Gebedsflits | 1 Nov 2011

Annlie en Cornelius by Nobuo in die hospitaal

Beste vriend/vriendin ,

Eerder laat as nooit … só is dit nou met hierdie gebedsflits. Die afgelope maand is my werk herhaaldelik onderbreek a.g.v. rekenaar-probleme, maar dis nou uitgesorteer. As ek dalk nie gereageer op ‘n dringende e-pos nie, laat weet asb. weer indien moontlik. Jammer vir die vertraging! Ek stuur intussen hierdie gebedsflits voordat ek binnekort (uiteindelik!) meer vertel oor die afgelope tyd se doen en late … dit is nou ás ons derdeling(seun) nie dalk intussen vroeër as verwag sy verskyning maak nie …

Gebede wat bemoedig

Dankie vir elkeen wat getrou bly bid vir Nobuo (Terauchi) – dit maak ‘n verskil! Sy suster Miwa het onlangs ‘n kort briefie geskryf oor sy merkwaardige herstel sedert sy ernstige beroerte vroeg in Julie vanjaar: “Thank you so much for your prayers for my brother. He is really recovering and now he can walk really well without stick, even outside he can walk independently. And he can come to church every Sunday. He can speak much easier now. He still needs training for his word and hand. If you could pray for him it will be great.”

Buiten die gebedsversoek vir Nobuo wil ons graag die volgende noodsaaklike gebedspunte ook met jou deel, en vra om saam te bid …

 Persoonlik:

  • Bid asb. saam met ons vir Carina en die ongebore baba se gesondheid in hierdie laaste dae van haar swangerskap (moontlik nog drie weke oor). Sy dra alreeds swaar, maar dit gaan goed. Die hospitaalopset is ‘n taamlike uitdaging m.b.t. die Japanese manier van geboorte-hantering, so wel as die taalgaping ens.
  • Annlie en Cornelius vaar heel goed met hulle inskakeling by die kleuterskool  – ‘n paar uur op Dinsdae en Woensdae. Dit is nogal iets wat `n gesonde balans in ons weeklikse roetine meebring. Ons is dankbaar vir die voorreg.
  • Stephan se Japannese taalstudie (en Carina s`n) vorder goed, maar vereis toegewyde volharding, fokus en toenemende insig. Dit hou ons daagliks pal besig. Stephan se bedieningsverpligtinge (preke, besoeke aan verskeie gemeentes ens.) neem vanaf Maart 2012 amptelik aanvang, dus sal die volgende paar maande met belangrike voorbereidings gepaard gaan.
  • Carina is ook by ons plaaslike (RCJ Tokushima) gemeente se kleuterbediening (Tokushima Happy Kids) betrokke, en sy en Miwa doen baie moeite met die afskop van hierdie nuwe onderneming. Intussen is Carina se aanbieding van Engelse klasse tot vroeg volgende jaar onderbreek t.w.v. die baba se geboorte.
  • Tobie sukkel al die afgelope twee weke om ontslae te raak van ‘n sinus-/griepvirus. Hy en Annalie het ‘n baie vermoeiende tyd van ondersteunende bediening in die Sendai-gebied gehad, en die laaste twee maande wat oorbly is ook volgepak. Bid asb. vir hulle emosioneel-geestelike en liggaamlike gesondheid.
  • Bid asb. vir Gys en Linda Olivier – ons kollegas – vir volgehoue energie in hulle daaglikse onderrigprogram en buitemuurse aktiwiteite saam met hulle leerlinge en mede-onderwysers (in Seiwa Christenskool in Kochi).

