Beste vriend/vriendin,
Ek vermoed jy ken die gevoel wat jy kry as jy heeljaar lank jou bes gegee het, en dit word vroeg Desember, met jou einde-van-die-jaar verlof voor die deur. Jy’s poot-uit en opgewonde tegelyk … en jy het al jou eerste “dip” in die see gemaak in jou verbeelding! Nou ja, so voel ons nou: die enigste verskil is, dis Augustus, maar ons eenmaal-‘n-jaar somervakansie is om die draai.
Maar voor ons vertrek, net eers ‘n paar belangrike sake om te deel.
Wat onlangs verby is…
Verlede week het ons as gesin, saam met van die ring van Shikoku se RCJ gemeentes se kinders, ‘n baie geseënde kinderkamp beleef. Speel-speel het ons saam meer rondom die tema “Wat beteken die kruis van Jesus?” geleer. Ons is veral dankbaar vir die spesiale tyd wat ons eie kinders ook deurleef het.
Carina het nou die dag ‘n kort artikel geskryf vir ‘n akademiese tydskrif Bilingual Japan, wat hoofsaaklik gelees word deur lede van die Japan Association for Language Teachers. Dit gaan oor haar ervaring as tuis-skool ma van 3 kinders wat tegelyk 3 tale aanleer, en is daarom getiteld, Trilingualism in Tokushima. Lees dit gerus deur na hierdie skakel te gaan:
http://www.missiejapan.co.za/sendelinge/trilingualism-in-tokushima-by-carina-july-2013/


Wat binnekort aan die kom is …
Daar is heelwat opwindende verwikkelingewaaroor Missie Japan se sekretaris, Gideon Van der Watt (dr.) skryf; o.a. oor die doel van die opkomende besoek van Carina se ouers, Tobie (ds.) en Annalie de Wet aan Japan (vanaf September); asook oor die dinamiese uitreik-groep van ons amptelike susterkerk, die Christian Reformed Church in Japan (RCJ), wat oor minder as 2 weke oppad is na Suid-Afrika. Ondersteun en bid asb. saamdat hierdie twee baie spesiale en geseënde besoeke sal wees. Lees asseblief Gideon se hele brief hier:
http://www.missiejapan.co.za/algemeen/nuus-vanuit-die-missie-japan-kantoor-in-sa-1-aug-2013/


Mag dit – soos altyd – wéér so wees dat die Japannese nie sal kan ophou gesels oor die warm harte en die oop hande waarmee hulle orals deur hulle Suid-Afrikaanse broers en susters ontvang is nie. Hoekomkom die groep al die pad uit die Verre Ooste? Wat is die doel van die besoek? En uit wiebestaan die groep? Besoek hierdie skakel vir die volle storie (o.a. vertel deur groepleier, Ds. Takayuki
Ashida) en om fotos van die groeplede te sien: http://www.missiejapan.co.za/bedieningsfokus/rcj-group-outreach-to-south-africa-august-2013/
Prof. Daniël Louw besoek Japan in September. Hy is wyd bekend vir dekades se reusewerk in die veld van onderrig in Pastorale Teologie (hoofsaaklik deur die Kweekskool by Stellenbosch Universiteit). Ek het ontsettend baie by hom geleer die afgelope 15 jaar plus … hy kom o.a. lesings aanbied by die Kobe Reformed Theological School, waar ek as vertaler sal betrokke wees. Natuurlik is ek baie opgewonde oor hierdie voorreg en vooruitsig …
Die ander rede vir Prof. Louw se besoek is om as gasspreker, en president van die ICPCC (http://www.icpcc.net/ ), deel te neem aan ‘n internasionale konferensie oor Pastorale Sorg in Sendai. Hierdie konferensie gaan o.a. oor geestelike sorg (vanuit verskillende godsdienstige perspektiewe) na afloop van die drie-voudige rampgebeure in die Sendai gebied. Ek is ook, as lid van die uitvoerende kommittee, baie betrokke by die organisering van die konferensie, genaamd Asia-Pacific Congress on Pastoral Care and Counseling (14 – 20 September)– https://sites.google.com/site/apcpcc201309/e

Ek sal DV weer einde Sept se kant meer hieroor kan deel …
Baie dankie vir jou ondersteuning!
Vrede en vreugde,
Stéphan, Carina, Annlie, Cornelius en Lodewyk
Sake vir Gebed
- Oom Neil Verwey (van Japan Sending) wat meer as 60 jaar in Japan getuieniswerk gedoen het, is gister oorlede. Bid asb. saam vir sy naaste familie in die tyd van afskeid. Ons loof die Here vir sy groot toewyding en liefdevolle uitreik hier, en veel verder.
- Ons ongebore babaseun is gediagnoseer met ‘n onreëlmatige hartprobleem genaamd PAC (premature atrial contraction). Dit bring natuurlik onsekerheid en besorgheid in ons harte. Bid asb. vir Carina veral wat ook die eise van die swangerskap in erge hitte moet dra t.m.v. hierdie wete. Ons word gedra en bemoedig deur baie gebedsondersteuners, en ervaar die Here se troue liefde hierin.
- Bid asb. vir die De Wets se besoek aan Japan (waarvoor ons ook persoonlik baie dankbaar is, want hulle kom ook om ons te ondersteun in die tyd van die nuwe baba se koms); asook vir die RCJ uitreikgroep na SA – vir almal van hulle se voorbereidings, reise, getuieniswerk ens.