DIE REËNBOOG

Beste ondersteuners,

Net ‘n kort briefie om te laat weet hoe ons aankoms in Japan verloop …

‘n Besonder gasvrye ontvangs!

Na ‘n uitputtende vlug (wat Woensdag-oggend 8 April uit Kaapstad vertrek het), het ons verlede Vrydag middagtyd veilig hier in Tokushima (op die eiland Shikoku) aangekom. ‘n Klein groepie gemeentelede het ons baie hartlik ontvang nadat 3 van hulle ons by die lughawe in Osaka opgelaai het. Daar is ons ook verras die Greeff-familie (sendeling onderwysers in dié stad) wat ons spesiaal kom verwelkom het.  Ons eerste treë in Japan op Goeie Vrydag was veral betekenisvol, en ‘n hoogtepunt tot dusver was beslis die nagmaalsviering op Paas-Sondag saam met ons nuwe Christen-familie hier. Almal wat die erediens bygewoon het, het ons met warmte omarm en ons behoorlik tuis laat voel deur lekker saam te eet, sing en kuier ná die tyd!

Daar is natuurlik baie dinge wat opvallend anders is in Japan, en wat ek graag sal wil beskryf sodat jy ook ons leefwêreld beter kan verstaan…ongelukkig ontbreek die tyd om dit nou te doen, maar ek sal beslis in die volgende paar nuusbriewe moeite maak om dit wat ek reeds aangeteken het, te omskryf.

Bevestig om te dien in Shikoku

Vroeër dié week was ons deel van ‘n vergadering van die ringsgemeentes van Shikoku. ‘n Deel van die vergadering was my amptelike bevestiging as sendeling-predikant in die ring van Shikoku (hier is 19 gemeentes en sendingposte). Ons (ek, Carina en Annlie) is baie dankbaar en voel klein voor hierdie groot roeping. Gedurende die volgende twee jaar is ons as gesin se eerste taak om Japannees so goed as moontlik aan te leer terwyl ons die kultuur en kerk-omgewing in die ring terselfdertyd leer ken. Die bou van verhoudinge met plaaslike kerkleiers is daarom ook baie belangrik. Ná twee jaar sal die RCJ ons evalueer en besluit oor ons uitplasing na ‘n spesifieke gemeente.

Ons nuwe tuiste en wat voorlê

Verder, met die intrekproses in ons nuwe huis gaan alles baie goed. Dinsdag het ons vraghouer met goedere veilig en stiptelik (tipies Japan) aangeland, en kon ons begin uitpak. Dit gaan nog ‘n tydjie neem want ons is ook nog besig om te herstel van die lang reis en die aanpassing van ons liggame by die tydsone van Japan (7 ure voor SA). Ons is baie bevoorreg om intussen by Carina se ouers te kan woon…dit maak die aanpassing baie makliker! Ons was ook totaal oorweldig deur die wyse waarop Tokushima gemeente ons huis vir ons gereed gemaak het: baie veranderings binne die huis is spesiaal vir ons aangebring, wat dit wonderlik leef-vriendelik maak. Hulle is ook nog besig om ons internet verbindings ens. aan te lê, wees daarom maar asb. geduldig as ons nie dadelik kan reageer nie. Nog heelwat ander adminstratiewe en praktiese sake sal binne die volgende week of twee hanteer word.

Gisteraand het ek en Carina saam met haar ouers en ‘n paar gemeentelede ‘n baie verrykende (weeklikse) Bybelstudie geleentheid bygewoon (al kon ons nie alles verstaan nie). Tydens die naweek wat voorlê gaan ons o.a. na Kochi om daar ‘n mini-reünie van die Japanese toergroep wat onlangs in SA was, by te woon. Volgende week begin ons taalstudie program amptelik saam met ons onderwyser, en volgende Sondag kry ek die eerste keer geleentheid om te preek en my roepingsverhaal te deel (via pa Tobie as tolk) hier in Tokushima gemeente…die wiele is aan die rol!

’n Paar foto’s en ‘n reënboog

  • Om ‘n paar foto’s van ons verwelkoming by die RCJ Tokushima te sien, kliek hier: http://www6.ocn.ne.jp/~nkktk/photo_e.htm
  • Lees gerus ook hier onder ‘n baie besondere stukkie wat pa Tobie geskryf het oor die simboliek van die reënboog vir ons en Missie Japan.

