Gebedsflits | Maart 2015

Beste Gebedsvriend,
Baie dankie dat vir jou 
ondersteuning as deel van Missie Japan se gebedsnetwerk.  
Hier volg ons huidige sake vir gebed. Deel dit asb. ook wyer met ander gebedsvriende.
Vrede en vreugde, in Christus.
Stephan en Carina  (saamgestel saam met Tobie en Annalie de Wet)

GEBEDSFOKUS: 
Die vierde herdenking (11 Maart) van die reuse rampgebeure in die Noord-Ooste van Japan.

Ons dink aan duisende mense wat nog steeds in tydelike wooneenhede bly, veral aan kinders wat steeds post-traumatiese stres beleef. Baie naasbestaandes treur steeds oor duisende slagoffers wat meegesleur is deur die geweldige tsunami. Gevare rondom radio-aktiewe bestraling a.g.v. die kernkrag ongeluk.
Ons bid vir die kerk en Christelike organisasies wat onverpoosd voortgaan om oor ‘n wye terrein diens te lewer, veral vir Sakura House en Nozomi Sentrum (waarby Missie Japan ook direk betrokke was).  Ons bid ook vir die voltydse werkers en deeltydse vrywilligers wat die mense (veral kinders) van die rampgebied bedien met Christelike liefde en sorg.
Meer hieroor volg in ‘n volgende nuusflits (ook t.w.v. die herdenking van die rampgebeure binne eredienste in gemeentes in SA, op Sondag 8 Maart)

DANK SAAM MET ONS DIE HERE VIR
Die kort maar baie sinvolle en geseënde besoek deur die Missie Japan afvaardiging na Japan. Hulle het ons (Van der Watts en Oliviers) bemoedig en versterk. Ons kon via die diep gevestigde verhoudinge met ons Japanese susters en broers, belangrike sake deeglik bespreek. Konkrete voorstelle word nou oorweeg rondom:

  • Ons skuif na die RCJ Kweekskool in die hawestad Kobe (DV moontlik voor einde 2015)
  • Die beplande besoek van ‘n groep (veral jong) Japannese predikante na SA in Mei 2015
  • Die uitgebreide betrokkenheid van die RCJ by diakonale werk in SA
  • Karen Strydom, aspirant sendeling wat met die besoek haar deeglik kon vergewis van die uitdagings in Japan, maar ook haar eie roepingsverhaal ens. hier kon deel
  • Die groeiende verhouding van wedersydse vertroue tussen die RCJ en Missie Japan

BID SAAM MET ONS IN AFHANKLIKHEID VIR…

Gideon van der Watt (sekretaris van Missie Japan), wat al vir meer as 2 maande terugkerende infeksies kry in sy linker arm na ‘n ernstige hondbyt-voorval. Hy kry steeds binne-aarse antiobiotika, en sal dalk weer ge-opereer moet word. Bid asb. saam vir sy volledige herstel, en vir diep rus te midde van ‘n groot werkslading.
Karen Strydom, wat teen einde Maart ‘n groot besluit moet neem rondom haar roeping na Japan (as jeugwerker) – in gesprek met die Here, NG Andrew Murray gemeente, vriende en familie. Bid asb. saam vir helder geestelike onderskeiding.
Gys, Linda en Linie Olivier ons sendeling-onderwysers by SEIWA Christenskool in Kochi stad op Shikoku eiland:
Vir hul werk en getuienis in die skool met baie jong meisies wat soekend is na Christus; vir hul Japannese taalstudie; asook vir die toelatingstoetse wat nou geskryf word deur nuwe leerders  (nuwe skooljaar begin in April), sodat ‘n sterk groep nuwelinge sal bykom.

Stephan en Carina se maand program (wat o.a. insluit):
Sondag 1 Mrt:
Stephan preek by RCJ Takamatsu-Higashi (vakante gemeente); Carina en Miwa doen Happy Kids by RCJ Tokushima
Donderdag 5 – Vrydag 6 Mrt:
Stephan gee klas in Pastorale sorg en berading by RCJ Kobe Kweekskool
Dinsdag 10 Mrt:
Stephan doen aanbieding oor Pastorale Sorg by RCJ Shikoku Ring Predikante-kring
Sondag 15 Mrt:
Carina en Miwa doen Happy Kids by Tokushima
Vrydag 20 – Saterdag 21 Mrt:
Stephan en Carina doen ‘n Huwelikseminaar met egpare (predikante en lidmate) van die RCJ Shikoku
Sondag 22 Mrt:
Stephan lei en preek by English Fellowship by RCJ Tokushima
Vrydag 27 – Saterdag 28 Mrt:
Shikoku Ring Kinderkamp waaraan Stephan ook deelneem (inhoud aanbied ens.)

Ander voorbereiding: Stephan moet ‘n aanbieding doen in Mei by ‘n byeenkoms van (ongeveer 200) vroue van die RCJ Ring van Tokyo omgewing. Vanuit ‘n pastorale oogpunt gaan dit o.a. oor wat hoop en betekenis kan gee binne die huidige RCJ konteks en vroue se kernrol hierin (vanaf Oktober 2015 kan vroue DV as predikante en ouderlinge bevestig word in die RCJ).

Tydens 'n uitstappie saam met ons Missie Japan vriende