JLPT N3 – Certificate
Toe ek vandag oppad uit is om te gaan draf, lê die kaartjie in die posbus. Ek wis dadelik dis die uitslag, en roep vir Carina nader: “Moet ek dit nou oopmaak of as ek terugkom na die draf?” … “Maak dit nou oop dan kan jy dit afdraf”, was haar antwoord…bedoelende dat sy – net soos ek – nie verwag ek dat ek dit sou slaag nie. Niks pessimisties nie, ons was net realisties want dit was ‘n baie moeilike eksamen, wat ek in die eerste plek vir die ervaring geskryf het omdat dit een trappie bokant my huidige kennisvlak was (ek moes eintlik eers N4 geskryf het).
Sjoe! En toe sê die papiertjie dit: Ek het – met genade op genade – die N3 vlak van die JLPT (Japanese Language Proficiency Test) geslaag. Ek was regtig oorbluf van verbaasde blydskap en dankbaarheid … ek het regtig nie verwag om dit dié rondte al nie te maak nie, al het ek maande spesifiek daarvoor voorberei.
Die feit dat ek dit nou wel geslaag het beteken ‘n paar mooi dinge:
1. Die afgelope (ongeveer) 18 maande van intensiewe en gefokusde taalstudie is nou nie net sand in ‘n rivierbedding nie, maar vrugte aan ‘n boom.
2. ‘n Sterk fondament is gelê om nou stadig maar seker oor te beweeg van beginner-vlak na intermediêre-vlak van studie.
3. Ondersteuners kan saam feesvier oor ‘n konkrete stukkie vordering op die lang en steil bergpad waarop baie intensief saamgeloop het in gebed.
4. Die uitkoms van die eksamen beteken dat ek nou op ‘n meetbare manier die verworwe taalvaardighede sinvol kan aanwend en kan mik vir die volgende vlak: N2.
En laastens, soos iemand vir my in ‘n Skype-boodskap skryf hieroor:
“Mag dit vir jou net nog ‘n motivering wees dat jy op die regte plek is en dat God vir julle daar gebruik!” Ditto!