Bid asb. saam met ons deur…

  • Dankie te sê vir alle praktiese reëlings wat tot dusver in plek is vir ons vestiging, en die gasvrye en warm ontvangs van ons mede-Christene hier.
  • Dankie te sê vir ons ongebore baba (nou 32 weke) en vra vir krag vir Carina in die swangerskap.
  • Vir ons, sowel as Gys en Linda Olivier (sendeling-onderwysers van Missie Japan), se aanpassing in Japan.
  • Vra vir volharding en dissipline in die taalstudie wat nou amptelik hier begin.
  • Vra vir ondersteuning deur gemeentes en individue wat nog hul betrokkenheid oorweeg.

Baie dankie dat jy vir Missie Japan by die Here intree!

Vrede

Stéphan en Carina

 

 DIE REËNBOOG

 

Die reënboog het vir Missie Japan spesiale betekenis verkry sedert ons besluit het om met ons missie met die RCJ op Shikoku-eiland voort te gaan, deur ons betrokkenheid te verdiep en minstens nog een sendelingpaar uit te stuur met al die moeite, opofferings en onkoste wat dit sou meebring.

Dit het gebeur rondom die tyd toe Missie Japan-amptenare gemeentes besoek het om die nuwe uitdaging en verbintenis met hulle te deel, dat God hulle die pragtige reënboog in die lug gewys het.  En weer ná die Missie Japan-vergadering in Maart, toe alles in samewerking met die RCJ-afvaardiging in Bloemfontein gefinaliseer is, en Stéphan en Carina van der Watt uitgestuur sou word as nuwe sendelinge na Japan, het die reënboog nogmaals in die hemel bokant Bloemfontein verskyn!

En nou wéér, net toe ons  wou begin met ons RCJ ringsvergadering hier in Tokushima op Dinsdag 14 April, toe is my Skriflesing vir die oggend die storie van Noag en God se reënboog.

Die kernteks was Gen. 8:1 “En toe het God gedink aan Noag …”

Noag het nie geweet wat sou gebeur as hy, in geloof, God se bevel om die ark te bou, sou gehoorsaam nie, selfs wanneer mense sou dink dat hy besig was om ‘n dom ding te doen … Toe dinge begin gebeur soos God voorspel het, was Noag seker baie verlig en opgewonde … Maar toe het die reën nie ophou val nie, en Noag en sy klein familietjie was baie alleen op ‘n klein skippie op die hoë waters, en meteens het hulle bra afgesonder, eensaam, onseker en angstig gevoel …

En toe het God gedink aan Noag …” Dit was eerstens God wat hom en sy familie genadig was.  God in Sy Oppermagtige Genade het besluit om hulle te red en hulle oor die waters na ‘n nuwe land en ‘n nuwe begin te stuur.  God het ‘n plan vir hulle gehad.  God was in beheer van beide hulle lewens en al die magte rondom hulle.  Op Sy tyd het die waters opgedroog, en Noag en sy klein familie het die bodem van ‘n nuwe wêreld betree.  Hulle het ‘n nuwe lewe en rol as God se verteenwoordigers en dienaars begin.  God het hulle geseën  (Gen. 9:1), Hy het hulle ‘n opdrag gegee (Gen. 9:1  “…Wees vrugbaar en word baie ………), Hy het hulle gesag/mag gegee (Gen.9:2), Hy het in hulle behoeftes voorsien (Gen.9:3) en toe gee Hy hulle die REëNBOOG met die belofte/versekering van Sy GETROUHEID, Sy heerskappy en beheer, Sy beskerming, Sy liefde ens.

Ek glo God het met ons by Missie Japan gepraat, en praat nog met ons as sy sendelinge en veral met Stephan, Carina en Annlie, soos wat hulle hier in Japan op Goeie Vrydag / oor Paastyd gearriveer het, beveel en gestuur deur God, soos wat hulle Sy roeping in geloof alleen gehoorsaam het (al is daar dalk diegene wat dink dat hulle baie dwaas is!), om hier ‘n nuwe lewe en bediening in ‘n nuwe land met al die onsekerhede en uitdagings te begin . “Julle is in My hart.  Ek hou julle daar.  Ek het julle nie vergeet nie.  Ek het ‘n plan met en ‘n doel vir julle.  Ek sorg vir julle ens. Kyk net na die reënboog”

Wat het Noag en sy familie gedoen?  Hulle het onmiddellik ‘n altaar vir die Here gebou, en brandoffers gebring, aanneemlik vir die Here (Gen. 8:20-21). ‘n Altaar is waar hulle die Here ontmoet het, waar hulle Hom erken het, Hom aanbid het, Hom geloof en gedank het, hulle voor Hom verootmoedig en aan hulleself aan Hom oorgegee het.  Dit is wat ons reaksie behoort te wees, en inderdaad ook is …