Stéphan eintlik al reeds al hoe meer uitgenooi word vir optredes. Daar is groot verwagting vir die bydrae wat Stéphan in die Reformed Chruch in Japan gaan maak, veral ook met sy akademiese agtergrond en -vermoë.
Tobie en Annalie de Wet
Die Ringsverteenwoordigers van die Reformed Church in Japan en veral die gemeentes waar Tobie en Annalie betrokke is, spreek oor en oor hulle groot waardering uit vir die mooi werk wat hulle daar doen. Dis duidelik dat hulle twee baie geliefde mense daar is. Hulle bedien tans drie gemeentetjies en beide van hulle word ook dikwels uitgenooi om op ander plekke te gaan optree, veral by geleenthede waar lidmate vir hulle getuienisroeping toegerus word. Hulle kennis en ervaring word regtig gebruik. Baie tyd gaan ook in vriendskapsevangelisasie in, en in Bybelstudies waaraan ook mense wat nog nie gelowig is nie, deelneem. Hierdie metode om so saam met die bestaande gemeentes te werk, blyk tog maar die beste te wees.
Tydens ons besoek daar moes ‘n baie moeilike besluit oor Tobie en Annalie se aftrede geneem word. Hy word volgende jaar 65. Natuurlik wil die kerk daar hê dat hulle veel langer aanbly. En Stéphan en Carina is daar (met hulle kinders)… Maar daar is ook aandrang dat hulle terugkom na die kinders en familie hier in Suid Afrika. Tobie hulle sou ook hier ‘n mooi bydrae tot Missie Japan kon lewer. Die doelwitte met hulle skuif na Shikoku is grootliks bereik. En, natuurlik verdien hulle ‘n eerbare demissie en aftrede! Uiteindelik het afvaardiging van Missie Japan besluit dat hulle tog maar aan die einde van volgende jaar (2011) sal terugkom Suid Afrika toe. Intussen is daar nog baie werk wat hulle daar kan doen; alles moet mooi afgesluit word.
Daar is ook besluit dat Tobie en Annalie teen die einde van vanjaar vir ongeveer drie maande terugkom, om te kom rus, maar ook te kom help met ‘n klompie streeksaamtrekke wat vir Missie Japan ondersteuners beplan word.
Besoekers
Daar is ook gesels oor ‘n hele klompie oor-en-weer-besoeke wat beplan word. Later vanjaar gaan Elsabé du Plessis (‘n dagbestuurslid van Missie Japan en verteenwoordiger van Hoopstad gemeente) en haar gesin daar kuier. Miwa san, ‘n pragtige jong dame van Tokushima gemeente kom weer Suid Afrika toe om hier ‘n kursus in Kinderbediening te loop. Hierdie oor en weer kontak bly ‘n belangrike werksaamheid van Missie Japan.
Ondersteuning
Missie Japan wil graag opnuut vir al die lojale ondersteuners baie dankie sê vir julle voorbidding en ondersteuning. Ons is opnuut oortuig daarvan dat hierdie die Here se werk is en dat ons baie bevoorreg is om daarvan deel te wees. Ons bid en hoop dat die groot deurbraak vir die evangelie in Japan op hande is. Soos iemand dit stel: in Japan, met al die aardbewings, bou jy baie langer aan die fondamente as aan die gebou self. Aan hierdie fondamente help hulle vir wie die Here na Japan gestuur het bou. En ons is so bevoorreg om hulle te bly ondersteun, met ons bydraes en ons gebede.
Vrede en vreugde
Gideon van der Watt (Sekretaris)