DRINGENDE GEBEDSVERSOEK VANAF RAMPGEBIED
Liewe gebedsvennote
Hiermee ‘n versoek om doelgerigte gebed vir ‘n spesifieke geleentheid:
Ons beplan om vanaf Woensdag tot Vrydag hierdie week ‘n unieke kinderkamp gereël deur ds. Tateishi van die Higashi-Sendai Gereformeerde Kerk by te woon en daaraan deel te hê. Tateishi sensei en sy gemeente neem die leiding met die hulpverlening
van die RCJ in ‘n streek met die naam Higashi-Matsushima en ‘n dorp genaamd Tona Town. Higashi-Matsushima is ‘n streek met skilderagtige natuurskoon en is ‘n gewilde toeriste-bestemming met baie klein eilande en baie dennebome. Tona Town
is ‘n klein vissersdorpie in daardie area. Die tsoenamie het egter die dorpie oorspoel en amper alles verwoes. ‘n Lidmaat van Higashi-Sendai-gemeente, wat in daardie streek woon, se huis is ook getref. Tateishi sensei het onmiddellik na die tsoenamie die lidmaat besoek en het begin met opruimwerk en herstel van haar huis. Terselfdertyd het hy ook by ander huise in die dorpie besoek afgelê en hulp met opruimwerk aangebied.
Aanvanklik was die mense huiwerig om sy aanbod te aanvaar, maar mettertyd het hulle gesien hoe ander mense gehelp word, en het hulle hom en die kerk begin vertrou. Gevolglik het meer en meer mense om hulp gevra. Sedertdien het Christen-vrywilligers vanoor die hele land asook die buiteland na Higashi-Sendai Gereformeerde Kerk gestroom om huise en tuine in Tona Town te help opruim. Tateishi sensei, sy gemeente en die vrywilligers het ‘n toonbeeld van ‘n ware gestuurde kerk geword met soek en uitreik en die aanspreek van die fisiese nood van die gemeenskap. Tateishi sensei en Higashi-Sendai Gereformeerde Kerk het bekendheid verwerf en in die streek ‘n baken van hoop vir baie geword, glo ek. Ons is bevoorreg om ook ‘n bietjie te help met die opruim van huise en tuine in Tona Town. Ek probeer ook om Tateishi sensei se pastorale las ‘n bietjie ligter te maak deur sy weeklikse bidure waar te neem.
Die gebedsfokus is die kinderkamp wat hierdie week van Woensdag tot Vrydag gehou word. Ongeveer 12 kinders van Tona Town, sowel as ongeveer dieselfde getal Christen-kinders van die Sendai-omgewing, sal dit bywoon. ‘n Groot groep vrywilligers sal hulp
verleen. Ek en Annalie sal ook daar wees. Ek sal die godsdiens Woensdag- en Donderdagaand waarneem. Ek is gevra om oor gebed te praat: wat gebed is, en hoe gebid moet word. Dit sal omtrent al “geestelike” bydrae tot die amptelike program wees. Die res gaan uit baie pret en speletjies bestaan met baie tyd om verhoudings te bou met hierdie getraumatiseerde kinders.
Ons versoek julle ernstige gebed vir die kamp, die program, die kinders, die vrywilligers, Tateishi sensei, en die langtermyn-invloed op hierdie kinders se lewens en dié van hulle gesinne. Vra asseblief ook vir God se beskerming.
Saam in Jesus Christus, ons Heer en Verlosser.
Tobie en Annalie
tokushima.church@mountain.ocn.ne.jp (Tobie) of annaliedewet1@gmail.com (Annalie)