Dank die Here asseblief saam met ons vir:
- ‘n Baie geseënde Kerstyd 2011 waartydens baie van ons nie-Christenvriende vir die eerste keer ooit kerk bygewoon het, en die kerk nie genoeg plek gehad het vir almal nie. Onthou ons gemeente het maar so 35 lidmate (dis gemiddeld vir Japanese kerke, in ‘n land met minder as 1% Christene).
- Daar was in Desember-maand ook ‘n spesiale Kers-erediens vir kinders. Dit was ‘n wonderlike geleentheid wat momentum verleen het aan o.a. Miwa Terauchi (wat SA in Sept-Nov 2010 vir kinderbedieningsopleiding besoek het) en ons eie insiatiewe, om ‘n kinderbediening te vestig en uit te bou (Happy Kids Tokushima genoem).
- Miwa het ook vroeër hierdie maand van haar onlangse ervaring en kundigheid met die res van die Shikoku RCJ lidmate, wat by die Sondagskool en ander kinder- bedieninge betrokke is, gedeel. Ons voel aan dat God besig is om nuwe moontlikhede in hierdie bedieningsveld oop te stel. Die afgelope Sondag (4 Mrt.) was daar weer, soos die vorige Sondag, 5 nie-Christen ma’s (ons vriendinne) en hul 6 kinders wat kom ondersoek instel het na wat ons doen by Happy Kids. Bid asb. dat hulle belangstelling uiteindelik sal oorgaan in ‘n verbintenis met God en die kerk.
- Lodewyk (ons seun wat nou 3 maande oud is), sowel as ‘n middeljarige dame (Miwako) in ons plaaslike gemeente, is ook op Kersdag gedoop. Die pad na Miwako se doop is ‘n lange verhaal van stryd en uitdagings wat uiteindelik tot haar besluit gelei het. Baie SA ondersteuners en lidmate van ons gemeente het hiervoor gebid. Ons juig oor hierdie wonderlike getuienis van God se trou. Ek hoop om meer in ‘n volgende nuusflits te vertel.
- Ons kon vroeg in Januarie tyd saam met Tobie and Annalie, voor hulle terugkeer na SA as (gedeeltelik)afgetredenes, deurbring. Ons is ontsettend dankbaar vir hulle wonderlike liefde, ondersteuning, leiding, toegewyde bediening van bykans 20 jaar, en so veel meer … en ons mis hulle hier … maar ons is terselfdertyd saam met hulle opgewonde oor hulle terugkeer na hulle geboorteland. Bid asb. vir hulle vir vrede en krag op hierdie nuwe paadjie, en ook vir wanneer hulle weer DV sal terugkeer na Japan vir ondersteuningswerk in die Sendai-rampgebied, moontlik Aug-Okt.
- Lodewyk is gesond en groei teen ‘n baie konstante pas (en die res van ons geniet hom!) … duidelik is dit ‘n vermoeiende tydperk (veral vir Carina wat hom baie gereeld voed), maar ons harte is warm met groot dankbaarheid en vreugde.
- ‘n Geseënde interkerklike aanbiddings-geleentheid op Saterdag Feb. 4 – spesifiek bedoel vir jonger mense. Hierdie soort geleenthede is nie so algemeen in Japan nie, en ons is veral dankbaar vir ons predikant, Kei Kataoka, en Miwa se verbintenis in die proses om verhoudings oor kerkgrense heen te bou.
- ‘n Baie betekenisvolle en geseënde verloop van die besoek van ‘n dinamiese Japanese afvaardiging na Suid-Afrika – 24 Feb. tot 7 Maart. Meer inligting en fotos is beskikbaar by
Bid asb. vir God se leiding in die volgende gebeure in Maart:
- Verskeie vergaderings met RCJ-kollegas in Shikoku-eiland, wat vertrouensverhoudings versterk en ons leer oor die konteks en kultuur van ons toekomstige bediening.
- Motivering, fokus en dissipline met ons voortgaande Japanese taalstudie – veral spesifiek vir voorbereiding vir ‘n taalvaardigheidstoets (JLPT N2 level) in Desember 2012 (Stephan).
- Carina vir effektiewe tydsbestuur, wysheid en hope energie met die hoofverantwoordelikheid van Annlie en Cornelius se (pre-kleuterskool) tuisonderrig-leerplan. Dit is in Engels, die derde taal wat ons kinders tegelykertyd saam met Afrikaans en Japanees leer. ‘n Unieke uitdaging!
- Stephan se voorbereidings vir sy preke, so wel as seminare oor familie-gerigte bedieninge, wat hy tussen Maart en Desember in 19 verskillende RCJ-gemeentes in Shikoku-eiland moet aanbied (als in Japannees). Sy eerste preek is eerskomende Sondag 11 Maart in ons tuisgemeente in Tokushima. Hy bring ook op 23 Maart ‘n boodskap aan laer-en hoërskoolkinders by die ring van Shikoku-eiland se (lente) jeugkamp.
- Christen onderwysers wat in Tokushima kom skoolgee (o.a. van Amerika en Engelend) is ook al ‘n paar maande aktief deel van ons gemeente. Die behoefte het ontstaan aan ‘n Engelse Bybelstudie-geleentheid, buiten ons Japannese geleentheid op Donderdae aande. Ons het einde Febr. daarmee begin. Dit was baie besonders, bid asb. dat dit ook sal groei.
- Gys en Linda Olivier, ons mede-sendelinge, en onderwysers by SEIWA Christen Meisieskool in Kochi stad, vir hulle groot taak as mentors en leiers vir talle jong meisies, en vir die eise wat hulle werk aan hulle stel.
- Die fisiese en geestelike nood van mense geraak deur die drievoudige ramp van Maart 2011 bly baie groot. Bid dat die evangelie sal versprei en die ware vertroosting vir baie in die Tohoku-streek sal word. Een sentrum – gekoördineer deur die RCJ Higashi-Sendai – was al betrokke by verskeie belangrike hulplenigingspogings in die streek. Die ander een in Yamamoto-cho sal met hulpleniging in hierdie lente (vanaf Maart) begin, wanneer ‘n gebou vir die doel herstel en ingeruim sal word. Beide sentra sal vir minstens nog 24-30 maande met hulle pogings voortgaan. Die werk word gekoördineer deur ‘n speasiale Sendingkoalisie, wat bestaan uit die ‘Christian Reformed Church in North America’ (CRCNA), die ‘Orthodox Presbyterian Church in America’ (OPC), die Presbiteriaanse Kerk in Korea (KOSHIN), die Nederduits Gereformeerde Kerkverband in Suid-Afrika (en ander Missie Japan-ondersteuners), so wel as ander Gerformeerde Kerke, en natuurlik die plaaslike ‘Reformed Church in Japan’ (RCJ).
Baie dankie vir jou gebedsondersteuning
Vrede
Stephan, Carina, Annlie, Cornelius en Lodewyk