Vure te midde van tsunami-vloedwaters
Beste ondersteuners van Missie Japan,
1) Die RCJ Sinodale Diakonale Kommissie het ’n spesiale Komitee en Hoofkwartiere geloods om alle fondse te administreer en noodleniging te hanteer. Hierdie kommissie bestaan uit verskeie kundiges wat aktief betrokke was by ’n soortgelyke inisiatief wat in 1995 daar gestel is om noodleniging met die Groot Kobe Aardbewing te hanteer.
2) Die komitee het ’n noodleniging-fonds opgerig waarheen alle donasies gestuur kan word.
3) Ds. Larry Spalink, sendeling van die Christian Reformed Church van Noord-Amerika hanteer die Engelse vertaling en deurgee van besluite en inligting.
4) Die kommissie het ’n afvaardiging gestuur om onmiddelik in die rampgebied samesprekings te voer en sal so gou moontlik ’n verdere konkrete program van aksie bekend stel. Besoeke aan die rampgebied word tans bemoeilik a.g.v. verwoeste paaie en toegangsroetes, geen openbare vervoerstelsel na die rampgebied nie, geen/min brandstof beskibaar langs die pad nie, streng beheer deur die polisie en spesiale permitte wat benodig word vir vrywilligers wat wil help, geen slaap- en blyplek nie, ens.
5) Die moderator van die RCJ se Nasionale Sinode woon en werk in die rampgebied en is ook die voorsitter van ’n inter-kerklike kommittee wat in die rampgebied reeds besig is om die gemeenskap by te staan, pastoraal te versorg en noodleniging te doen.
6) Die RCJ se noodleniging en aanweding van fondse sal nie net RCJ lidmate nie, maar die hele gemeenskap insluit.
7) Op die korttermyn word die onmiddelike nood van gemeentelede en mense in ontvlugtings-oorde aangespreek.
8) Op langtermyn sal die kerk wil/moet help met die fisiese herstel en opbou van die huise en lewens van lidmate en andere, uit die aard van die saak ’n projek waarvoor groot geld benodig word.
9) Onsself as sendelinge van Missie Japan ken die lede van die kommissie baie goed, is voortdurend in direkte verbinding met mekaar. Ons het aangebied om saam met ander leiers die rampgebied te gaan besoek indien hulle dit so verlang.
10) Die RCJ is bewus van en daar is groot waardering vir die landwye bekendmaking (in Japan) van die RCJ se werk in hierdie krisis tyd en die oorweldigende reaksie uit en meelewing van die kerk en mense van Suid-Afrika (en baie ander lande).
Baie dankie dat julle as ondersteuners ons as sendelinge se hande help sterk maak om saam met die RCJ direk betrokke te raak by die ramp-hulpverlening.
Stephan en gesin (namens Tobie en Annalie de Wet wat die bg. lys saamgestel het)