 Bediening:

  • Doen asb. steeds voorbidding vir die klein RCJ gemeentes – veral vir hulle leraars en leiers – wat steeds uitreik na die getraumatiseerde mense van die Sendai-rampgebied. Vele vrywilligers het ook gebedsondersteuning nodig in hulle pogings om die plaaslike mense fisies te help om hulle huise te herbou, sodat hulle hulle eie lewens in orde kan kry.
  • Die daarstelling van ‘n beradingsentrum is ‘n voortgaande proses. Die sentrum sal beradingsdienste bied vir mense wat hulp soek om hulle trauma te verwerk, en verblyf verskaf aan vrywilligers wat in die streek werksaam is. Missie Japan se betrokkenheid gaan voort. In samewerking met die Christelik-Gereformeerde kerk van Noord-Amerika (CRCNA), die Gereformeerde Kerk in Japan (RCJ), die Koshin Presbiteriaanse Kerk van Korea, en die Ortodokse Presbiteriaanse Japan-Sending maak ons (en jy as ondersteuner) bydraes ten einde ‘n Christen-sorgsentrum in Yamamoto-cho in Sendai te vestig. Verder bly die RCJ-gemeente van Higashi-Sendai se koördinering van die vrywillgers van regoor die wêreld, ‘n fokuspunt waarby Missie Japan waarskynlik ook op die langtermyn betrokke by sal bly.
  • Dr. Gideon van der Watt (sekretaris van Missie Japan) en Ds. Victor Pillay (voorsitter van Missie Japan) besoek ons in Tokushima volgende week (vanaf 5-13 Nov.). Hulle kom om baie belangrike sake te bespreek met die plaaslike RCJ verteenwoordigers van die Shikoku-ring. Hulle sal ook self (saam met Tobie) die Sendai-rampgebied besoek en Missie Japan se huidige en toekomstige betrokkenheid (moontlik ook deur die De Wets) daar in-diepte deur gesels. Verder sal hulle ook amptelik deel vorm van Tobie en Annalie se afskeidsfunksie, en o.a. ook belangrike gesprekke met plaaslike kerkleiers voer oor ons (as Van der Watt-gesin se) toekomstige bediening ens. Bid asb. vir wysheid en leiding met hulle reise, verhoudings met plaaslike kerkleiers, en vergaderings.
  • In ons plaaslike RCJ gemeente in Tokushima het drie mammas met hulle kleuters onlangs begin om ons eredienste by te woon. Hulle kom vanuit ‘n Shintoïstiese/Boedistiese agtergrond en dit is hulle eerste ondervinding van ‘n kerkomgewing, eerste kontak met Bybelse inhoud, kinderbediening ens. Een dame het die afgelope ses maande getrou dienste bygewoon. Bid saam met ons vir God se leiding, en vir oop harte terwyl die saad van die evangelie in hulle lewe gesaai word (Rom. 10:14 – “En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie?) hierdie is en bly God se werk, en ons is bevoorreg om daaraan deel te hê.
  • Tobie en Annalie besoek Fukuoka en Hiroshima omgewings vanaf 29 Okt – 3 Nov vir opvolg-bediening. Hulle sal beslis ‘n nuwe inspuiting van energie nodig hê om hulle laaste verpligtinge – voor hulle terugkeer na SA aan die einde van 2011 – te voltooi. Hou asb aan met bid vir hulle vir krag, asook vir God se vertroosting in hierdie moeilike tyd van afskeid neem na `n totaal van amper 20 jaar in Japan.
  • Tobie het die voorreg gehad om die (66ste) RCJ Algemene Sinode verlede week in Tokyo, toe te spreek. By hierdie geleentheid is amptelike waardering en lof vir sy en Annalie se langtermyn toewyding, asook vir hulle opofferende korter termyn betrokkenheid in die Sendai-rampgebied, uitgespreek. Dit was wonderlik om te beleef, maar tegelykertyd ook baie emosioneel, lees hartseer en nostalgies. Dr. Pieter van Jaarsveld (moderator van die Vrystaatse Sinode van die NGK) se bemoedigende teenwoordigheid en sensitiewe betrokkenheid by Japannese kollegas, het ‘n besondere ondersteunende uitwerking gehad op ons as sendelinge. Hy het vir ‘n paar dae by ons besoek afgelê en ons is dankbaar dat hy ‘n sleutelrolspeler en betroubare verteenwoordiger van Missie Japan in albei kontekste (SA en Japan) is.

Baie dankie vir jou volgehoue ondersteuning, dit dra ons!

Stephan, Carina, Annlie en Cornelius

(ook namens Tobie en Annalie en Gys en Linda)